Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jou huis is waar bekende klanke kletter en klink
Jana Luther

Wat hoor jy, waar jy nou sit? Stemme? By jou, uit ’n buurhuis, -woonstel? Geluide? Verkeer. ’n Hond, êrens. Dalk ’n hamer wat neerkom. Voëlgekwetter.

Wat hoor jy, as geselskap opdroog? ’n Stoel wat kraak? Dalk messe en vurke op borde; ys teen die rand van ’n glas; ’n teelepel; slurpgeluide; ’n hond, slobberend onder die tafel; ’n bladsy van ’n boek wat omgeblaai word; ’n gaap.

Wat hoor jy, snags in jou bed, as die wind om hoeke waai? Iemand wat nog inkom? ’n Knars in ’n slot, alarm wat piep, deur wat toeklik. Skoene wat die een ná die ander neerplof; die sjor van ’n stort, kraak van ’n bed, af en toe ’n balk, vloerplank; kat se tong in haar lies; nagvoël wat roep; yskas wat sidder. ’n Deur wat oop- en toegaan, ’n straal urine. Jou asem.

Klink dit hard, helder, skerp – “kliek”? Of dof, gesmoor, gedemp – “klik”? Blikkerig, hol? Grof, skel? Natuurlik, of sinteties? Watter klanknabootsende, of klanksimboliese, woord beskryf dit die beste?

Kan jy sê wat jy hoor? Nie die oorsaak nie, maar die geluid self beskryf? Die aard, kwaliteit daarvan. Klink dit hard, helder, skerp – “kliek”? Of dof, gesmoor, gedemp – “klik”? Blikkerig, hol? Grof, skel? Natuurlik, of sinteties? Watter klanknabootsende, of klanksimboliese, woord beskryf dit die beste? Doef, doemp, sjor, plof, plop . . . Kabbel, kletter, klots, knars, kraak, krys? Loei, huil of fluit die wind? Ritsel of ruis die blare? Flap, klap of wapper wasgoed aan ’n draad – en in die droër?

Huisgeluide – “By die voordeur, gangaf van agter, kom die geluid van potte en skottels en die klanke, die orkestrale instemming, van breekgoed,” skryf Klaas Steytler in Somer van ’36 – skep ’n huislike atmosfeer. ’n Huisgeluid, soos die tik van ’n staanhorlosie, kan ’n mens tuis laat voel. Dit kan jou ook irriteer, stadigaan gek maak. Maar van die kakofonie van klank wat die stilte markeer, maak die meeste van ons van oomblik tot oomblik meestal maar net onbewustelik sin.

Iemand wat met veel groter aandag na dié nimmereindigende roesemoes luister, is die Nederlandse geluidsnavorser Elise ’t Hart. In 2013 rig sy die Instituut vir Huisgeluide op. Vandag huisves dié instituut ’n groot versameling opnames en dokumentasie van allerlei geluide van ons tyd. Want soos alles anders, verander deur die eeue ook die mens se agtergrondklanke.

Elke geluid wat ’t Hart teëkom, dokumenteer sy deur klankopnames daarvan te maak en die konteks waarin sy dit aantref, kortliks te beskryf. Waar moontlik, praat sy ook met die “eienaar” en waarnemer(s) of ontvanger(s) van die geluid. Deur middel van installasies, klankdossiere, geluidsportrette, praatjies, radioprogramme, podsendings maak sy dié materiaal toeganklik. “Sodat huisgeluide die aandag kan kry wat dit verdien,” sê sy: As ’n mens jou ore inspan, ervaar jy jou omgewing baie meer volledig.

Wie op die Instituut vir Huisgeluide se e-nuusbrief inteken, ontvang maandeliks ’n klankverrassing, soos ’n snorkende konyn, of die geluid van ’n sjokolade-eier wat gekraak word.

Jy kan ook opnames van geluide uit jou huis en omgewing aanstuur. Luister en lees by www.elisethart.com hoe die grendeltyd in ander huise klink.

Meer oor:  Jana Luther  |  Rubriek  |  Huisgeluide
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.