Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Die draad is verlore, maar vir die baard is daar hoop

Dennis het in die 1980’s altyd koerantfoto’s van mense met Afro’s met genoegdoening bekyk. Sy eie was toe self netjies en groot. Wanneer hy sy bell bottom-broek en blink platformskoene aangetrek het, was die kam met die lang tande in sy broeksak gedruk.

Hare was ’n issue toe – een so groot soos sy eie Afro.

Sy drie susters het ’n struggle gehad met hul kroeshare.

Oor naweke is die tjoepies Wellastrate-haarmiddel by die Indiërwinkel gekoop. Die wit room is onder die vyeboom agter die huis goed ingesmeer.

Die chemikalieë het skerp geruik en die vibracrete-mure het nie net die bure se nuuskierige oë weggekeer nie. Die nat hare is agterna in curlers ingedraai, met ’n pennetjie deur. Daarna is huiswerkies gedoen, gesit en lees of buite rondgeloop – dat die son die werk droog kry, met ’n titsel vitamien D.

Dennis had ’n groter stryd, want hy het vas geglo dat die meisies van daardie tyd ouens soek met gladde, straight hare. Soms het dit vir hulle gelyk of meisies ou­tjies met hare én met karre voorkeur gee. Hy het geglo as jy nog ’n ligter vel ook gehad het, was dit ’n bonus.

Op sy dorp sê hy was daar baie ouens, veral van die “moslimlaaities”, wat sulke hare gehad het én Golfies gery het. Dennis het ’n ou Ford Escort, wat hy en sy neef opgebou het, gery. As hulle twee dan daarmee ry, het dit vir mense gelyk soos twee “vuurhoutjies” – albei het groot Afro’s gehad – op die voorste sitplekke.

Dennis se eie Afro was groot.

Op skool was Dennis se selfvertroue kniehoogte, mét ’n hakkel. Eendag kom ’n blaps toe hy sy Afro met sy susters se haarmiddel takel. Op pad skool toe, sak daar ’n onverwagte reënbui uit. Hier kom Dennis by die skool, hare nat én glad, sulke slierte oor sy voorkop. Die verbasing van die leerlinge en die gelag was een groot verleentheid. Toe brand sy kop ook nog, want die nattigheid het die oordosis chemikalieë geaktiveer en hom vir ’n week met rofies op sy kopvel gelaat. Dit was gewis die laaste sien van die Wellastrate-treatment.

Dennis is met ’n beurs universiteit toe. Daar het hy toe sy meisie gekry, ’n eerstejaartjie van Keimoes in die Noord-Kaap se wêreld en soos hy dit toe met groot vreugde gestel het, “met ’n ligte vel én ’n mooi draad”. Dennis het dan geklink of hy die destydse en moerse groepsdruk van “moet mooi en gladde hare hê”, soort van geskaakmat het.

In die onstuimige jare van die 1980’s was Dennis midde-in die politieke onrus op die kampus. Onder die studenteleiers was daar baie manne soos hy met Afro’s, het hy later vertel, “manne wat onbevrees die horde studente in opstande teen die Casspirs en groot geboude Transvaalse polisiemanne gelei het”.

Dennis was in awe: Hier het studente, met kroes en gladde hare sy aan sy geveg teen ’n gewraakte politieke stelsel en het die kampus se hoëkoppe en akademici op ’n dag, sy aan sy, hoofhek toe gemarsjeer.

Ek dink daar het Dennis van sy kroeskopkompleks herstel en is hy sommer ook van sy hakkel genees. Die politieke stryd op die kampus het hom van sy eie stryd genees: Die stryd vir straight hare, dat die draad van jou hare mens nie meer- of minderwaardig maak nie.

Toe ons die afgelope week oor die berugte Clicks-advertensie gesels, was Dennis, nou bleskop, besig om sy grys baard met ’n curler te kam.

“Hoe kon Clicks so dom wees om ’n advertensie toe te laat wat suggest dat swart mense se hare kroes en wit mense s’n glad is, het hy half ergerlik opgemerk.

“En die politicians wat die issue soos ’n vlieg op ’n stuk stront gryp – vir political points! Volgende, dan gaan hulle kla oor mense met wit kryt op swart borde skryf of dat bruinbrood goedkoper is as witbrood.”

Dan sê hy met genoegdoening: “Hei, die grys bare kom lekker straight uit.”

Sug. The struggle continues.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.