Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jou stem sal nie SA red, maar jou optrede wel
Charles Smith

Noudat die euforie van die verkiesing verby en die nuwe LP’s ingehuldig is, is daar slegte nuus: Min waarvoor jy gestem het of wat dié politici gaan doen, gaan die land oor die volgende dekades red.

Jy het gestem uit vrees of hoop vir ’n stabiele regering, regverdige en ewewigtige besluite, ekonomiese vooruitgang, die reg tot basiese dienste, die beskerming van minderhede en die reg om jou eie taal te kan praat en daarin onderrig te word.

Ons sit steeds met dieselfde hopelose polisie-mag, afgebreek in die Zuma-era, dieselfde stelsel waar kaders vet salarisse verdien as raadslede en burgemeesters en niks doen nie, en dieselfde ongelykhede in die samelewing wat nie een party ernstig is om aan te pak nie.

Terwyl dié kwessies ons land stadig maar seker insluk soos ’n luislang ’n hulpelose bok pap druk en verorber, bly ons veg oor vlae, rassisme, bevoorregting en grond. En stem ons vir diegene wat jou vrees, vooroordele en agterdog uitbuit.

Daar is wel klein genadetjies, soos pres. Cyril Rama-phosa wat die Zuma-niste een vir een uit-werk uit die parle-ment. Dit behoort Ace Magashule sooibrand te gee. Die staatskapers se op-stand lyk na ’n mis-geboorte. Dit gee ons hoop vir ’n meer bestendige politieke tyd as die dekade wat verby is. Mits die ANC hou by sy belofte dat geen grondgrype gaan plaasvind nie en die staatskapers en kroeks in die tronk gestop word.

Ons lewe in ’n bloedstaat met moorde, aanvalle en verkragtings wat toeneem.

Dit is skrale troos vir die families van mense wat elke dag vermoor word. Ons lewe in ’n bloedstaat met moorde, aanvalle en verkragtings wat toeneem. Mense vlug met reg uit die land. Inwoners gaan nog polisiekantore bestorm en slapende konstabels met kieries afstof.

Iets groots skort ook met ons onderwys. Kinders word soos papegaaie geleer in ’n rigiede stelsel waar min verbeelding, ondernemingsgees en kreatiwiteit gekweek word. Solank jy wis-kunde en skeinat as vakke het, en die skool in sport presteer, is alles wel. Min kinders stel be-lang in ons inheemste tale, ons geskiedenis en ons land. Die meeste kinders mik oorsee.

Niks gaan ons red as ons nie die klimaatkrisis aanpak nie. Eskom en steenkool is die drom diesel om ons nek wat ons oor die afgrond trek. As ons R1 triljoen in son- en windplase belê, is ons toekoms baie sekerder. Afrika gaan ’n woestyn word met baie rampdroogtes en -vloede.

Laat vaar die gevegte oor die Spur en vlae. Staan sterk vir jou taal en jou skool, maar hoe meer huise son- en windlaaiers het, en hoe meer kinders dit sélf bou, hoe veiliger is ons. Die poli-tici en hul agendas gaan jou dood kos.

Veg vir een huis, een windlaaier en jy doen meer as hulle.

Bou veilige gemeenskappe. Gaan help in skole, kerke en by armes. Maak die land vir jou en jou naaste leefbaar, dán staan ons ’n kans.

Jou stem gaan nie die land red nie. Jou optrede sal.

Meer oor:  Charles Smith  |  Sa  |  Moorde  |  Politieke Beloftes  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.