Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Koronavirus: Natuur se selfregulering?

Die omvang van Covid-19 se dodelike en wriemelende tentakels het by my ingesink ná ’n teksboodskap van my skoondogter dat my tweejarige kleindogter se verjaardagparty afgeskaal word tot slegs nabye familie.

Slegs die oproep van my verbouereerde huiswerker, wat vra of sy van die huis af kan werk, het my meer geamuseerd gelaat.

Die afgelope week het ons redaksiespan van die af huis gewerk en die koerant wat u nou vashou, is feitlik “tuisgemaak”. Ek kon ook tussen blaaskansies ekstra speeltyd met my twee jack russell-hondjies geniet, gou aartappels skil of wasgoed in die masjien sit.

By ons plaaslike supermark het verbouereerde kopers, soos elders, sekere winkelrakke feitlik gestroop. Die rakke met toiletpapier en gebakte bone was leeg – wat ’n vreemde kombinasie! Van botteltjies handreinigers was daar geen sprake nie.

Ons plaaslike inwoner en wêreldkampioen-barista het Vrydag getrou en moes – ná pres. Cyril Ramaphosa se “korona-speech” en versoek dat nie meer as 100 mense saam vergader nie – inderhaas sy 120 gaste vra om eerder tuis te bly as hulle olik voel.

In die VGK-gemeente Strand word die erediens nou in skofte gehou. Niemand moet mekaar met die hand groet nie en families moet bymekaar sit, maar so ver moontlik van ander; slegs ses persone in ’n bank. Lidmate met gesondheidsprobleme moet liewer tuis bly.

Die volgende paar weke gaan vir die wêreld maak of breek wees. Elke land, provinsie, dorp, stad, familie, gesin en individu móét verantwoordelikheid aanvaar vir hul welsyn en voorsorgmaatreëls streng volg.

Mag dit nie net ons denke verander nie, maar ook ons harte.

Plaaslik staan die sterftesyfer nog genadiglik op zero. Dié syfer kan miskien laag bly as ons met “Mzanzi Magic” die virus se stert (baie vinnig) kan knoop.

Die verstikkende impak van die virus word op elke vesel van die samelewing gevoel, dit is knaend, lastig en oorheers elke aspek van ons bestaan op die moederskip aarde. Die paniek is nie soos in ’n gruwelfliek nie, maar ons is in ’n veeleisende proses gereduseer tot meelewende karakters met angstige oë en versigtige asemteue. Tussendeur beloer ons omstanders met agterdogtige oë, ons ore gespits.

Ons neem ook kennis dat die intensiteit van die siekte in China, waar die virus uitgebreek het, nou aan die afneem is. Lande in Europa en ook elders het egter voete gesleep om met uitgebreide maatreëls die pandemie betyds aan te pak en sit nou met enorme sterftesyfers.

Tans knaag en grawe die virus soos ’n alewig opgewerkte jack russell deur die lande se “bestaande stelsels”. Die goeie gevolg is dat die siekte hul stelsels aggressief toets en dat regerings inderhaas strategiese aanpassings moet maak.

Die intensiteit van die siekte word dalk gemeet aan die duisende lewensverliese, maar moet ook gemeet word aan die byna katastrofale ontwrigting van burgerlikes se daaglikse lewe en meer: astronomiese geldelike verliese in die ekonomie. Indien die virus sy spoor oor die komende weke vermeerder, sal kasregisters sagter sing, klein sakeondernemings in duie stort, salarisse verminder word en onafwendbare afleggings volg – ’n nimmereindigende tsoenami.

Ons weet ook dat epidemies en pandemies al oor die eeue plaasvind, krisisse van epidemiese afmetings veroorsaak en met hoofsaaklik menslike ingryping weer verdwyn. Mag dit nie net ons denke verander nie, maar ook ons harte. So herinner ’n geleerde vriend my dat die natuur ingeboude selfregulering as meganisme het, sodat ekostelsels weer in ekwilibrium kom ná die krisis. Dat, sou byvoorbeeld die getalle van die muisbevolking, weens ’n oorvloed aan voedsel, vermeerder, die slangbevolking se getalle ook sal vermeerder en omgekeerd.

Hy sê virusse, soos korona, het ook daardie eeue-oue rol – om die groeiende mensebevolkings “in toom te hou”, soos die Middeleeuse builepes en meer onlangs voëlgriep, varkgriep en die Ebola-siekte. Die mens is dalk “slimmer” en veg hard teen dié selfregulering van die natuur, sê hy.

Daar gaan nog forever siektes soos korona kom en Suid-Afrika, met sy amper 59 miljoen mense, moet nie dan broek om die enkels gevang word nie.

Soms wen jy, soms leer jy.

Meer oor:  Strandloper  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.