Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Haal sellofaan af en sien die boosheid teen ons boere raak

Die droogte het sy wurggreep op die boere doer in Namakwaland, die Suid-Kaap en Karoo gehad, sien ek toe ek die sellofaan van die pak skaapvleis aftrek en teleurgesteld na die piepklein skaaptjops, half versteek deur drie groterige stukke vleis, staar.

In dié krisistyd het ’n Noord-Kaapse beesboer en perdeteler verlede maand sy eie lewe geneem. Sy seun glo die droogte se houvas het sy pa, hul broodwinner, help knak. Nóg boere wou al dié boer se pad volg, word vertel.

’n Agri-hoë sê oor dié hartseer dat die staat voete sleep om die droogtegeteisterde gebiede tot rampgebied te verklaar.

Buite die oog speel ware lewensdramas af in derduisende teksboodskappe op sosiale media. Iemand uit ’n boeregemeenskap doer diep in die binneland stuur gereeld skermgrepe vir my uit hul WhatsApp-groep. Die dialoog hiervan lees soos dié van ’n riller-draaiboek, met baie sinne asof toegedraai in papier van vrees, onsekerheid, suiwer angs.

Verlede Sondag is die wynboer en brandewynstoker Stefan Smit op sy Stellenbosse plaas Louiesenhof deur ’n klapmusbende in ’n soort teregstelling vermoor, dieselfde man met wie ek verlede jaar gesels het toe hy midde-in sy hofstryd met grondbesetters gestaan het. Smit het tot kort voor sy dood dreigemente ontvang: Ons kóm vir jou.

Kort ná die aanval kry ek ’n boodskap van ’n bekommerde pa. Sy seun is op dieselfde plaas en dié het iets gehoor wat soos ’n skoot klink. Hy hou sy deur gesluit, die polisie en ambulans is nog nie daar nie, sê die pa.

‘Wat gaan dit vat voor die regering dit erken?’

Twee dae later is daar nog ’n plaasaanval ’n klipgooi daarvandaan. Ek kry selfoonskermgrepe uit die boeregemeenskap.

Een boodskap is afgemete: “Dankie. Voel soos ’n mini-oorlog. Ons is almal gevra om huise te sluit en ons self te bewapen. Die ouens is hier in die area te voet en word nou gejag. Ek hoop en bid hulle word gevang.”

Dan vra die afsender: “Julian, waar kom die vreeslike haat vandaan wat uitbars of aangevuur word? Hoekom het ons dit nie in Nelson Mandela en Thabo Mbeki se tyd gesien nie? Dit eskaleer by die dag. Maar as die media dit op die voorgrond hou, kan dit dalk erken word as ’n probleem. Ons minderheidsgroepe gaan voor die voet afgemaai word, en ek oordryf nie nou nie. Wat gaan dit vat voor die regering dit erken?”

Die moord op Smit kom ná 20 moorde in 184 plaasaanvalle tussen 1 Januarie tot einde verlede maand. Georganiseerde landbou trotseer houe op die krop van die maag, en vrees verlam hulle.

’n Belangrike faktor is die ongebreidelde uitbreiding van dorpe en stede en reusagtige plakkerskampe wat omringende plase begin verswelg. Daarmee saam het sosiale euwels soos misdaad, gevoed deur armoede, toegeneem en hordes plakker-gesinne soek ’n permanente blyplek.

Pres. Cyril Ramaphosa het in April plase by Stellenbosch besoek, en was ironies ook op die plaas van Smit se buurman. Toe het Ramaphosa gesê grondhervorming is ’n werklikheid, dat boere dit nie moet vrees nie, maar moet aangryp. Dat die proses menswaardig en volgens die letter van die wet en die Grondwet uitgevoer sal word en nié deur grondgrype sal geskied nie. Ook dat die proses ’n balans sal skep tussen gemeenskappe, tussen boer en werker.

Maar plase het gefortifiseerde enklaves van produksie geword. Boere voer ’n oorlewingstryd teen die terreuraanslag op voedselproduksie.

Opmerkings deur die Black First Land First-beweging dat hul “groot teiken” Wes-Kaapse plase is en dat “vrywilligers” gesoek word om dié besetting te bewerkstellig, bots lynreg met dit wat Ramaphosa plegtig en duidelik belowe het.

Ook die opmerking deur die beweging se leier dat selfs die meer as 60 interdikte teen hulle hulle nie sal stuit nie.

Is die booswigte grondbesetters, plein opportunistiese misdadigers of bloot georganiseerde ontwrigting van landbou?

Ramaphosa móét die sellofaan van die verpakte haatspraak aftrek, maar ook die ontblote vrees in die boeregemeenskap daadwerklik aanpak. Is die politieke wil daar, of is dit te veel gevra?

Meer oor:  Julian Jansen  |  Plaasaanvalle  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.