Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johnny Clegg breek apartheid in ons harte af
Charles Smith

As daar een ou was wat my as Afrikaanse boereseun – geskool in die apartheidsjare op Christelik-nasionale onderrig – se siening en bewustheid van die land oopgemaak het, is dit Johnny Clegg.

Ek was van die eerste oomblik wat ek die Zoeloe-kitare en klanke van maskandi gehoor het, versot daarop. Ek het Juluka se musiek oor en oor geluister en hard saamgesing, al kan ek nie isiZulu praat nie.

Dit het by my ’n liefde vir Afrika-musiek gekweek. Ek kon nie wag vir Saterdagmiddae vir The African Connection met Richard Nwamba op Safm nie. Ek sou dit luister en met een oog na die rugby loer.

Op ’n reis van Bloemfontein na Tanzanië in 1998 het ek omtrent net Afrika-musiek in die Isuzu gespeel. In elke dorp en in die sjebiens het ek geluister na musiek uit die land en streek. Ons sou dans en skoffel op die oerklanke in ou-ou tale met die ritme van die tromme wat diep in jou bloed kruip.

Ek onthou hoe ek na Juluka se se lied “Kilimanjaro” geluister het terwyl die berg met sy sneeubedekte piek voor ons in die Afrika-bosveld begin opdoem het.

Iewers in ’n kloof in Zambië, ver weg van die hoofweg, het ons onder ’n reuse-kremetart gekamp. Die jagters hier het met pyl-en-boë en met assegaaie in die oerwoude gejag. Die aand het die volmaan in die boom gehang en het die tromme begin speel in statte tussen bome. Ek het ure daarna lê en luister. Hoe kon ons so sonder gevoel en sonder enige bewustheid van hierdie groot, mistieke kontinent en sy mense grootword?

Ek onthou hoe ek na Juluka se se lied “Kilimanjaro” geluister het terwyl die berg met sy sneeubedekte piek voor ons in die Afrika-bosveld begin opdoem het. Dis waar die Boere ná die Anglo-Boereoorlog probeer boer het.

I’m sittin’ on the top of Kilimanjaro/I can see a new tomorrow/ I’m sittin’ on the top of Kili-manjaro/ I cast away all my sorrows/ What a strange strange freedom/ Only free to choose my chains. . .

Terwyl ons in Arusha aan die voet van Kilimanjaro gestop het, is my Juluka-kasset uit die bakkie gesteel. Dit was nogal ironies. Maar ek het “Scatterlings of Africa”, “Impi”, “The Great Heart”, “African Sky Blue” en my en my seun, Alwyn, se gunsteling, “Bullets for Bafazan”, uit my kop geken. Dit sou daar bly soos die tromme onder die kremetart.

Ná Johnny Clegg se dood het ek na sy video's gekyk, soos waar hy saam met sy seun, Jesse, sing. En waar Nelson Mandela op die verhoog kom toe hy “Asimbonanga” sing, wat vir hom op Robbeneiland geskryf is. Roerend.

Dis toe ek op Qadasi & Maqhinga afkom. Ook ’n wit Zoeloe (David Jenkins) en die Maskandi-kitaarspeler Maqhinga Radebe wat in ’n bakkie Zoeloe-musiek speel. Sjô, dis lekker musiek. Juluka is nie dood nie!

Die liedjie “Ngiyazenzela” sing hulle saam met die Boabab Sisters, wit meisies wat in isiZulu sing. Johnny Clegg leef in ons omgee vir Afrika en sy mense voort. Hy het ons oë en apartheidsharte met sy musiek oopgemaak.

Meer oor:  Charles Smith  |  Johnny Clegg  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.