Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Noodsaaklike biblioteke dán ook sommer bleddie bakgat

Biblioteke is vir oud en jonk ’n noodsaaklike bron van inligting en vir aktiewe deelname in ’n gemeenskap. Of ten minste so was dit en behoort dit steeds te wees.

Vir baie ouer mense is ’n biblioteek ’n plek waar hulle met ’n boek of koerant kan ontspan of met ’n kug hier en sug daar gedemp kan gesels oor vergange dae – of net van die nuwerwetse dinge en die ougat jeug kan ontsnap.

’n Gryse vertel sy daaglikse hoogtepunt is om koerante hier te kom lees. Sy buurman, ’n afgetrede sakeman, spog dat hy aanlynkoerant lees, maar, sê die gryse, hý verruil sy biblioteek-ekspedisies vir niks.

As kinders was die plaaslike biblioteek vir baie van ons ’n heerlike uithangplek, waar ’n gedempte, amper heilig-intellektuele atmosfeer oor die boekrakke gehang het en die personeel die bewakers van al dié kennis was. Toe kon jy boeke, klankkassette en langspeelplate, ja selfs skilderye, met jou kaart uitneem.

My gunstelingskrywer was die Duitser Heinz Konsalik. Sy spannende stories het my op wêrelde van ontvlugting geneem, oor die yswêrelde van Siberië tot in die woonbuurte en stegies van Eurasië.

Lank voor die selfoon en rekenaars was boeke vir ons ’n wêreld waarheen ons kon ontvlug, waarin ons kon leer én presteer.

Ander gunstelinge was boeke oor die koloniale Kaap, waar Brakanjan-tipe karakters met mekaar swaarde gekruis het en die held ná vele ontberings en taai gevegte die hand van sy meisie wen. Dan was daar ook ’n Oomblik in die wind, By fakkellig, die speurreeks van James Hadley Chase . . .

Tussendeur het ’n onderwyser-ma jou met tydskrifte gevoer en ’n dit-is-goed-vir-jou-pa jou saans gebied om alles te los en die TV-nuus op die swart-en-wit Blaupunkt-TV-stel te kyk.

“Kyk en word wys,” was die opdrag.

Lank voor die selfoon en rekenaars was boeke vir ons ’n wêreld waarheen ons kon ontvlug, waarin ons kon leer én presteer. Met die hulp van die biblioteek kon ek my pryse in die lewe behaal.

Die afgelope Dinsdag was Wêreld-boeke-dag. In die Wynberg-biblioteek het Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en -gesondheid, raadslid Zahid Badroodien, aan 400 kinders vertel dat boeke uitdrukking gee aan hul geskiedenis en kultuur, dat dit vlerke gee aan hul verbeelding. Dit maak dit wat gewoon is, magies.

Badroodien sê kinders se passie vir lees begin wanneer daar geluister word hoe stories vertel word. Dat ouers en ander volwassenes kinders op ’n reis van lees moet plaas, dat dit nooit te laat is om vir ’n kind te lees en hulle ’n lewenslange geskenk van ’n liefde vir boeke te gee nie.

’n Klipgooi verder, in die bendegeteisterde Lavender Hill naby Muizenberg, het verskeie maatskappye saamgespan om ’n biblioteek by die Prince George Primêre Skool te vestig. By die bekendstelling daarvan het die skoolhoof, Lameez Rabbaney, gesê dié biblioteek sal ’n veilige ruimte skep vir kinders en dat die impak daarvan jare lank gevoel gaan word, nie net deur leerlinge nie, maar ook die gemeenskap.

Navorsing toon Suid-Afrika het groot agterstande met die oprigting en finansiering van skoolbiblioteke en dat die rol en status van die bibliotekaris meer ondersteuning verdien. Dat in die afwesigheid van gebrekkige ouerleiding en -ondersteuning in armer gemeenskappe skoolbiblioteke, hoe klein ook al, opgerig moet word. Dat kinders toegang tot inligting moet kry.

Kortliks: Biblioteke is ’n móét in ons demokratiese gemeenskap.

Ek was onlangs weer by die Suider-Strand-biblioteek in die Strand. Dié opmerklik stiller ruimte, eens deurtrap deur leergierige kinders, het gemengde gevoelens gelaat. Buite op straat het kinders geloop, selfoon in die hand, oë op die klein skerm.

Die uitdaging is hoe om met die uitstekende tegnologie beskikbaar jong mense te oorreed om met boeke en inligting in ’n nuwe formaat leersaam en innoverend om te gaan om hul eie lewe, sowel as dié van hul gemeenskappe, te verbeter.

Dít sal mos nou magic én bleddie bakgat wees.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.