Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jou deur vir my kleingeld!

’n Rit met ’n minibustaxi bly maar ’n uitdaging, hoewel dit ook groot sports kan wees as jy jouself nie te ernstig opneem nie, skryf Willem Fransman jr.

Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Gedurende die aanvanklike streng Covid-19-inperkings het ons motor probleme gegee. Toe was ons aangewese op die Ubers, wat nogal nie ’n slegte wyse van vervoer is nie. En ja, dit is nogal redelik veilig. En nou, met die situasie wat baie draagliker is, waag ons dit al om in die gewone minibustaxi’s te ry.

So gebeur dit onlangs weer dat ek ’n minibustaxi van die Parow-sentrum na my huis in Belhar moet haal. Inkopie-sakkies tussen die bene, sorg ek dat ek by ’n venster sit. Ek is dubbel-gemaskerd: Covid-19-paraat!

In die minibustaxi-bedryf is dit belangrik dat ’n mens die terminologie verstaan.

’n “Ma” is alle ouer vroue, getroud of nie. Alle ouer mans is “pa”. Dieselfde reëls as vir vroue geld hier.

’n Meisie of “girlie” is ’n jong vrou wat al studeer of werk. En ’n jong man is ’n “ou”. Skoolgaande seuns word “laaities” genoem.

Ek sien hoe sy haar regmaak om hom verder aan te val, maar toe fluister die ouerige oompie langs haar iets in haar oor. Steeds opgewerk antwoord sy: 'Lat ek liewerste my bek hou.'

’n Tannie met ’n paar inkopiesakkies skuif langs my in. Te veel sakkies vir die toegelate ruimte, want langs haar moet nog iemand kom sit. Sosiale afstand geld nie hier nie. “Ma, gie nogge bietjie liefde daa na die pa toe!” sê die skuifdeur-operateur. (In omgangstaal is hy sommer net die “guardtjie”.) Eintlik vra hy dat sy tot teenaan my moet skuif om vir die volgende passasier plek te maak.

“Nie,” antwoord sy, “die laaste kee’ toe ek saam moet djulle gery het, het my sakkies weggeraak. Ek sit net hie’sa!” antwoord sy sonder skroom in ’n baie fyn en hoë irriterende stemtoon.

“Daai is oukei, Ma, maar dan noet Ma vir twie seats betaal. Dis hoerrit wêk.”

“Is djy mal? Dis mos daylight robbery, sien, dis hoe djulle taxi-mense ôse ou mense van ôse oumens-geldjies rob.”

“Ma . . . Ma, ôs doen net ôse wêk!” en daarmee skuif hy byna hardhandig haar pakkies onder die sitplek voor haar in en laat ’n ouerige man langs haar kom sit.

“Sien, nou maak djy my bôs warm!”

Die guardtjie is nie op sy bek geval nie: “Ma was warm toe Ma hie ingeklim het, soe koel af soelat ek my wêk kan doen.”

Ek sien hoe sy haar regmaak om hom verder aan te val, maar toe fluister die ouerige oompie langs haar iets in haar oor.

Steeds opgewerk antwoord sy: “Lat ek liewerste my bek hou.”

Willem Fransman jr.

So raak elke sitplek vol en beweeg die taxi uit die taxi-staanplek of “rank”. Al met De la Reylaan ry ons in Belhar se rigting. Skaars by die eerste verkeerslig verby, begin die guardtjie die geld insamel.

Die snare agter ons gee hul geld vir ons. Covid of te not, almal vat aan almal se geld en stuur dit vorentoe. Dis toe dat die ou dame ’n bietjie te stadig met die uithaal van haar geld is.

Omdat sy naby hom sit, leun hy oor haar om die persoon agter haar se geld te neem. Sy ruik dat daar ’n effense klankie aan hom kleef.

“Wiet djy, hulle moet ’n law maak wat guardtjies moet force om hulleself te was voorlat hulle in taxi’s klim!”

Die guardtjie, ook nie op sy bek geval nie, antwoord: “Ma is miskien reg, maa hulle moet nogge wet maak: om ôs van difficult customers soes Ma te protect.”

Daar’s ’n geproes onder die ander passasiers. Die ou tannie steur haar nie aan sy gevattenheid nie.

Toe, sonder waarskuwing, praat die tannie weer in haar irriterende hoë stemmetjie: 'Djy guardtjie, waa’s my change?'

“Kom nou, Ma, ôs hettie heeldag tyd’ie.”

Fout . . .

“Djy, djy djaa nie vi my an. Vat dié.” Sy hou ’n opgefrommelde R20-noot na hom uit. Sonder seremonie sit hy dit ’n lapgeldsak saam met die ander geld sonder om haar R8-kleingeld te gee. Daar sak ’n genadige stilte oor die passasiers neer.

Toe, sonder waarskuwing, praat die tannie weer in haar irriterende hoë stemmetjie: “Djy guardtjie, waa’s my change?”

“Het Ma nie vir my ’n R2. Dan gie ek Ma ’n R10 change.”

“Wat ek waa moet kry? Djy wil net difficult wies,” sê sy sonder om in haar handsak te kyk.

“Ma . . . ”

“Djong, djy kan wag.”

Nou krap sy in haar sak.

“Hier,” sê ’n vroutjie wat die hele petalje tussen die twee nie meer kan verdra nie. “Vat die R2 en gee haar die R10,” sê sy en druk ’n R2 in die guardtjie se hand. Op daardie oomblik druk die ou dame ook ’n R2 in sy hand.

“Gie haa gêl trug . . . ek wil niks van daai stuck-up vrou vattie!”

Toe sy uiteindelik by Tweede Seringa-weg in Belhar uitklim, slaak almal ’n sug van verligting. ’n Mens kan regtig met waardigheid oud word, dink ek.

Maar ’n rit in ’n taxi . . .

Die man sien sy kans en gryp die los deur en laat spaander daarmee.

So ry ek jare gelede vroeg op ’n Maandagoggend in ’n taxi. ’n Ou haal ’n R100-noot uit en die guardtjie ruk hom oombliklik op. Dis ’n doodsonde in die taxibedryf om vroegoggend met groot geld te betaal.

Die guardtjie kollekteer almal se geld en deel kleingeld uit, maar net nie dié van die R100-outjie nie. Toe die snaar naby sy afklimplek kom, vra hy sy geld. Die guardtjie sê niks.

Toe die snaar moet uitklim, is hy briesend kwaad, want hy het nog nie sy kleingeld gekry nie.

“Pa, moet maa saamry tot byrie stasie, dan sal ek daar change maak en vi Pa gie.” Toe die guardtjie die deur oopmaak, glip die deur van die gleuf af en sak langs die taxi op die pad neer. Die man sien sy kans en gryp die los deur en laat spaander daarmee.

“Djy kan djou deer kry as djy my change netmaa trugbring!” skreeu die snaar die vertrekkende taxi agterna. Slim kind, dink ek!

In ’n vinnig veranderende wêreld, wat onder die druk van Covid-19 gebuk gaan, is daar nog baie ligte oomblikke wat ’n mens kan geniet, al moet jy soms in ’n beknopte taxi van Parow na Belhar ry!

Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Belhar  |  Covid-19-Pandemie  |  Minibus-Taxi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.