Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: O kwit, Covid-19 hét my, sê ál meer boodskappe

Jy self voel asof jy in die draaikolk van die Covid-19-pandemie is, want bekendes en onbekendes kontak jou daagliks.

Sommige roep om hulp, hetsy uit erge kommer of bloot oor ’n skynbare gebrek aan terugvoering vanaf hul werkgewers oor ’n moontlike uitbreking van die virus. Van hulle sê dat die onderneming of organisasie hulle laat werk, ongeag of ’n werker of lid die simptome het.

Verlede Sondag is van ons gemeentelede in ’n mini-stoet na die huis van ’n lidmaat wat aan Covid-19 gesterf het. My 81-jarige ma het die blomme wat sy vir haar 81ste verjaardag ontvang het, al druppend uit die vaas saamgevat.

Daar gekom, het die motors beurtelings gestop, sodat iemand gou ’n blom of ’n kaartjie op die lawn kon neersit.

Tuis het ek weer na die oorledene se stemboodskappe op my selfoon geluister. Ek onthou die stem so goed uit ons tyd saam op die kerkraad. Dit was steeds helder, maar nou met nuanses van paniek: Sy moes al afgetree het, maar haar toesighouer het gesê sy moet werk, tót iemand haar kan vervang. Toe vang die virus haar.

Covid-19 het vir my nou ’n gesig kom kry, met bekende name. ’n Groeiende getal bekende name.

‘Ek ag myself gelukkig om te lewe.’

Net onlangs het my oudskoolhoof en -kollega ook die virus opgedoen. Sy en haar man en haar suster, ’n verpleegster en vrywilliger by die plaaslike ouetehuis, ’n klipgooi van my huis. Die suster is oorlede. By die ouetehuis is vroeër twee ander oorlede, albei se nadoodse toetse was positief. Daar was 33 gevalle.

In die week is die plaaslike polisiekantoor en landdroshof, asook die landdroshof in Somerset-Wes, gesluit weens ’n Covid-19-geval daar. ’n Dag daarna ’n laerskool hier naby my. Vroeër was dit die poskantoor en ’n kliniek hier naby.

Dis tans uitbreking op uitbreking wat elke distrik en dorp en amper elke buurt tref.

Die virus kan nog vir maande, jare met ons wees, sê die gesondheidsminister, dr. Zweli Mkhize, die afgelope week. Belangriker is die opmerking dat Suid-Afrikaners daarmee moet saamleef, dat ons uit ons huise kom en werk toe, skole toe, moet gaan.

Jip, ons moet weer ’n werkende nasie word, al die lesse wat ons geleer het uit hierdie onverwagte krisis met ons saamneem, maar o kwit, dis net daai skrik . . .

Ons gaan nog elke dag skrik, maar seker ook dankbaar wees – om net “normaal” te kan aangaan.

’n Vriend stuur dié WhatsApp-boodskap (effe verkort): “Môre meneer, hoop dit gaan goed, moes net dit deel met jou. Ek is twee weke terug opgeneem in die hospitaal met Covid-19, wat ek by ’n familielid se afsterwe in die stad opgedoen het.

“Laas Vrydag het ek uit Vergelegen ICU gekom en hopelik gaan ek die week huis toe. Ek haal darem al op my eie asem, maar dit is die moeilikste (wat ek ervaar het) in my bestaan as mens – om aan ’n suurstofmasjien gekoppel te wees.

“Ek ag myself, as een van die baie chroniese mense, gelukkig om te lewe. Ek kan net vir God dankie sê vir die tweede kans wat ek gekry het.

“En ja, dr. X, E-saal en F- ICU-personeel, skoonmakers en kombuispersoneel, om elke dag hul lewe so op die spel te plaas, selfs vir die wat siek geword het hier, terwyl hulle na ons as pasiënte kyk. Hulle is besonders spesiale mense. God seën hulle en elke mediese personeellid en andere wat elke dag direk kontak het met Covid-19-gevalle.”

Die Wes-Kaap het tans die hoogste gevalle- en sterftesyfer en is skynbaar nou sterk op pad na die hoogtepunt van die pandemie. Jy verneem die Oos-Kaap is kort op ons hakke; van die ander provinsies kan dalk volg.

Die vriend skryf twee dae later: “Naand meneer, uiteindelik by die huis, ná amper twee weke in hospitaal. God is goed. Nou nog 10 dae op die herstelpad by die huis.”

Die krisis dwing ál meer van ons op ons knieë, maar terwyl ons in daardie posisie is, kan ons dan netsowel ook sommer bid.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.