Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Leerlinge swot ‘deur die pos’ in die inperking

Ons buurt se sypaadjies is verlede week met pik en graaf moer toe gekap, vir die installering van fibre.

Netjiese plaveisel, tuine en grasperke is met pik en graaf letterlik ontwortel, sodat die kontrakteurs rolle en rolle blou plastiekpyp en ’n magdom vaal pypies in die meter diep kanale kon plant.

Teen sononder is die kanale toegegooi en vasgestamp.

Ander werkspanne het toe die volgende oggend met troffels en rubberhamers die plavei- en keistene weer perfek teruggesit. Wel, ámper perfek.

Terwyl mens by sommige opritte nie kon sê dat daar deur gegrou is nie, is dit by talle ander duidelik sigbaar dat daar ’n ander kleur steen moes in – omdat die oorspronklike stene in die proses gebreek het.

Kortliks: Daar is nou lastige letsels op dié opritte, myne inkluis, anders as die sypaadjies met gras, wat binne weke weer ongerep daar sal uitsien.

Alles egter in die naam van vooruitgang en inwoners wat maar net te dankbaar is dat hulle eersdaags breëbandtegnologie sal kan geniet.

Vandag se wiskunde is amper Latyn...

Dat ons dan vragte aanhangsels sal kan ontvang en stuur teen ’n redelike stink internetspoed. Ook asof ons huise meer soos ’n intergalaktiese motor sal kan rêf.

En dankbaar is ek beslis, want skielik is dit koebaai met slakkegang-internet, van konstant jou selfoon ’n hotspot maak en lugtyd omskakel na data.

Dié pas afgelope opwinding in ons buurt speel egter af teen ’n first time ever- nasionale inperking en die miljoene kinders wat tuis sit en op koers moet bly met die skoolkurrikulum.

Juffrou en meneer van die meer gegoede skole stuur skoolwerk met datadors-aanhangsels na ouers se selfone en rekenaars. Lesse moet afgelaai en uitgedruk word. Ouers moet deur die werkdag dié lesmateriaal en take uitdruk en planne maak om dit by die kinders tuis te kry.

Ek verstaan ’n ma by die begrafnisonderneming het dit selfs met die lykswa tuis gekry.

’n Enkelma vertel my sy is poertoe (sic) moeg as sy saans tuiskom en sy nog saam met haar kinders deur al hul skoolwerk moet gaan. Dat “vandag se wiskunde amper Latyn is”.

Sy wens onderwysers kan soms net ’n videogreep stuur – dat die kinders net hul meneer of juffrou kan sien.

Haar bloedjies in gr. 8 loop skool in die kuberruimte en alles voel asof in ’n lugleegte.

Hulle het ook baie skielik en onverwags in “afstandsonderrig” beland en leer nou altwee asof “deur die pos”, tot hulle Augustus die skoolbanke sien.

Aan die anderkant van die spektrum is daar egter meer huise waar gesinne sukkel met die duur data, sê ’n juffrou die afgelope Woensdag vanuit haar motor voor my oprit.

Sy lag oor die vlek op die plaveisel, rêf dan die enjin, want sy is eintlik haastig, sê sy.

Vrydae kom haar gemaskerde leerlinge hul pakkies lesse by die skool optel. Sy sal moet opsit vanaand, tot in die oggendure.

Nie alle kinders in die dorp is so gelukkig om lesmateriaal via die internet te kry nie, met ouers wat die vinnige breëbandinternet, baie papier en drukkersink kan bekostig nie, sê sy.

Sy weet van baie huise waar drank vloei, eerder as die creative juices van leer, waar die mammies saans laat tuis kom, waar pa’s jare afwesig is en waar daar nie een fibre-pyp na huise loop en in ’n router eindig nie.

Nie alle ouers kan, om ’n magdom redes, voluit saam met hul kind se skool werk om hom of haar deur die skooljaar te kry nie.

’n Vet vraag spook by haar, sê sy: Gaan die inperking uiteindelik ook op die klas van 2020 ’n letsel laat?

Sal skole teen die 15de Desember, met redelike sekerheid kan sê dat ál hul leerlinge die graad se werk só baasgeraak het dat hulle na die volgende graad kan vorder?

Of, sal skole almal, en deur die bank, laat “slaag mét ondersteuning”?

Sal ’n mens die letsel van die inperking se gevolge, oor een, twee, vier jaar of forever nog kan sien?

“Wat gaan van my ‘Covid-19-kinners’ word?” roep sy nog toe sy vinnig daar wegtrek.


Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.