Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Kind is die verloorder as pa en ma baklei

’n Pas afgetrede Bolander was verlede week stert tussen die bene toe die hooggeregshof beslis dat sy onderhoudsplig ten opsigte van ’n mediese fonds aan sy eksvrou bly staan.

Hy het die hof genader om ’n klousule in sy skei-ooreenkoms aan te pas, aangesien hy ’n derde van sy R12 miljoen-pen­sioenuitbetaling aan haar betaal het. Hy het gereken dat sy darem nou ’n bietjie “ryker” is en nou self haar mediese fonds kan betaal.

Die hof het egter sy oorspronklike ooreenkoms voor sy neus geswaai: dat hy onderneem het om sy eks se lidmaatskap van ? mediese fonds, wat soortgelyke voordele en drempels bied as sy eie mediese fonds, op sy koste uit te neem en te betaal tot haar hertroue, afsterwe of totdat sy ’n permanente lidmaatskap van ’n mediese fonds bekom.

Duisende eksvroue en enkelma’s sou hul voortande gee vir so ’n ses­syfer-uitbetaling. Dis egter slegs ’n breuk van wat hulle beskore is, want die grootste gros sukkel daagliks, indien nie jare nie, om onderhoud van hul kind se pa te kry. Van dié groep is die meeste jong ma’s, arm, ongetroud en sonder enige tersiêre kwalifikasies of formele vaardigheidsopleiding.

Of hulle weet bloot nie hoe die onderhoudshowe (kan) werk nie.

Op my dorp is honderde vroue wat die pot aan die kook moet hou, waar die pa van haar kinders werkloos is, sonder enige kwalifikasie sit of ook in armoede vasgevang is. Of waar die pa die ma vir een of ander rede aan die raai hou en hy dus nie betaal nie.

Dikwels lees die teksboodskappe tussen die twee soos ’n dialoog uit ’n grufliek.

Hulle weet bloot nie hoe stelsel werk.

Soms laat vaar die ma maar die regspad – om die pa tot aanspreeklikheid te roep – omdat hy so gou aggressief word en sy vir haar lewe vrees.

Ons praat nie eens daarvan dat van die pa’s in die tronk sit, by bendes betrokke is, ’n ongeskiktheidstoelae van die staat ontvang of bloot net soos mis voor die Afrikason verdwyn het nie.

’n Ma vertel my stories van erge mishandeling, oor hoe sy haar “eerste pak slae” gekry het ses maande ná hul troudag.

Sy is pas geskei ná 12 jaar se mishandeling en haar geveg om kinderonderhoud te kry het pas begin.

Nog ’n vrou wat in dieselfde bootjie is, sê die staat se stelsel om onderhoud vir desperate ma’s te bewerkstellig het haar oneindig gefrustreer, wat nog te sê vir baie vroue wat nie hul regte of die stelsel vir onderhoud verstaan nie.

Sy sê almal sukkel: wit, swart, bruin, ook ryk en arm.

Dat rykes geld kan rondgooi om die beste regsverteenwoordiging te bekom, maar, aan die einde van die lang dag stap die regsmense heerlik bank toe. Daardie geld is egter geld wat na die kinders toe kon gaan.

In die arm gemeenskappe gaan dit chaoties, want vroue hier sukkel vir jare in die stelsel en met die pa’s.

Sy sê reguit: Dié mans weet ook presies hoe om die stelsel te systap.

Hy sal byvoorbeeld met sy eerste verskyning voor die onderhoudshof sê: “Ja, die dagvaarding is nie korrek aan my beteken nie.” Dan, met sy volgende verskyning, sê dat hy net R500 per maand kan betaal, terwyl die kind R1 000 benodig.

“So, wat help dit ek het ’n hofbevel? Kan ek met dit by die winkel gaan kos koop, of skoolgeld gaan betaal?”

Sy is doodseker dat mans net die ma van sy kind wil bykom oor hy dalk die voorsiener was en sý dit nou moet wees.

Mans weet die staat het nie genoeg mannekrag om agter hom aan te kom nie, sê sy. Sy self moes haar lewenstandaard drasties verlaag het, terwyl haar eks ’n baie groot salaris verdien.

Daar’s ma’s wat hul ondernemings verloor het, hul motors moes prysgee, sê sy.

’n Ma moet al dié laste dra, ’n depressie wat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie.

Dat ’n land met ’n stewige Grondwet én Kinderwet se vroue so moet sukkel, gaan haar verstand te bowe.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper  |  Kinderwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.