Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann van der Westhuizen: Yanks kan by ons leer oor die reg

Te midde van gebreke in die Suid-Afrikaanse regstelsel, het die onlangse dood van regter Ruth Bader Ginsburg my herinner aan die redes tot diepe dankbaarheid vir die feit dat ek nie onder die Amerikaanse reg leef nie.

Verkiesings moet vry en regverdig wees. Die eerste vereis spraakvryheid; die tweede beheer oor skadelike liegstories. Die Amerikaanse verkiesing word tans oorheers deur ’n tsunami van leuens en pres. Donald Trump se giftige aanvalle op die stemstelsel. Baie politici maak vals beloftes en lieg soms, maar Trump is onbeskaamd next level. “He lies all the time,” sê genl. Colin Powell, ’n Republikein. Trump-ondersteuners glo hom blykbaar dat die verkiesing slegs regverdig sal wees as hy wen. Wanneer ’n sekere graad van breinspoeling bereik word, soos dat Noord-Koreane glo dat Kim Jong-oen goddelik is, maak ’n verkiesing min sin. “Laat staan tog maar, kêrels,” sou my oupa sê.

Laat die Amerikaanse reg – in ’n gevaarlik verdeelde land met baie wantroue in die strafregstelsel – sulke blatante bedrieglikheid toe? Klaarblyklik wel.

Ons konstitusionele hof moes met die grens tussen verkiesingspropaganda en skadelike leuens worstel toe die ANC die DA hof toe geneem het oor ’n SMS aan kiesers waarin gesê is die openbare beskermer (OB) se Nkandla-verslag “shows how Zuma stole your money”. Die Verkiesingswet verbied die publikasie van “vals inligting” met die bedoeling om ’n verkiesing te beïnvloed en maak dit strafbaar.

Die verslag het nêrens die term “steel” of “diefstal” bevat nie. Die DA het egter, versigtig, nie gesê dat die verslag bevind dat die destydse pres. Jacob Zuma gesteel het nie. Dit was hul opinie dat Zuma gesteel het en die verslag sou wys hoe hy dit gedoen het.

Om blatant te lieg in ’n verkiesing is misdadig.

Met ’n meerderheid van sewe uit tien regters het die hof ten gunste van die DA beslis. Vyf van die sewe het bevind dat ’n opinie nie “vals inligting” kan wees nie. Dus is die verbod nie op die boodskap van toepassing nie.

My uitspraak (met die ondersteuning van regter Mbuyiseli Madlanga) het ’n effens meer robuuste pad gevolg. Die wet is geïnterpreteer deur middel van die nodige balans tussen die grondwetlike vereistes dat verkiesings vry asook regverdig moet wees. Die verskil tussen ’n feitestelling en ’n opinie is in die konteks van ’n verkiesing minder belangrik as in die lasterreg. Die fokus is op die invloed van die stelling op die verkiesing. Deeglik gelees, wys die OB se verslag dat dit moontlik is om af te lei dat die oudpresident tydens die verbeterings aan Nkandla geld – in die alledaagse betekenis van die woord – “gesteel” het.

Om dus tydens ’n verkiesingsveldtog te skreeu dat ’n opponent die ekonomie opgefoeter het, of dat jy die beste en mooiste president ooit is, is nie “vals inligting” nie. Spraakvryheid seëvier, hoe gek ook al. Om egter te lieg deur sonder feite te sê dat die president besig is om vinnig aan kanker te sterf, of dat stembusse in Johannesburg gesluit sal wees, bedreig die integriteit van die verkiesing.

Regter Amy Coney Barrett: “Mag Amerika en die wêreld hoop en bid dat sy opdaag met ’n tenk vol regterlike integriteit . . . en moed.” Foto: Getty Images

Die stelling oor die stembusse is in die hof deur advokate genoem as ’n voorbeeld van “vals inligting” wat volgens ons Verkiesingswet onwettig sou wees. Indien Trump se bewerings oor bedrieglike posstemme in die Amerikaanse presidentsverkiesing nie met feite gerugsteun word nie, sou dit heel moontlik onder ons reg verbode en strafbaar wees.

Daar is nog ’n rede vir sinisme oor die Amerikaanse regstelsel.

Histories was die Amerikaanse federale hooggeregshof vanweë verskeie beroemde uitsprake ’n voorbeeld vir die wêreld. Die aanstellingsproses van regters het egter die afgelope tyd só bykans vulgêr polities geraak, dat dit die kern van ’n regverdige hof aantas – en belaglik voorkom.

Veral grondwetlike litigasie is inderdaad polities. Grondwette bevat immers waardes soos menswaardigheid, gelykheid en vryheid – vir sommige mense “politieke” begrippe.

In demokrasieë, soos ons s’n, het die aanstellingsproses van regters sterk politieke komponente en speel regeringsmag ’n rol. (Juis ten einde politieke twis aangaande regterlike aanstellings te versag, maak politieke partye in Duitsland beurte wanneer dit by aanstellings in die federale konstitusionele hof kom.)

Vanweë die steun van konserwatiewe Christene in Amerika is dit vir die Republikeine uiters belangrik om die 1973-beslissing in Roe vs. Wade omver te werp. Dié uitspraak verskans ’n verwagtende vrou se reg om, onderhewig aan redelike beperkings, ’n aborsie te kies. Vanweë die presedentstelsel bind dit alle howe. In die algemeen kan ’n hof slegs sy eie vorige beslissing omverwerp as dit duidelik verkeerd was.

Tydens senaatsverhore word regter-kandidate hieroor intens uitgevra, dikwels met verwysing na standpunte uit die verre verlede. (Toe ek by Yale doseer het tydens regter Clarence Thomas se senaatsondervraging, wou ’n eerstejaar-regstudent nie vrae oor Roe vs. Wade beantwoord nie – uit vrees dat dit sy kans om 30 jaar later as regter aangestel te word sou benadeel! Thomas sowel as prof. Anita Hill, wat hom van seksuele teistering beskuldig het, was hoeka Yale-studente – soos die Clintons, asook George Bush vir wie Bill Clinton daardie jaar as president uitgedaag het).

Toenemend word van kandidate verwag om hul ideologiese en selfs politieke standpunte uit te spel. Vrae aan kandidate is politieke toesprake. Met ’n meerderheidstem word benoemings kragdadig bekragtig.

’n Gerespekteerde Engelse regter het my siening gedeel dat regter Brett Kavanaugh se optrede in 2018 voor die Amerikaanse senaat ’n ontstellende gebrek aan regterlike temperament openbaar het.

In stede daarvan om koelkop en waardig te bly, het hy woedend gereageer op ’n beskuldiging van seksuele wangedrag en “liberales” – en sommer “die Clintons” ook – daarvoor die skuld gegee! Sy politieke tuiste was mooi duidelik vir die tevrede Republikeinse meerderheid.

Regters is mense met voorkeure en vooroordele wat dikwels met hul agtergrond verband hou. Die kern van regterskap is egter om dit te erken en dan oopkop hard te probeer om in ooreenstemming met jou ampseed, op grond van die grondwet en ander reg, regverdig oor feite en argumente voor jou te beslis. Dit lyk of juis ’n oop kop tans nie van Amerikaanse regters verwag word nie. Indien uitsprake volkome voorspelbaar word, op grond van wie ’n regter aangestel het, kan die president of senaat netsowel self sake aanhoor.

Soms is daar verrassings.

’n Ou gesegde lui dat die probleem met regters wat politieke aanstellings is, is dat hulle spoedig ná hul aanstelling vergeet dat hulle politieke aanstellings is en dink dat hulle slim genoeg is om onafhanklik te besluit!

Nadat die hof in Brown v. Board of Education beslis het dat skoolsegregasie ongrondwetlik was, het pres. Harry Truman glo gesê dat die aanstelling van hoofregter Earl Warren die grootste fout van sy presidentskap was. ’n Duitse regter, wat voor sy aanstelling ’n parlementslid was, het gevind dat hy agteroor geleun het om teen sy eie party te besluit, tot die argwaan van sy voormalige kollegas.

Hierdie scenario is in vandag se Amerika onwaarskynlik. Toe die saak na die Bush vs. Gore-verkiesing aangehoor is, het ’n senior regter in Pretoria, wat altoos die absolute objektiwiteit van regters verkondig het, na my kantoor gekom en korrek voorspel hoe die Amerikaanse regters weens hul politiek sou stem.

Nie slegs aborsie is op die spel nie. “Obamacare” kom op 10 November voor die hof; en spoedig daarna waarskynlik die uitslag van die Trump vs. Biden-verkiesing self. Juis posstemme (die kwessie waaroor Trump tans gal braak) mag betwis word.

Mag Amerika en die wêreld hoop en bid dat die nuwe regter, Amy Coney Barrett, opdaag met ’n tenk vol regterlike integriteit . . . en moed. Verskeie Suid-Afrikaanse regters sou dalkies daarvan kon skenk.

* Johann van der Westhuizen is ’n voormalige regter van die konstitusionele hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.