Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Judas-hande in Cyril se skottel
Johann Maarman

As die taal van (“doktor”) Ace ­Magashule gedekodeer word, sal Cyril Ramaphosa vir die volgende vyf jaar oë agter sy kop moet hê om te sien wie in die ANC die politieke dolke in sy rug wil druk.

Magashule, die ANC se hoof-mandaryn in Luthuli-huis, het verlede week in KwaZulu-Natal in ’n kwalik bedekte aanval vir Ramaphosa gewaarsku dat die “regte ANC” oor vyf jaar in sy volle glorie gesien sal word.

Dis rooilig-taal. Magashule, wat dalk nog ’n besoekie of twee kan verwag van die Valke oor sy beweerde betrokkenheid by die Vrede-suiwelplaas, het eintlik bedoel Ramaphosa mag dalk nou in beheer van die ANC wees, maar oor vyf jaar gaan die poppe weer dans wanneer die bevrydingsorganisasie weer nuwe leiers moet verkies.

Onthou, Ramaphosa het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma maar met ’n skrale 179 stemme geklop. As die hof nie sekere takke en provinsiale uitvoerende komitees verhoed het om te stem nie, kon die wenmarge onder 100 gaan draai het. In die ANC se topses is daar drie Dlamini-Zuma-simpatiseerders – ­Magashule, David Mabuza en Jessie Duarte. Hulle is die Judas-hande in Rama­phosa se skottel en gaan die lewe vir hom nie maklik maak nie.

Mabuza is ’n politieke swendelaar en stel kwalik daarin belang om binne die volgende vyf jaar president van die land te word. Hy het tyd aan sy kant en sal dolgelukkig wees om as adjunkpresident te dien.

Die presidentspos sal Mabuza reserveer vir Dlamini-Zuma, met homself as adjunkpresident. Die credo op sy monument sal dan kan lees: Die man wat daarvoor gesorg het dat Suid-Afrika sy eerste vrouepresident kry.

Daar is ook nog die JZ-faktor. Mabuza en sy kartel is diep in die skuld by die man van Nkandla. Dit was Jacob Zuma wat hulle die nodige politieke suurstof gegee het om in die ANC te oorleef. Hulle skuld hom.

Kyk maar hoe Mabuza die spel gaan speel. Daar gaan die geveinsde nederigheid wees dat hy sal “dien” waar die ANC hom ook al ontplooi. Hoe dienswillig tog. Hy is mos smetteloos. Dat hy van tenderbedrog beskuldig word, is mos die skuld van mense wat nie radikale ekonomiese transformasie wil of kan verstaan nie.

Net soos Zuma is hy ’n meester in politieke kulkuns. Die kamma-eenheidskandidaat wat hy in Desember voorgestel het met die ANC-leiersverkiesing was blote praatjies. Hy het hom só geposisioneer dat hy gelyk het asof hy die groot versoener in die ANC is. Mabuza het hiermee gewys watter politieke virtuoos hy is. Aan die begin het hy Dlamini-Zuma nie openlik ondersteun nie, maar eers sy hand teen die einde van die leiersverkiesing gewys. Hy het letterlik gewag vir die groot gehoor voordat hy hom aan die kant van Dlamini-Zuma geskaar het. Noem dit skare-intelligensie.

Ramaphosa weet teen dié tyd dat Zuma op sy gevaarlikste is wanneer hy gekwes is. Toe Thabo Mbeki in 2005 vir Zuma die trekpas as adjunkpresident van die land gegee het, het Zuma die land deurkruis en gewone ANC-lede gemesmeraais met die boodskap dat hy (Zuma) die verontregte party is. Dit het toe nie saak gemaak dat hy by korrupsie betrek is nie.

KwaZulu-Natal is Zuma se grond. En dit is hier waar hy Mbeki se graf begin grawe het. Is dit nie ironies dat Maga­shule ook juis KwaZulu-Natal gekies het om ’n waarskuwingskoot na Ramaphosa te skiet nie?

Magashule en sy handlangers het dalk nog nie Ramaphosa se graf begin grawe nie, maar die politieke grafsteensangers het al aangetree vir hul eerste sangoefening.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.