Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Die soektog na vryheid het opwinding en 'n afsterwe

Die brul van die leeumannetjie in die Karoodorp Sutherland se polisiesel is ’n diep alliterasie van hoofletter-R-klanke.

Dié oerklank het in my geheue vasgesteek, want terwyl die dier met die geel oë met groot onrustige pote op die sementvloer staan, klink dit of die persoon wat die selfoonvideo vanaf die sifdraad oor die oop dak, ’n driedimensionele greep van potensiële gevaar, digitaal probeer vaslê, die dier terg. Dit lyk egter ook asof die leeu verby dié hanswors na die oop, yl blou lug daar ver bo kyk.

Mufasa was 26 dae lank op vrye voet. Ná ’n reënbui het hy onderdeur die draadheining van die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes gekruip en noordwaarts na die oop vlaktes ontglip. Met gesoute spoorsnyers meedoënloos agterna, met soms ’n helikopter wat soos ’n reuse-naaldekoker bo die soekgeselskap huiwer, is die groepe oor berg, dal en vlaktes. Soms sou die dier dalk onder ’n oorhang of doringboom, die tong ver hangend na buite, diep teue asem skep, voor die vlugtog verder.

Ek sou self ook daar in die Karoolandskap na ta wou help soek, net om die opwinding, die gevaar, aan te voel.

Waarheen was die dier eintlik op pad, ’n epiese katvoettog na vryheid – om weer net leeu, wild in ’n natuurlike habitat te kan wees, die oerdrange vasgegom in DNS uit te leef, myle ver van ’n daaglikse weemoedige gebulk in gevangenskap, waar mensehande jou voed?

Spoorsnyers, die polisietaakmag en helikopters met hittesensors het die spoor gevat om die killer couple aan te keer.

Maar, jy sien ook die wilde dier se killer instinct in sy vlugtog: die bebloede wol-bolle van angora- en merinokarkasse, jy hoor die verbouereerde blêr van ’n bokkie wat deur die einste leeu geklap is.

Met oeroue spoorsnytegnieke en moderne infrarooitegnologie is die leeu later opgespoor. Die dier was so uitgeput dat hy nie soos vroeër oor die grensdrade kon spring nie, sy vlug gestuit deur ’n doofpyl.

Die leeu is oornag in polisieselle gehou, voor die oggend se reis terug park toe. Langsaan was ’n man aangehou wat glo ’n 82-jarige weduwee bedrieg het uit ’n baal lusern.

Dit was nie die eerste keer dat ’n leeu in dié rigting vlug nie, myns insiens sekerlik nie die laaste keer nie, maar met elke soortgelyke insident word ook oeroue heimwee na epiese reise, avonture in mensehart losgewikkel.

Sowat 18 jaar gelede het die Franse egpaar Philippe Meniere en Agnes Jardel ook ’n soort epiese reis aangepak, toe hulle uit die stadslewe van Johannesburg na Su-therland getrek het. Hulle was deel van ’n godsdienssekte wat geglo het dat die wêreld in 2012 sou vergaan, en dié twee het gedink dat, sou die tyd aanbreek, dié Karoodorp dan die beste plek sou wees vir die “oorgang na ’n ewige vryheid”. Hulle het hulle voorberei deur hulself te bewapen, ammunisie te vervaardig, bokse vuurhoutjies, seep, blikkies voedsel en vreemd genoeg ook kondome op te gaar. Dié vreemde gedrag en kluisenaarsbestaan het die boere en dorpenaars ’n dekade lank aan die raai gehou.

Toe, in Januarie 2011, besoek polisielede skielik die huurhuisie op die plaas – oor dié vermoedelik ongelisensieerde vuurwapens. In ’n woordewisseling skiet Meniere ’n polisielid dood en sy vrou wond dié se kollega in sy verbouereerde vlugtog in die rug. Toe vlug die egpaar die vlaktes in. Dae lank was hulle skoonveld.

Spoorsnyers, die polisietaakmag en helikopters met hittesensors het die spoor gevat om die killer couple aan te keer. ’n Week later word hulle in ’n verlate plaashuis opgespoor. Die taakmaglede het die huis bestorm en skokgranate gegooi, terwyl ons joernaliste ’n ent verder buite die plaashek geskok toegekyk het. Daar was ’n knetter van skote, ’n vrou het in doods-angs geskree. Toe doodse stilte oor die Roggeveldberge.

Ek dink baie aan die egpaar en hul reis na ’n “ewige vryheid” en hul tragiese einde. In my geestesoog sien ek dan die verwagtinge, die wind in hul hare, so ook in die maanhare van die vlugtende leeus.

Was mens en dier op soek na ’n relatiewe vryheid? Het hulle ook geweet dat op so ’n pad, die noodlot jou pad kan kruis, jy kan bloei, of selfs iets afsterf?

Julian Jansen

Strandloper

Meer oor:  Julian Jansen  |  Mufasa  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.