Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Om straf op te lê – hier is drie verhale
Johann van der Westhuizen: Rassehaat. Gru-moord. Simpatie?

In Amerika is rassehaat op loop.

Reeds weke lank word gevra of die jong man wat ses vroue van Asiatiese herkoms in masseersalonne doodgeskiet het, ’n hate crime gepleeg het. Hy sê glo nee, seksverslawing het hom gemotiveer.

Dalk het hy regsadvies ontvang. Rassehaat as dryfveer kan ’n swaar straf beteken.

Hoe lyk dit op eie bodem, waar rassekonflik en apartheid lank gedy het?

My vorige rubriek oor rassisme in hierdie ruimte is gekritiseer, veral omdat ek ander vorms van boosheid van rassisme onderskei het. Sommige van my kritici wil, lyk my, alles wat lelik is “rassisme” noem – dalk omdat hulle moeg is om daarvan beskuldig te word, of skaam kry.

Al is ek nog nie oortuig dat Google se definisies – soos een skrywer aanvoer – meer wetenskaplik is as dié van die Oxford English Dictionary en ander woordeboeke nie, probeer ek uit kritiek leer. Mens sou nog meer kon leer as die briefskrywers dit wat hulle kritiseer eers behoorlik klaar lees voor hulle lostrek. In Die Burger val een ’n professor aan oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid en verklaar dan sommer dat hy moeg is vir “hooggeleerdes” wat vir hom preek (soos die uwe, wat nog nooit ’n woord oor daardie taalbeleid gerep het nie!).

Nou vra ek maar wysheid en raad van hooggeleerdes, ongeleerdes en sommer almal wat dink hulle dink logies en leef regverdig.

Die regter wonder waarom mense sulke dinge doen.

Moord is die wederregtelike, opsetlike doodslag van ’n mens. By ons maak haat dit nie ’n afsonderlike misdaad nie. ’n Gepaste straf vir moord kan wissel van ’n opgeskorte vonnis en korrektiewe toesig tot lewenslange gevangenisstraf. Talle versagtende en verswarende omstandighede word in ag geneem soos ouderdom, of die moordenaar eerlik was met die hof en berou toon, asook feite uit sy kinderjare.

Lewenslank het ek ’n hele paar keer opgelê, maar ook 20 en 15 jaar, en selfs baie korter vir ’n bejaarde omie wat sy vrou doodgeskiet en twee baie skadelike skote deur sy eie kop oorleef het omdat sy hom vertel het dat sy oorle vader die biologiese pa van een van sy kinders is.

Kom ons toets rashaat as strafopleggingsfaktor aan drie fiktiewe gevalle – die karakters fiktief, die feite saamgestel uit verskillende, maar ware gebeure.

Buks B. se rassistiese opvoeding het sy lewensbeskouing geword. Hy haat swart mense, finish en klaar. Soos hy die Bybel verstaan, het Gam swart geword omdat hy sy bejaarde, besope, naakte vader, Noag, gespot het. Swartes, wat hy nie maklik “mense” noem nie, moet hout kap en water dra. Nadat hy hoor hoe pres. Cyril Ramaphosa nuwe Covid-19-beperkings afkondig – in Engels, nogal – skiet hy 12 swart kinders, vroue en mans by ’n taxistaanplek met sy jaggeweer en 9 mm-Ruger dood. Hy ontken skuld en verduidelik dat hy die uitverkore, wit Christendom aan die suidpunt van Afrika teen die barbare verdedig het, in die hoop dat volksgenote sy ridderlike voorbeeld sou volg.

Die nasionale vervolgingsgesag sal vra vir die swaarste moontlike straf. ’n Hof sal waarskynlik saamstem. Ons geskiedenis tel. Stem jy saam? En, is rassehaat altyd verswarend of kan dit ook versagtend wees?

As vyfjarige het Meshack M. gesien hoe die wit plaasvoorman sy 19-jarige ma molesteer. Toe sy pa by die plaaseienaar gaan kla, word hy van leuens beskuldig en die familie van die plaas weggejaag. In Soweto word die pa ’n aktivis wat teen apartheid veg. Een oggend 04:00 breek wit polisiemanne hul sinkhuis se deur af, skop sy ma herhaaldelik in die maag en neem sy pa weg, waarna hy hom nooit weer sien nie. Meshack is nie geleerd nie. Hy begin wittes haat. Op ’n vrekwarm Vrydag werk hy hard in ’n Houghton-tuin. Sy werkgewer is haastig op pad naelsalon toe en sê sy het nie geld om hom te betaal nie. Terwyl hy probeer verduidelik dat hy kos moet koop en sy kind se skoolgeld betaal, loop sy al heupswaaiende na haar Mercedes-sportmotor en gesels al laggende met ’n vriendin oor die selfoon. Meshack word woedend en deurboor haar van agter met die tuinvurk. Voor die hof getuig ’n maatskaplike werker dat hy wit mense haat weens sy familie se geskiedenis. Is sy rassehaat verswarend of inderdaad versagtend?

Maar laat ons konsekwent wees en die saak ook uit ’n ander oogpunt benader. Pietie P. se pa is ’n predikant wat sy kinders leer om alle naastes lief te hê en dat apartheid verkeerd was. Een nag bars vier swart rowers hul huis binne, sluit sy vierjarige sussie in ’n kas toe, bind hom vas, verkrag sy ma en brand sy pa met ’n rooiwarm strykyster voordat hulle hom met ’n gesteelde rewolwer in die gesig skiet en met horlosies, selfone en drank verkas. Pietie se lewe verander.

Op 18 laat ’n lewenslustige meisie hom weer in liefde glo. Maar eendag bevind die paartjie hulle in die verkeerdste plek op die verkeerdste tyd. In ’n taxi-oorlog tref ’n dwaalkoeël die mooie meisie. Sy sterf in sy arms. Pietie is stukkend. Wanneer ’n swart bedelaar aan sy deur klop, skiet hy hom noodlottig in die maag. In sy verhoor lui ’n sielkundige se verslag dat hy swart mense vrees en selfs haat weens sy herhaalde trauma. Welke straf sou jy, liewe leser, oplê? Natuurlik is bogenoemde faktore dikwels vermeng. Ongelukkige kinderjare kan byvoorbeeld nie noodwendig streng van wilde emosies geskei word nie. Met rassehaat moet ons egter uiters versigtig wees.

As regter het ek gelukkig geen Buks of Pietie in die beskuldigdebank voor my gesien nie. In verskeie moordsake was die beskuldigde moontlik ’n Meshack.

Die feite was dikwels aaklig. ’n Afgetrede bankbestuurder word in sy huis flenters gemoker met ’n bobbejaansleutel sodat sy tande teen die mure kleef. Sy 80-jarige ma word in die kombuis in die been gesteek. Terwyl sy op die vloer doodbloei, eet die aanvallers haar ingelegde vrugte op en drink die Chivas Regal uit. ’n Lykskouing wys dat sy verkrag is – voor of nadat sy dood is.

Behoort ’n Suid-Afrikaanse hof te beslis dat rassehaat verstaanbaar is en soms simpatie moet wek?

Van die familieporselein bly net skerwe oor. Die televisiestel word opgespoor in ’n woning van blik en swart plastiek in ’n nabygeleë plakkerskamp. Polisiefoto’s toon die uiterste armoede.

Die regter wonder waarom mense sulke dinge doen. En, hoe moet hy straf as die beskuldigdes roerend verduidelik dat hulle wit mense haat weens apartheid se vernedering van hul ouers, of omdat hulle daagliks terugkeer na hul krot nadat hulle wittes se groot, groen grasperke gesny en met hul gekamde lhasa apso-modehondjies onder pers jakarandas moes gaan stap? Kan rassehaat strafversagting regverdig vir dade so gewelddadig, wreed en vulgêr? Behoort ’n Suid-Afrikaanse hof te beslis dat rassehaat verstaanbaar is en soms simpatie moet wek?

Hierdie regter het nie nodig gehad om dié lastige vrae te beantwoord nie. Die beskuldigdes het nooit verduidelik dat hulle weens apartheid of uit frustrasie of verbittering gemoor het nie. Trouens, hulle verduidelik dikwels niks. Die enigste verweer is dat hulle nie naby die misdaadtoneel was nie.

“Wasn’t me.”

Op die vraag hoe sy vingerafdrukke dan op die drankbottels beland het, antwoord een: “Eisj, u edele, ek het daai selfde vraag.”

Terwyl die regter in sy uitspraak breedvoerig verduidelik waarom hy lewenslank eerder as 25 jaar tronk toe gaan, vra hy om te sit. Hy is moeg. Hy het vigs en vier maande om te leef.

Daarom vra ek die hooggeleerdes, ongeleerdes, logiese denkers en regverdige wyses onder ons: Wat sou jy doen?

* Johann van der Westhuizen is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.

Meer oor:  Johann Van Der Westhuizen  |  Vsa  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Gesels Reg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.