Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: As statusse vir vigs al soos krapkaarte begin word

Vyf treë vanaf die betaalpunt in die supermark kom skud die pastoor gou blad. Langs hom is ’n plakkaat wat ’n goeie afslag op die prys van tweeminuut-kitsnoedels aandui.

Met die fyn leesbril en effens grys hare aan die slape, het die godsman ’n amper magnetiese gemoedelikheid. Sy werk is met die siel van die mens, maar, sê hy later in die gesprek, sy main werk is (eerder) met die gesondheid van mense, om hulle berading te gee.

Dis waar ja, want dis immers waar die grootste en mees tasbare nood tans in van die Strand se buurte is.

Hy is die gepaste oor om te vra oor ’n kwessie wat al lank pla: Hoekom ’n mens deesdae so min in die media van MIV/vigs hoor. Destyds het die koerante en televisie die woord “vigs” so uitgebasuin dat mense in vrees was, half bang om selfs diegene met dié siekte onder lede aan te raak.

Man, reken hy, met ’n diep sug, sy oë nadenkend, die saak volg maar die geld, jong. Hy sê die geld vanaf die internasionale fonds is nie meer beskikbaar vir direkte MIV/vigs-aanwending nie, maar vir kapasiteitsbou.

Dan vertel hy stories oor inwoners hier by wie vigs gediagnoseer word. Van hulle is suksesverhale, ander volslae hartseer, en hoe die pas gediagnoseerde persoon op die verpletterende nuus reageer.

Hy sê hy stop onlangs drie skoolseuns langs die pad. Hy wou weet hoekom die drie nie in die klas is. Nee, pastor, ons gaan om hom te support, hy gaan sy status hoor, sê een van die seuns.

Die pastoor sê laatmiddag kry hy weer die drie en roep hulle nader. Nee, hy is HIV-positive, sê die betrokke seun toe. Ja, nou is ons al drie positive, voeg sy maat agter hom by. Nou gaan hy éérs die meisies bykom, sê die einste seun toe. Die pastoor sê hy moes net daar in daai nou straatjie met die HOP-huisies ingryp, met die jongman praat en hom hoop help gee.

Hoekom hoor mens deesdae so min van MIV/vigs?

Ek dink ons staan die till toe, skimp ek – die teller en pakker hier voor ons sit-staan al verveeld, en die klante kies koers elders.

Die pastoor skuif bietjie weg. Hy vertel voort, van die jong meisie wat positief gediagnoseer is en die suster by die kliniek wat haar toe nie voorbehoedmiddels gee nie, oor dié kwansuis “ouderwets” (seksueel aktief) is.

Hy vertel dan van die getroude vrou wat ’n buite-egtelike verhouding gehad het en toe die uitslag kry dat sy MIV-positief is. Sy was in doodsangs om haar man te vertel en het die pastoor kom spreek. Hy bel toe die man. Toe dié opdaag, het die vrou in trane uitgebars en hom alles vertel.

Die man het net daar stil geraak, gestaar daar na die almanak teen die muur, sy baard gekrap. Toe bars hy in trane uit.

Hy sê toe dat hy aan hul troubeloftes van destyds dink: dat hy sy vrou bystaan in lewe en in dood, deur dik en dun. Die man het toe opgestaan, na sy vrou geloop en haar styf omhels.

’n Aandoenlike toneel, sê die pastoor.

Sy oë blink onder sy bril. Hy sê daar is hoop op die horison. Suid-Afrika het sowat 7 miljoen vigslyers en die syfers sê daar is sowat 4 miljoen op antiretrovirale medisyne. Die getalle is steeds kommerwekkend hoog, sê hy, en vertel van ’n buurt in die Helderbergkom waar die syfer van mense met MIV/vigs so hoog soos 27% is. Hy sê die nuus van ’n mens se vigs-status kan jou laat ineenstort – en indien daar nie onmiddellike hulp en ondersteuning is nie, kan jy figuurlik vroeg sterf. Wag, hy moet sy loop kry, die vrou het hom gestuur, sê hy toe.

Ek kry vier krapkaarte vir my aankope. In die motor haal ek ’n muntstuk uit en begin sommer op die stuurwiel die kaarte krap. “No Prize”. Vier keer!

Ek smyt die kaarte by die ander in die stoorplek in die deur.

Meer oor:  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.