Dis bietjie dik vir ’n daalder, dink ek by die lees van hoe jonk van die parlements- en wetgewerlede is wat deur politieke partye afgevaardig is om namens ons – die kiesers – op ampsweë te gaan sorg dat alles in die land altyd reg loop.
Dalk weens die skeptiese joernalis in my. Dalk is dit buite die reikwydte van ’n Baby Boomer om die X-faktor te snap wat millenniërs (diegene gebore tussen 1980 en 2000) genereer. Om van die kubergoëlary van Generasie Z (ná die millenniërs) nie eens te praat nie.

Gert Coetzee
Whatever. Maar ek kies bewese ondervinding, waarvan kwalifikasies deel kan uitmaak, wat deur ’n leeringesteldheid op die harde ouskoolwyse van tref, fouteer en weer probeer opgedoen is. No pain, no gain . . .
Minus kitsoplossings, opportunisme of slenters.
Wat my laat bieg, joernalis S’thembiso Msomi se opmerking in sy boek Mmusi Maimane, Prophet or Puppet? dat as Maimane ’n ANC-lid was hy hoogstens ’n junior jeugliga-leier sou wees, het my al laat wonder.
En dat kompensasie met bydrae strook. Vir die jaarlikse pakketjie van R1,1 miljoen, gratis vliegkaartjies (88 binnelandse reise per jaar) en subsidie vir ’n luukse motor uitgesluit, wat LP’s verdien, soos Rapport (26.5) uit die Staatskoerant berig het, moes Suid-Afrika die superstaat gewees het wat dit nie is nie.
Wetgewerlede is nie ver agter nie. Hul skamele R1,07 miljoen per jaar is self nie te versmaai nie.
Nietemin, ek’s grootmoedig en wens Karabo Khakhau (21), jongste wetgewerlid in die land, en Itumuleng Ntube (20) en Sibongiseni Ngcobo (23), jongste LP’s, alles van die beste toe.
Karabo, ’n Vrystaatse DA-lid van die wetgewer, was in 2015 in Welkom-Gimnasium in matriek en studeer nog. Sibongiseni, ook van die DA, is die jongste Nasionale Vergadering-lid, en Itumuleng, ’n ANC-lid van Botshabelo, is die jongste lid van die Nasionale Raad van Provinsies. Laat hulle vlieg sonder vlerke. En hul X-faktor diep inploeg.
Net om my sinisme te besweer lees ek in Time raak “die Amerikaanse politikus oor wie die tweede meeste gepraat word” (raai-raai ná wie?) is nie Joe Biden (76), wat deur sommiges beskou word as die voorloper om die wedloop as die Demokrate se verteen-woordiger in die volgende presidensiële stryd te wen nie. Ook nié die veteraan Nancy Pelosi (79), speaker van die huis van verteenwoordigers, nie. Terloops, Biden en Pelosi het albei eie probleempies. Biden sukkel met vatterigheid en Pelosi se eie party wantrou haar. As oom Joe wel slaag, sal hy die oudste VSA-president wees wat ingehuldig word.
Wat my laat bieg, joernalis S’thembiso Msomi se opmerking in sy boek Mmusi Maimane, Prophet or Puppet? dat as Maimane ’n ANC-lid was hy hoogstens ’n junior jeugliga-leier sou wees, het my al laat wonder.
Nee, al Demokraat met die “star power” om die Republikeinse pres. Donald Trump uit te daag, is die 29-jarige Alexandria Ocasio-Cortez (bekend as AOC), berig Time. Die tydskrif skryf oor AOC-koors en hoe dit grense in die VSA skuif. Ocasio-Cortez, ’n vroulike Spaans-Amerikaner, is gebore ná die Berlyn-muur se val. Die eerste pres. Bush (George H.W.) was al aan die bewind en Pelosi ’n kongreslid.
AOC is ’n demokratiese sosialis in ’n tyd dat kapitalisme taan, veral onder progressiewe millenniërs. Haar veldtog vir die kongres was geskoei op die Green New Deal en Medicare for All en téén verswarende immigrasie- en doeane-wetgewing.
Vir linkses is sy Wonder Woman en vir regses Wicked Witch. As sy swart-bonesop op Instagram Live klits, volg duisende haar. Haar soort rooi lipstiffie het aanlyn uitverkoop toe sy die naam – Beso van Stila – twiet.
Nou ja toe. In Suid-Afrika het ons wragtig seker jeugdige star power nodig. In ’n land waar ons laaste vyf presidente – Mandela tot Ramaphosa – 75, 56, 59, 67 en 65 – met hul onderskeie inhuldiging was. Kyk waar is ons nou.