Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: ’n Valbyl vir al jou vrae aan die droogtehulpman

Pa. Hi, Pa. Is Pa oukei? Ek sien op Facebook hulle gaan omtrent 510 van julle dalk afdank. Raak dit Pa ook? Ek’s baie bekommerd.

My jongste seun het gelees van die groot afleggings by Media24 weens die nagevolge van Covid-19 – daarom dié WhatsApp-boodskap.

Ek stel hom gerus en sê: “Pa is nog veilig, vir nou, net baie hartseer oor die kollegas wat nou onder ’n valbyl leef.”

Die seun moes verlede Sondag ook lees hoe die gepeupel in die kuberruim luidrugtig sy pa se kop geëis het – als oor ’n berig waarin boereverenigings, asook skaap-, bok- en volstruisboere, beweer dat ’n barmhartige samaritaan, wat vir honderde boere droogtehulp verleen, geld vir geskenkte voer sou vra.

Allerhande name is deur man en muis aan die joernalis toegesnou en daar is selfs gesê hy is net so erg as ’n plaasaanvaller en dat “God met hom sal afreken”.

Daar is ook gevra of die joernalis dan “nog nie die siel van die Karooboer verstaan nie, hom nog nie persoonlik gesien huil, terwyl hy kniel by die karkasse van dooie skape, wat blink lê in die son nie”.

Ja ek, in wie se DNS tog die stof van die Karoo lê, die plek waar my oupagrootjie en sy gesin doerie tyd ook Karoonagte se sterre kon aanskou het, ook gehoop, nee, gebid het, vir reën.

Ja ek, in wie se DNS tog die stof van die Karoo lê.

My komvandaan is die einste gebied waar wetenskaplikes nou die grootste teleskoop in die geskiedenis wil bou en na oerklanke wil luister.

Ek stam ook uit dié geweste, waar droogte al vir eeue sy kloue in mens en dier slaan. Dis ook my heimat. Ek weet hoe my hart, hier in die stad se rumoer, op ’n punt trek, by foto- en elektroniese beelde van uitgestrekte vlaktes, van tafelberg, spitskop en kilometers se bossie­landskap, met plek-plek ’n windpomp.

Ja, ek kry ook hoendervleis, met die sien van konvooie volgelaaide interlinks wat aangery kom na landbougemeenskappe op hul knieë. Ons hét al vele keer berig oor dié uitreik en ook deur die einste droogtehulpman. Knop-in-die-keel-verhale.

Maar ons hoor ook die knaende vrae en klagtes uit die einste gemeenskappe, ongelukkigheid oor geskenkte voer wat glo deur die droogtehulpman aan boere gegee word terwyl daar terselfdertyd bakhand gestaan word vir ’n “donasie” terwyl dit glad nie is wat die skenker self in gedagte gehad het nie. Menige murmureerder wou nie veel praat nie, uit vrees dat uit daardie arm van hulp ’n beskuldigende vinger sal wys en hulle van lyste geskrap kan word. Dalk dat daardie einste hand húlle ook verder aan die gorrel kan gryp.

Verlede Sondag is dié “berugte” beriggewer dus in die kuberruim in ’n toksiese sous gedoop van opgehoopte frustrasie en woede – ook oor die regering se vrot droogtehulpverlening en sy toondoofheid vir plaasmoorde.

Alles net omdat die koerant dit durf waag het om aan dié vername man te vra om insae in sy finansiële state – siende hy spog dat hy al R210 miljoen se geskenkte voer uitgedeel het.

Dié swerm kritici het duidelik nie die berigte mooi gelees nie. Het hulle duidelik blind gestaar teen die man se verweer, dat sy laptop met twee jaar se finansiële state “opgepak” het, dat van die werkers by die rekenmeester (wat sy state moet oudit en verslae opstel) op “studieverlof” is en die verslae eers na dié verlof en die lockdown beskikbaar kon wees.

Daar is toe geroep: Hoe kán julle ons samaritaan uitvra? Dit, ongeag die feit dat die koerant ook oor die ondersteuning vir dié man uit talle oorde geskryf het, dat een selfs sou opmerk dat die klagtes van boere en -verenigings net ’n “oorlog van die suurgatte” is.

Die dag dat joernaliste nie meer sonder fear or favour indringende vrae mag vra nie sal ’n hartseerdag wees, dalk net so hartseer as vanoggend, toe meer as 500 van my kollegas opgestaan het met die valbyl van werksverliese bo hul kop.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.