Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Lastag, die rottevanger

Die vraag in die bendewêreld is: Wié is volgende ná Ernie “Lastag” Solomon se moord, sê ’n bendekenner kort ná die teregstelling verlede Vrydag in Boksburg van dié gewese Terrible Joster- en 28-bendebaas.

Dis die jonges wat nou oorvat en die oues aanvat. Vir die 62-jarige Solomon het, benewens die wet van die nommers, ook dié van die natuur waar geword: dat die afgeleefde leeu gedwing word om die trop te verlaat, of deur die jonges doodgebyt te word.

Vier dae nadat die 16 dae van aktivisme-veldtog teen geweld teen vroue en kinders begin het, moet die verwoestende impak van die nommers in gemeenskappe nie misgekyk word nie. Menige gemeenskap het hul eie Lastag, ’n soort “rottevanger van Hamelin”. In dié Middeleeuse legende speel ’n man op sy fluit sodat die rotte, wat ’n plaag in die dorpie geword het, agter hom aanskarrel totdat hulle oor ’n afgrond val. Toe die dorpenaars op ’n dag nie die fluitspeler wou betaal nie, het hy weer op sy fluit gespeel sodat die dorp se kinders, op sy deuntjie, agter hom aangeloop het . . .

Sonder disrespek vir die dood van Lastag, moet daar erken word dat agter dié man, wat soms wyd in sy tuisdorp, Hawston, gerespekteer is, ’n rits verwoeste lewens lê en al was dié verwoesting dalk nie deur hom nie, het baie dalk in sy naam, sy nommer, gebeur.

Lastag was ’n gevreesde bendeleier, aanvanklik bekend as “Terrible” en ’n lid van die vreesaanjaende Firm, ’n groepering van verskillende bendes. Hy was ook ’n leier van Community Outreach (Core), destyds deur bendeleiers gestig om vrede in gemeenskappe te bewerkstellig, maar wat later meer ’n rookskerm vir misdaadbedrywighede geword het.

Kyk na die begraafplase, sê hy, dis vol jong mense.

Lastag, die pa van minstens agt kinders, die meeste met Italiaanse name, sy “sagter” kant, dié van ’n duiweboer, ’n kletsrymer met sy eie CD en iemand wat sy Khoi-wortels gekoester het. Sy familie was soos Hawston se eie Sopranos, na die bekende mafia-familie in die TV-reeks The Sopranos.

Die donker politiek in Lastag se uitgebreide familie het hom konstant aan die beweeg gehou.

Destyds is sy eenjarige dogtertjie tydens ’n bendeskietery in die been gewond. In Mei vanjaar is Lastag en sy seun in ’n wilde skietery op Hawston geskiet. Verlede week is sy dogter en kleinkind in die dodelike aanval op hom ernstig gewond.

Die private speurder Mike Bolhuis het kort ná die voorval gesê Lastag was ook die leier van die Terrible Josters in Reigerpark, Boksburg.

Lastag het altyd ’n chauffeur vir sy gepantserde voertuie gehad, maar verlede Vrydag was hy self agter die stuur van sy BMW toe onbekende aanvallers in King­fisherlaan sy motor tussen twee voertuie inhok. Toe die gewere se koeëls nie die dik motorvensters kon penetreer nie, is sarsies skote deur die motor se dak gevuur, dat daardie kol agterna soos dié van ’n vergiettes gelyk het.

Die bendekenner sê almal het geweet Lastag gaan nog val, dat Lastag dit beslis ook sou geweet het.

In ’n video oor die fliek A Lucky Man, wat in 2013 oor Lastag gemaak is, praat hy met dekades se kennis oor die bendenommers en ook half profeties oor sy toekomstige dood. Hy sê hy vertel vir niemand waar hy sy hoof saans gaan neerlê nie – oor die nommer. Dat seuns, van dieselfde ma, mekaar doodmaak. Dat daar baie kinders is wat opgroei sonder ’n pa, as gevolg van dié nommer.

Kyk na die begraafplase, sê hy, dis vol jong mense. Oor die nommers. Jong mense moet wegbly van die nommer, want dis moeilik om daaruit te ontsnap. As jy in is, bly in. As jy uit is, bly uit, anders sal jou eie broers jou doodmaak oor jou reputasie wat jy opgebou het.

Sy boodskap aan die nommers: Wees versigtig, jy gaan jou eie familie doodmaak, jou eie gemeenskap, en ná dit gaan jou eie familie jou doodmaak.

Wat Lastag nie genoem het nie, is dat wanneer die bendeleier doodgemaak word, staan sy opvolger reeds reg om na die nommer se pype te dans.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.