Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jou eie beskermengel, teen ’n winskopie

Jou verlede, jou toekoms en jou doel in die lewe. Mooi netjies verduidelik. In ’n e-pos. Deur ’n engel. Vir net $7. Erla-Mari Diedericks skryf oor ’n beskermengel met ’n hart van goud.

Erla-Mari Diedericks

Vrydag om 11:00 kry ek ’n boodskap van my beskermengel op Facebook. Of nee, ek lieg. Ek kry ’n boodskap van mense wat sê hulle weet wie my beskermengel is. Ek moet net klik op die skakel en hulle sal die groot geheim verklap.

Heimlik dink ek dat ek meer as een beskermingsengel het. Inderdaad vermoed ek hulle werk in skofte.

Ek klik egter wel op die skakel. Ek moet eers ’n engel-toets aflê. Al wat jy hoef te doen is om jou naam en jou geboortedatum neer te skryf en jou aangewese beskermingsengel sal aan jou bekend gemaak word

Dis so eenvoudig soos dit. Wie sou dit nou kon raai?

My beskermingsengel se naam is Jeremiel.

Ek ontvang ook ’n persoonlikheidsontleding. Dit is besonders akkuraat. Natuurlik sal dit wees. Want dis die persoonlikheidsbeskrywing van die soort mens wat a) sal glo in beskermingsengele en b) mal/kreatief/naïef genoeg sal wees om vir bemarkingsfoefies te val. ’n Vrye Gees. ’n Idealis. Iemand wat alleen en bang voel in hierdie onsekere tye.

Ek, met ander woorde.

Gelukkig is daar hoop vir verlore siele soos ek, want al wat engel wat sy vere werd is, vlieg deesdae op Facebook rond, het hul eie bemarkers en kan afgelaai word op jou rekenaar.

Orrelmusiek en wit wolke

Dit klink na ’n winskopie. As ek lid word van die Engelklub sal ek ook leiding ontvang om die regte besluite te neem, al die antwoorde op my vrae kry en al my probleme sal opgelos word.

Die goeie nuus – word ek meegedeel – is dat my beskermengel my elke dag sal e-pos. Daarom, maan die Engelklub, moet ek tog net seker maak dat sy e-posse nie in spam of trash beland nie. ’n Mens sou dink ’n beskermingsengel sou vaardig genoeg wees om seker te maak dat dit nie gebeur nie, maar dan weer – engele kom uit die Bybelse tyd. Dalk is hul tegnologiese vaardighede nog nie skerp genoeg nie.

Ek kan wel nie verstaan waarom engel Jeremiel daarop aandring om my te e-pos nie. Kan hy nie net verskyn op ’n wolk nie? Wat het geword van die dramatiese geklap van vlerke en trompetgeskal?

Dis nie sommer net ’n e-pos nie, dis ’n video! Kompleet met orrelmusiek en prentjies van wit wolke.

Nou is dit net “Pieng!”op die rekenaar en ’n beskeie boodskap: You have one message from Jeremiel.

Ek lees my eerste e-pos. Maar dis nie sommer net ’n e-pos nie, dis ’n video! Kompleet met orrelmusiek en prentjies van wit wolke. ’n Kalm, sagte vrouestem deel my mee “that your guardian angel is hovering around you”.

Onmiddellik visualiseer ek ’n engel wat “hover”. Wat talm op straathoeke en doelloos rondfladder in parkeerterreine omdat ek nog nie die Amerikaanse dollars betaal het om sy persoonlike e-posse te ontvang sodat ons saam die wêreld kan oorwin nie.

Dis baie hartseer.

Die engel met die gebroke hart

Ja, teem die video, vir elke duifvlerkie wat jy optel, is daar ’n engel wie se hart gebreek is omdat jy nie wou betaal vir spirituele ontwaking nie. (Sies!)

Maar weer is daar goeie nuus: Die Engeldokument (waarin al jou geheime en doel in die lewe bekend gemaak word) is teen 95%-afslag ook beskikbaar. Vir ’n oomblik laat dit my brein vashaak. 95%? Maar ek is nie wiskundig aangelê nie, seker omdat ek nog nie ’n beskermengel het nie, so moenie my vra hoe dit werk nie.

Jou verlede, jou toekoms en jou doel in die lewe. Mooi netjies verduidelik. In ’n e-pos. Deur ’n engel.

Die punt is egter, dit kos nou net $7.

En is dit nie ’n winskoop nie! Jou verlede, jou toekoms en jou doel in die lewe. Mooi netjies verduidelik. In ’n e-pos. Deur ’n engel.

Presies wat ons elkeen nodig het in hierdie onsekere tye.

’n Beskermingsengel met ’n bankrekening.

Diedericks is 'n redaksielid van Netwerk24. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Engel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.