Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jou eie Rubicon wag vir jou, Cyril

Dit is selde dat toesprake deur politici die wêreld laat regop sit. Die toespraak van oudpres. F.W. de Klerk op 2 Februarie 1990 is ’n uitsondering. Dié toespraak was ’n wenslike politieke kernbom wat die einde van apartheid ingelui en die weg gebaan het vir Suid-Afrika se terugkeer na die gemeenskap van nasies.

Die mooiheid van die toespraak is dat dit byna almal, behalwe die mense wat ten nouste daarby betrokke was, onkant betrap het. Dertig jaar later bly dit seker die belangrikste toespraak nóg deur ’n Suid-Afrikaanse politikus. En De Klerk, wat ek nog altyd beskou het as ’n ietwat teësinnige hervormer, het elke woord van sy toespraak bedoel.

Die ANC, SAKP en PAC is met onmiddellike effek ontban. Nege dae later het oudpres. Nelson Mandela by die hekke van die Victor Verster-gevangenis uitgestap, ’n vry man ná 27 jaar van tronkstraf en as die nuwe gesig van Suid-Afrikaanse leierskap. Die res is, soos dikwels gesê word, geskiedenis.

De Klerk se intensies was goed verbloem. Dat niks daaroor vooraf uitgelek het nie, was op sigself ’n merkwaardige prestasie. Dit blyk nou deel te gewees het van ’n doelbewuste, deurdagte strategie. Dit het alles bygedra tot die soet smaak van die eindresultaat.

Dit maak nie saak wat die Julius Malemas van die wêreld sê nie, De Klerk sal altyd gesien word as die man wat sy Rubicon oorgesteek het.

Dalk het die geheimsinnigheid te make gehad met die teleurstelling ná oudpres. P.W. Botha se gewraakte “Rubicon”-toespraak op 15 Augustus 1985.

Die verwagtinge was groot dat Botha min of meer sou doen wat De Klerk vyf jaar later gedoen het. Die hoop het egter beskaam en Botha het die teenoorgestelde van die verwagtinge gelewer. Die uiteindelike toespraak het die Suid-Afrikaanse ekonomie hard getref en die rand en sakevertroue het getuimel.

My geheue oor 2 Januarie 1990 is nog glashelder. Ek het toe vir die ou Stedelike Stigting gewerk. Die senior bestuur is die vorige dag deur die stigting se grootbaas, oudregter Jan Steyn, gelas om op 2 Februarie aan te meld vir ’n “belangrike” vergadering. Daar is geen agenda verskaf nie.

Steyn, terloops, was baie na aan die verligtes in die ou Nasionale Party. Hy het dalk geweet daar kom iets groots, maar nie wat dit sou wees nie.

Toe ons die raadsaal binnestap, was tegnici besig om luidsprekers te koppel, maar ons was in die duister oor hoekom. Die toespraak het om en by twee-uur die middag begin. Tot dan het ons die tyd verwyl deur oor ditjies en datjies te gesels. Die radio is aangeskakel en ons het (met ’n mate van irritasie) besef ons is gevra om na De Klerk se toespraak te luister.

Minute later is ons oorweldig deur die rits aardskuddende aankondigings. Ons het aanvanklik verstom na mekaar gekyk en toe spontaan begin hande klap en mekaar omhels. Hier en daar was daar trane in die oë.

Onder in die strate van Braamfontein, soos oral in die land, het pandemonium losgebars. Mense het mekaar gegryp en omhels en jubelend begin dans. Dit was alles so onwerklik. De Klerk het oornag van ’n gehate leier in ’n held (wel net tydelik) verander.

Dit maak nie saak wat die Julius Malemas van die wêreld sê nie, De Klerk sal altyd gesien word as die man wat sy Rubicon oorgesteek het. Hy kan nie verantwoordelik gehou word vir wat daarop gevolg het nie – dit is vir die ANC en ander se rekening.

Suid-Afrika is weer eens diep in die knyp en ’n nuwe Rubicon wag om oorgesteek te word. Aan wal staan pres. Cyril Ramaphosa – sal hy die moed van sy oortuiging kry om dit oor te steek?

De Klerk het die afgelope dae te kenne gegee hy is hoopvol dat ons ook hierdie krisis sal oorkom. Suid-Afrikaners sal saam met hom hoop hy is korrek. Dit sal nie maklik wees nie, maar iemand moet dit doen.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Nelson Mandela  |  Henry Jeffreys  |  Fw De Klerk  |  Apartheid  |  Gemeenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.