Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jou kruisie op kiesdag is ook ’n soort protes

Dis nie moeilik om te motiveer waarom ons moet stem nie. In Jeremia 29:7 word ons opgeroep om polities betrokke te wees en om die welwees van die breë samelewing te soek.

In die Christelike tradisie rym getroue dissipelskap en verantwoordelike burgerskap. Om aan verkiesings deel te neem, is dus ’n uitdrukking van verantwoordelike burgerskap.

Ná 25 jaar van demokrasie is dit nie voor die hand liggend vir wie jy moet stem nie. Om jou keuse te maak, stel jy vrae soos die volgende: Watter party het die beste visie vir die vernuwing van die samelewing, die beste planne om hul visie te verwesenlik, en genoeg steun wat noodsaaklik is om hul visie en planne te implementeer. Ook: Watter party prioritiseer die saak van die mees kwesbares in die samelewing? Watter party is bekend vir integriteit en betroubaarheid, en vir beloftes wat wel nagekom word?

Politieke partye vaar nie goed met veral die laaste twee vrae hierbo nie. Daar is uiteraard nie een volmaakte individu of politieke party nie – alle individue en instellings het ten beste ambivalente morele rekords. Ons is tegelyk tot soveel mooi én lelik in staat.

Soveel van die lelike kom sterk tot uitdrukking in die politiek. In talle partye word die mees weerloses vergeet, en vier gierigheid, selfverryking, korrupsie, arrogansie en magsvergrype hoogty. Talle verantwoordelike burgers voel dus met goeie rede om eerder nie aan vandag se verkiesing deel te neem nie.

Ek kan net stem as my stem my motiveer tot konstruktiewe protes wat verbeeldingryk “ja” en krities en moedig “nee” sê.

Miskien kan ’n mens wel deelneem as jy jou stem as ’n vorm van protes gebruik. Protes beteken eerstens dat jy vir ’n goeie saak staan, hard daarvoor werk en daaroor getuig.

Hierdie goeie saak word in die Grondwet beskryf as ’n samelewing van menswaardigheid, heling, geregtigheid, vryheid en gelykheid vir almal. As ek stem, sê ek duidelik ek is verbind tot die bou van ’n Suid-Afrika wat só lyk.

Wie vir ’n saak getuig en protesteer, protesteer ook teen ’n ander werklikheid – jy protesteer teen magte, mense, prosesse en partye wat die verwesenliking van die menswaardige samelewing teenstaan.

Vandag se verkiesing sal mettertyd van ons velle af verdwyn. Wat egter nie durf verdwyn nie, is konstruktiewe protes. Ons moet aktiewe burgers wees wat nie verslap nie, maar deurentyd protesteer en agiteer vir ’n samelewing waar almal menswaardigheid ervaar.

Ons moet protesteer deur deurentyd aandag te skenk en raak te sien waar verraad gepleeg word teen die visie van menswaardigheid. En waar ons die verraad raaksien, moet ons dit met behulp van redelike argumente en betroubare getuienis aan die kaak stel en afwys.

Ek kan net stem as my stem my motiveer tot konstruktiewe protes wat verbeeldingryk “ja” en krities en moedig “nee” sê.

Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  2019  |  Rubriek  |  Stemdag  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.