Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Elke kruispad het sy eie unieke storie

“Nee, ek wil nie geld hê nie. Ek soek net ’n bietjie geselskap,” sê die bedelman hier langs die geparkeerde motor by die Dorpsmeent in die Strand.

Daar lê ’n soort eerlike hartseer in sy grys oë, terwyl hy al geboë nader aan die oop motorvenster beweeg, tesame met ’n sweempie alkohol in die vlak asemhaling.

In die somerhitte het ek hierdie skadukol en stilte onder die bome opgesoek om ’n persoonlike krisis te bepeins. Nou hou ek die muntstuk half terug.

“Almal vat my altyd net as ’n hond, maar ek soek ook net ’n bietjie liefde, al is dit net een Epol’tjie.”

Die man wys dan met vuil vingers hoe klein hy dit eintlik bedoel.

Ek sit nog steeds agteroor in my sitplek, my regterbeen half by die venster uit, die regtervoet op die syspieëltjie.

Daar gaat my rustigheid, dink ek nou effens omgeëllie, maar ek verneem vriendelik na sy welstand.

“Wat is u naam?”

“Kan ek vir jou bid?” vra Hannie skielik, half smekend. Voordat ek verbaas kan antwoord, laat hy hoor: “Gee my jou hand.”

Die vraag stem hom verbaas: “U noem my ‘u’?” Hy buk nog meer, sy gesig hier by myne. “Weet u hoeveel beteken dit vir my? Dit laat my ook belangrik voel?” sê hy.

“U kan ook mos ’n ‘u’ wees,” laat ek met ’n glimlag hoor.

“My naam is Hannie, meneer. Net nie die soet een, hoor.” Hy spel dan sy naam afgemete.

“My ma het my Izak gedoop, maar almal ken my as Hannie.”

Ons gesels verdiep, soveel so dat ek uit vertroue oor my huidige kruispad praat.

“Kan ek vir jou bid?” vra Hannie skielik, half smekend. Voordat ek verbaas kan antwoord, laat hy hoor: “Gee my jou hand.” Só sit ons met geboë hoofde terwyl Hannie hemelwaarts smeek vir krag, “vir hulp met Julian se ‘kruispad’ ”.

Hy kwoteer teksverse uit die Bybel met akkuraatheid, tot by sy sin: “ . . . soos ’n boom geplant by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd . . . Wel, of dit nou . . . lemoene of . . .koejawels is,” gaan hy voort. “Dit mag dalk soos ’n grap klink, maar bome gee tog verskillende vrugte.”

Hy dink seker nou hardop, dink ek.

Daar is ’n lang stilte, sy kop kom op my knie te ruste. Hannie is doodstil. Moeg, dalk uit woorde uit?

Met ’n “amen” beëindig ek sy gebed.

Hannie is skielik haastig, hy moet nog terug na die verkeersligte naby die stasie. Hier probeer die eertydse tiler in wind en weer ’n inkomste uit die verkeerstroom maak.

“Wag eers, hier’s ’n iets.” Ek hou die R10-noot na hom uit.

“Nee, hou dit vir jou, vir jou krisis,” laat hy vriendelik dog beslis hoor. “Nee vat, seblief,” sê ek.

“Oukei, dankie, ek gaan ’n cigarette koop,” sê hy met ’n buiging voordat hy verkas, tussen mens en motors verdwyn.

Ek het nog ’n rukkie vertoef, verwonderd oor die gebeure, terwyl ek ook vir Veronica saam met Hannie sien bedel. Die blondekopvrou vertel vir almal sý is ’n “stoere Blou Bul-supporter”. Oorkant staan Gavin, met die afbeen, huppelende op sy krukke. Dié verkeersligte is ’n kruispad, waar ’n rooi verkeerslig ’n geldstuk bring vir ’n eetding, of ’n goedkoop dop om dalk die swaarkry te verdoof, of dalk net een dag te oorleef.

As die ligte groen slaan en die bestuurders haastig en half verlig wegtrek, staan die bedelaars verleë opsy, kyk na die opgedraaide ruite en soms ’n vuil kyk.

Wanneer ek ook hier stop en soms roep dat ek “nie vandag iets het nie”, antwoord hulle meestal blymoedig: “Nee, dis reg, meneer, u kom mos weer hier verby!”

Hulle is dalk reg, ons kom gereeld by dié kruispaaie – indien nie nou nie, wel later.

Ek lees tans aan die boek Die braambos bly brand, wat onlangs die lig gesien het. Dié boek is ’n versameling van bekende, ander minder bekende openbare figure. Daarin pak elkeen in ’n hoofstukkie uit oor een of ander kruispad uit hul persoonlike lewens. Elke skryfstuk is dan ook gekoppel aan ’n spesifieke Bybelvers. Elkeen se storie roer die hartsnare.

Ek wonder wat Hannie in sy hoofstuk sou skryf, indien hy ook ’n skryfplek sou kon kry. Oor sý kruispad.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.