Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johanna, my eie inwonende reënspinnekop
Ivor Price

Johanna, my inwonende reënspinnekop, sit al drie dae lank rustig op verskillende dele van my sitkamermuur. Ek sien haar nooit regtig beweeg nie, maar as ek my weer kom kry, het sy haar op ’n ander deel tuisgemaak; haar pote indrukwekkend oopgesprei.

Vyf jaar gelede, toe ek Johannesburg toe getrek het, het van haar familielede my nogal die skrik op die lyf gejaag. Dit het gevoel of hulle my altyd in die donker nag bekruip – soos inbrekers wat toeslaan wanneer jy op jou weerloosste is, en nie altyd met genoeg klere aan jou lyf nie. Dit is nogal ’n vreesaanjaende ding om veral soggens jou oë oop te maak en in so ’n grillerige gedierte vas te kyk. Hulle kan ook nogal jou bloeddruk opjaag wanneer hul voorpote opgelig en slagtandjies ontbloot word as hulle uitgelok word.

Waar ek vroeër allerhande gifstowwe sou inspan om van reënspinnekoppe soos Johanna ontslae te raak, beywer ek my deesdae vir die regte van spinnekoppe. Dit klink nogal bisar vir baie van my kuiergaste wat, soos ek, van kleintyd geleer het dat jy ’n spinnekop moet doodspuit of -trap sodra jy hom gewaar. Noudat ek egter geleer het om met hulle saam te leef (en hulle met my!), verhef ek my stem vir enigeen wat instinktief na ’n plakkie gryp.

Toegegee, ek het nogal simpatie met mense wat gebyt word deur giftige dierasies soos die sakspinnekop, knopiespinnekop of die skaarser vioolspinnekop. ’n Mens hoor mos elke nou en dan van mense wat ernstige weefselnekrose opdoen, en ek het self onlangs vinnig in die hospitaal gedraai nadat een of ander spinnekop my rug bygekom het. (Niks wat ’n paar dae se antibiotika nie kon ­oplos nie.)

Daar is tog ’n veel groter kans dat jy deur weerlig getref sal word, as wat ’n haai jou sal aanval.

Maar is dit nodig om ’n ou onskuldige reënspinnekop of selfs ’n langbeenspinnekop dood te slaan omdat hy in jou huis ronddwaal op soek na insekte? Beslis nie. Wat is dit in elk geval met ons wat amper primitief en barbaars alles waarvoor ons bang is of nie verstaan nie, voor die voet wil vernietig? Dit is mos darem lank nie meer die Middeleeue nie en ons sal moet veg teen daardie oerinstink.

Die besef dat spinnekoppe al meer as 400 miljoen jaar hierdie aarde bewandel – en in alle waarskynlikheid banger vir die mens is as andersom – behoort genoeg te wees om enige aragnofoob van plan te laat verander. Dink ook maar aan die belangrike rol wat hulle in die voedselketting speel.

As ek kinders gehad het, sou ek hulle wou leer dat baie van die goggas en geite waarvoor ons die meeste gril, eintlik glad nie so gevaarlik is soos wat ons dink nie. Dieselfde geld die onnodige vrees en viktimisering van slange, vlermuise en haaie. Daar is tog ’n veel groter kans dat jy deur weerlig getref of deur ’n toilet beseer sal word, as wat ’n haai jou sal aanval.

Dink bietjie daaraan wanneer jy in die toekoms genoop voel om hulle dood te maak.

  • Volg Price op Twitter by @ivorprice.
Meer oor:  Ivor Price  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.