Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johanna van Eeden: Wat Trump sien (en die res nie)
Johanna van Eeden.

President Donald Trump. Wie sou dit verlede jaar kon dink, toe Trump die Amerikaanse elite soos ’n stormram getref het met sy aankondiging dat hy sy oog op die Withuis het?

Wel, beslis nie die hoofstroommedia nie. George Claassen, gesoute joernalis en buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch, het dié week kaalvuis ingeklim onder die media in sy ontleding van wat hy as die “sotheidsmars” beskryf.

Hy noem onder meer die juniorfikasie van nuuskantore en die feit dat verslaggewers hulself nie onderlê in geskiedenis nie, as redes waarom die media (en meningspeilers en politieke ontleders) Trump se oorwinning verkeerd voorspel het. Dit is alles geldige kritiek en elke verslaggewer behoort George se artikel te lees.

Dit het my onwillekeurig laat dink aan die dag toe Tim du Plessis sy eerste toespraak as Beeld se redakteur gegee het. Dié koerant, het hy gesê, gee ons uit vir die lesers, nie vir takhare of stedelike boheme nie.

Arrie de Beer het ons in ons joernalistiekklas op Potch geleer nuus is ’n weerspieëling van die werklikheid. Ek wonder nou of ons die ding met Trump verkeerd gekry het omdat ons ágter die spieël staan en vergeet om af en toe by die venster uit te kyk . . .

Die gevaar van joernalistiek (en veral politiek, hoewel ek die twee teensinnig in een sin noem) is om vervreemd van die werklikheid te wees.

Op 12 April 2015 het Hillary Clinton getwiet: “Ek staan vir president. Gewone Amerikaners verdien ’n kampioen en ek wil daardie kampioen wees.”

In sy eerste toespraak as aangewese president van die VSA sê Trump: “Die vergete man en die vergete vrou sal nooit weer vergete wees nie.”

Twee mense kyk na dieselfde werklikheid en sien verskillende weergawes.

Trump se oorwinning is ’n teruggryp na die tradisionele. Die veilige. Die konserwatiewe.

Clinton, wat haar openlik beywer het vir die middelklas, maar in reaksie op Trump se uitlatings oor minderhede skerp begin fokus het op die regte van dié groepe – dieselfde immigrante, vroue, LGBT-mense en gestremdes wat sy in haar eerste toespraak ná die verkiesing uitgesonder het.

En Trump, wat goed genoeg in voeling is met gewone mense om te besef tradisionele vertrouensverhoudings het verkrummel. Tussen regering en burger, party en kieser. Ja, selfs leser en koerant.

Nog nooit sedert die Tweede Wêreldoorlog het soveel mense fisiek van een plek na ’n ander beweeg (gevlug) sedert die immigrantekrisis van die afgelope jare nie. #BlackLivesMatter het Amerika se hutsmerk-ekwivalent geword van ons eie #FeesMustFall.

Die institusionele legitimiteit van die hoofstroommedia word weggekalwe deur die menings van ’n millenniumgenerasie wat nie net gesien en gehoor wil word nie, maar wat verandering eis.

Trump se oorwinning is ’n teruggryp na die tradisionele. Die veilige. Die konserwatiewe. En ja, ’n mens kan links wees in jou politieke denke, maar konserwatief in jou alledaagse oortuigings van hoe jy die gemeenskap om jou georganiseer wil sien. Omdat veiligheid, ekonomiese gelykheid en die ruimte om vry te kan assosieer met mense wat soos jy dink, swaarder weeg as die geskiedkundige moontlikheid om ’n vrou as president te verkies.

Trump is nie ’n enigma nie. Hy is deel van ’n wêreldwye beweging.

Of hy wel ’n muur gaan bou, sal ons moet sien. Ter wille van Amerika en stabiliteit in die res van die wêreld hoop ’n mens hy bou ook ’n spreekwoordelike brug of twee.

Trump – en dit waarvoor hy staan – is hier om te bly. Soos Abraham Lincoln gesê het: “I don’t like that man. I must get to know him better.”

* Van Eeden is hoofredakteur van Netwerk24 en Afrikaanse dagblaaie.

Meer oor:  Vsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.