Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Onnies moet dat leerlinge leesspoed rêv

Die skoolhoof sê hy gaan sy pensioen vat, kom wat wil. Die onderwysdepartement kan hom maar penaliseer – oor hy vroeër gaan, maar waai gaan hy. Hy’s gatvol en in sy tjops en sy gesondheid kom nou eerste, sê hy in ’n hoorbare moeë stem.

Met sy swaarverdiende geldjies gaan hy ’n Harley Davidson koop, een waar jy so half agteroor lê. Hy wil op ’n lekker spoed deur die Karoo en die Kalahari cruise.

Die hoof is een van talle van sy tydgenote wat weens persoonlike redes wil oppak. Gesondheid en ’n ander rustiger beroep is van hul hoofredes. Life is short en moet nog geleef word, is die deursnee-reaksie.

Met dié eggo’s in jou kop, luister jy die afgelope week na ’n jong onderwyser se entoesiasme oor ’n werksessie wat ’n onderwyssielkundige in die Suid-Kaap gehou het. Dié het hulle tools gegee om leerlinge se leesspoed te verhoog. Hy sê die sielkundige het vertel dat selfs Lewis Hamilton, die Britse renjaer en Formule Een-wêreldkampioen, ’n coach het, wat die renjaer se breingolwe op ’n sekere spoed moet kry, want, teen 200 km/h moet Hamilton blitsige besluite neem: Sy brandstof, bande, boodskappe van sy span en ook sy mededingers fyn dophou. Kortliks: Hy moet beelde blitsig interpreteer en ewe blitsige besluite teen daai stinkspoed kan neem.

Dan is daar ook die All Black-rugbyspan, wat hul spel en spoed so beheer dat hulle dit enige tyd kan verhoog, so doeltreffend dat hulle in die doodsnikke van die wedstryd en sonder groot paniek tot by die teenstanders se doellyn kan vorder.

Leerlinge kan hul breinspoed opgradeer.

Hy sê die sielkundige het hulle geleer om leerlinge se breinspoed deur lees te verhoog, amper soos om ’n rekenaar op te gradeer. Kortliks: Leerlinge kan hul breinspoed doeltreffend opgradeer.

Quinton Adams, die sielkundige, vertel my by navraag hy sorg dat hy ten minste een boek per week lees. Hy weet reeds hoeveel en watter boeke hy vanjaar wil lees. “Lees is nie my leisure nie, maar my werk,” sê hy. Jy kan leer om ten minste vier woorde op dieselfde tyd te lees.

Hy sê onderwysers moet werk maak van kinders se leeskultuur. Baie kinders lees gemiddeld 70 tot 80 woorde per minuut. Dan sê hulle woorde in hul kop op, sukkel met vokalisering, elimineer sommer moeilike woorde of kom weer terug na die begin van die sin. Soms is daar ook oogfiksasie – staan hulle te lank stil by ’n woord.

Adams sê leerlinge kan hul leesspoed met oefening opstoot tot meer as 300 woorde per minuut. Van die metodes sluit in dat jy, terwyl jy lees, die woorde met jou pen of vinger volg, sleutelpunte op die bladsy lees (deur skandering), prentjies vorm van wat jy lees en ook woordgroepe (meer as een woord op ’n slag) lees. So kan jou breinprosesse verbeter en jou fokus dus verhoog word.

Adams sê onderwysers moet ’n leeskultuur help skep deur kinders opgewonde te maak oor lees, hulle stories te vertel.

Hoe meer kinders lees, hoe meer ontwikkel hul woordeskat, verbreed hul kennis en diepte en vind kognitiewe transformasie plaas.

Hy het onlangs met 80 onderwysers gewerk, waarvan slegs drie meer as een boek per jaar lees. Die res sê hulle lees nie noodwendig boeke nie, maar relevante artikels, tydskrifte en koerante. Sommige is ook te besig, oorweldig deur werk en voel hulle lees nie genoeg nie bloot omdat hulle nie tyd daarvoor vind nie.

Adams sê as onderwysers regtig ’n impak wil maak, moet daar gedurige persoonlike groei wees, met nuwe uitdagings.

Tans ontwikkel hy leesprogramme: “Onderwysers is lesers” en “ ’n Leser is ’n leier”. Hy is ook besig om ’n biblioteek in ’n plakkerskamp te vestig en te help dat kinders hier ten minste twee boeke per maand kan lees.

Onderwysers kan nie meer cruise nie, sê Adams, hulle sal moet spoed optel wat leesprogramme betref. Hulle is die sleutel om ’n leeskultuur te vestig, maar ook ’n eie leeskultuur te verbeter.

Nota: Dalk lees die skoolhoof van dié opwindende werksessies tydens sy ritte.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.