Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Juju ritsel soos ’n ratelslang

Iets groots is verkeerd in ’n land as ’n klomp mense dink dat ’n rassedweper soos Julius Malema ’n lisensie kan kry om karaktermoord te pleeg.

Johann Maarman

Malema is ’n blikskottel (verskoon maar die taal, maar u moet die gevoel kry). Daardie politieke tsotsi’s wat handel dryf as die EFF het die afgelope week in gure skeltaal losgetrek nie net teen Pravin Gordhan nie, maar ook teen joernaliste wat dit durf waag het om te onthul hoe VBS-geld na die EFF se geldkoffers gevloei het.

Soos hulle sê as die granaat bars, dan peul die pitte uit. En Malema en sy jabroer-lakeie hou glad nie daarvan dat hulle nou aan die kaak gestel word nie. Hulle is dan immers die selfaangestelde Mosesse wat die massas ekonomies moet bevry.

Die EFF het die politieke ruimte betree met die mantra dat hulle anders is as die ANC, maar die EFF sê een ding, en sy leiers doen ’n ander ding. Soos in “My voete loop na Wellington, maar ek gaan Worcester toe”.

Malema se onheilspellende dreigement dat die EFF joernaliste sal “regsien” (wat dit ook al mag beteken), wys net watter politieke skollies die EFF is.

Hulle sal tot die uiterste gaan om joernaliste in die tande te skop en te beswadder sodat hul skandes maar onder die kombers kan bly.

Die EFF se beheerbehepte mandaryne dink hulle is die alfa en die omega en kan elkeen wat durf om met hulle te verskil voor die voet beledig en dreig.

Hierdie taktiek dra die stempel van Malema se politieke styl van maneuvreer, manipuleer en versluier.

Wat kan Malema hierdie land bied anders as om te polariseer, want hy het absoluut niks wat hom kwalifiseer om eendag president van die land te wees nie. Buiten een ding: Hy weet hoe om sy ondersteuners se hartsnare te roer.

Die massas wat vir ’n beter lewe soek, kyk na sulke mense soos Malema op ’n verhoog of op TV en sê: Ek sien iets van my in daardie man. Én hy sien my raak. En hy praat my taal.

Dit is asof Malema ’n blad uit Ronald Reagan se boek geneem het. Reagan het gesê: “They must fear you and revere you.”

In die EFF word Malema gevrees en aanbid. Hy is die opperbevelvoerder van die rooi brigade en bepaal die hoogte van die dwarslat in sy party.

Dié land is eenvoudig te kosbaar vir al sy mense om deur ’n paar swape teruggesleep te word na die duisternis van rasse-dweepsug.

Die werklikheid is dat Malema ’n ideologiese gyselaar van gefossileerde sosialiste denke is, maatskaplike kohesie bestaan nie in sy woordeskat nie en hy put verskriklik genot daarin om die rasse-tamboer in sy peetjie te slaan.

Dié land is eenvoudig te kosbaar vir al sy mense om deur ’n paar swape teruggesleep te word na die duisternis van rasse-dweepsug.

Onthou, Malema is hongerder as Jacob Zuma omdat hy en sy kohorte die geld en die mag om nog geld te laat vloei, bitter nodig het. En dit maak hulle desperater en sluwer.

Die tragiese realiteit in ons land is, dat hoe meer van die massas Malema bewierook, hoe moeiliker maak dit Cyril Ramaphosa se nasionale projek.

Daarvoor moet ons die rassedwepers soos Malema en Floyd Shivambu bedank, wat met soveel onverdrote ywer werk om ras die bepalende kwessie in Suid-Afrika te hou.

Politieke ketters soos Malema moet gestuit word, want stuit ons hom nié, kan jy maar Zanu-PF in vet letters oor Suid-Afrika se toekoms skryf. Ras is alles in die EFF. Gewone politieke natuurwette geld nie. Ook nie gesonde verstand nie. In die EFF word gespeel volgens Zanu-PF se reëls.

Malema is gewoon ’n rasse-demagoog, ’n man wie se argumente altyd op emosie en selde op feite geskoei is.

  • Laat ons Malema nou stuit, want hy ritsel soos ’n ratelslang. Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.