Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Mister Bie van die blou berge

Stadig en moeisaam volg jou stapmaat op die voetpaadjie, en plant ook jy jou stewel op die spoor wat dié voor jou los.

In die fel sonlig is jou eie asemhaling ’n half gejaagde monoloog, tussen die zoem-koor van onsigbare insekte. Fynbos en riet krap en piets jou moeë bene onophoudelik en die bande van die rugsak sny jou rugvel tot ’n dom oppervlak. Elke trap neem jou hoër teen die berg uit. Genadiglik is die afgespreekte rusplek so vyf minute ver. ’n Koelte onder ’n rotswand. Daar het die hasies – dié wat vinniger as ons ander stap – al die gasstofies aangesteek en water vir die tee en 2 minute noodles gekook. Jy verlos jou moeisaam van die swaar rugsak en strompel, terwyl die bloedsomloop langsaam herstel, reguit na ’n weggesteekte bergstroom – om jou moeë lyf te lawe en jou waterbottel te vul met die soet water en isotoniese poeier. Die heerlikste is dan wanneer jy na die prentjie dóér ver onder, waarlangs julle gestap het, kyk, dit indrink tot hier waar dié been van die staptog eindig.

Só sit ons almal daar, sommige nog vol energie, een vol bravade, vyf vrek moeg, twee stil soos altyd, een altyd vreetsaam, een alweer beseer, ’n wil-huis-toe-ene, een potjierol en een so skraal dit lyk hy stap op sy hande, twee alewig-verliefdes, ’n bekkige mini-professor en dan, die Groot Bie, oftewel meester Henry Briesies, of sommer net Kêkie.

As onderwysman van die Hottentots- Holland en legendariese figuur op die voetslaanpaaie van die Wes-Kaap, het dié man in die kenmerkende rooi rugbysokkies feitlik al die belangrikste bergroetes gestap: die Amatolas in die Oos-Kaap, die Swartberge in die Klein-Karoo, die Sederberge en die Visriviercanyon.

Hy was die onbesonge stapmentor van die berge.

Mister Bie het die laaste 30 jaar van sy onderwysloopbaan bestee om jong mense aan bergklim bekend te stel. Baie keer sou hy op eie onkoste arm kinders help om ook so ’n staptog mee te maak.

In die middel van daardie jare het hy die drankduiwel eiehandig oorwin.

Die anti-apartheidsaktivis Steve Biko het op sý laaste reis na die Oos-Kaap by die Bie, ook politieke aktivis, in Sewende Straat in die Strand kom inloer om te groet. Dit alles het Bie in statuur verhef in diegene om hom se oë, maar sy voete was altyd plat op die aarde.

Bie was die onbesonge stapmentor van die berge. Hier sou hy vele keer in sy kenmerkende hees stem roep: “Seun, kom hier!” Of “Dogter, stap voor, die Bie sal self agter stap!”

Van ons lekkerste uitstappies was na Barry Oosthuizen se hut doer bokant McGregor en tussen die rooiboskleurige rotsformasies van die Cederberge. Op een laaste dag van ’n drie-dae-stap in die Langeberge, het die span moeg en vol heimwee buite die hut gesit. Toe verras Bie ons met ’n bak koesisters, mét baie klapper!

Die gevolg van so ’n tog was dat jy persoonlike groei beleef, ’n duideliker perspektief op jouself, ander mense en die lewe kry. Introverte het selfs meer uit hul dop gekruip. Jy het ook geleer dat ’n mens in die berg kan sterf – indien jy die natuurwette en die stapreëls ignoreer – maar ook dat ons in ekwilibrium met die natuur moet lewe.

Een herfsdag kry ek ’n onverwagte besoek van Bie. Hy is opmerklik skraal en daar lê ’n vreemde opwinding in sy gesig. “Bie kom net sê, Bie is ook nou siek,” kondig hy met sy kenmerkende kug-lag af.

Ons het so lekker gesels op daardie besoekie. Later sou dit blyk dat dit deel was van ’n reeks besoeke aan al sy vriende. Ek het geëerd gevoel.

Twee weke later het ons weer gestap. Dié keer was Bie heel voor. Lank, vet, groot, klein, oud, jonk, die kerk in. Ons laaste samekoms was by Bie se laaste rusplek. Die tee het ons agterna by sy huis gaan drink, waar sy familie by die jong proteas in sy rotstuin gestaan het.

Bie het nie ’n monument nodig nie. Syne loop vandag rond op baie bene – vet, lank, maer, oud en jonk – oor naweke en vakansies in die blou berge van die land.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.