Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Opvoeding haar paspoort tot nuwe wêrelde

Met die honderde foto’s op sosiale media van ouers se bloedjies wat vir die eerste keer grootskool toe gaan, kan mens net raai wat die lewe vir elkeen van hulle sal inhou.

Dekades gelede was die krulkop Mar­celle Mentor, dogter van Lionel en Joan Abrahams, ’n kind in Macassar, ’n bruin buurt naby Somerset-Wes.

Vandag is die 50-jarige Mentor ’n opvoedkunde-dosent aan die Columbia-Universiteit in New York. Wêreldstad. Die Groot Appel, die “vrug” waarvan baie van ons heimlik self ’n groot hap sou wou vat – ás daar dalk eendag ’n eendag kon kom.

Mentor het haar resep vir sukses onlangs in die tydskrif Kuier gedeel. Sy het studeer so ver as wat sy kon en dit was haar verlossing in die struggle-jare. Opvoeding is jou paspoort tot nuwe wêrelde en maak deure vir jou oop.

Mentor kom uit Raystraat, oorkant die A-blokflêtse.

In die apartheidsjare was daar geen Engelse skool vir bruin mense in die area nie en moes sy trein, 40 km ver, na die Blossomstraat Primêre Skool in Athlone ry. Soggens 06:30 uit die huis en eers 18:00 tuis.

Sy het mettertyd besef dat haar bevryding onlosmaaklik verbind was aan haar opvoeding. ’n BA-honneursgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland en ’n meestersgraad aan Maties het gevolg.

Ten opsigte van onderwys is daar ook baie ooreenkomste tussen Suid-Afrika en die VSA.

In 2000, met die berugte rasionalisering van onderwysers, word sy en van haar kollegas oortollig verklaar. Hieroor was sy heel filosofies: ’n persoonlike krisis, maar ’n geleentheid vir verandering. Sy word die eerste bruin aanstelling by die Paul Roos-Gimnasium.

In 2005 vat sy, haar onderwysman en twee seuns die pad na New York, met sy wolkekrabbers. In dié besige stad was daar altyd ’n verlange, na Macassar se eiesoortige geraas, die parkie oorkant die huis en die flêtse. Soggens sou sy vanuit haar bedjie die imam se roep om gebed uit die kramat hoor, of die klank van die vrugte- en groenteman, of die Bashew’s-koeldrankman. Die gemis na ’n gemeenskap wat vir mekaar uitgekyk het, was groot.

Mentor gee klas vir meesterstudente, sy koördineer die plasing van onderwysers in skole en adviseer studente in hul doktorale studies. Sy droom van ’n uitruilprogram vir Amerikaanse en Suid-Afrikaanse onderwysers.

In dié wêreldstad is haar hart egter ook gebreek toe haar man haar en hul seuns verlaat en feitlik platsak los. In dié donker tyd het haar grootste opvoeding as mens gekom, het sy nader aan God beweeg en in haarself ook krag en veerkragtigheid gevind. Ondersteuning het ook vanuit Macassar en nuutgevonde verhoudings in New York gekom.

Ten opsigte van onderwys is daar ook baie ooreenkomste tussen Suid-Afrika en die VSA: As jy byvoorbeeld geld het, kan jy beter opvoeding kry as studente wat van armer huishoudings kom – onderwys word in ’n geldeenheid uitgedruk. Daar is egter ook baie gesukkel met die Amerikaanse onderwysstelsel – daar is sistemiese rassisme in openbare en tersiêre instellings, en die armes en die onopgevoedes is meestal swart en bruin mense. Dit is verskriklik dat ’n land wat gelyke regte vir almal voorstaan dit nie rêrig toepas nie.

Tog is daar ook baie hardwerkende opvoeders van alle rasse wat hul hande nerfaf werk om ’n verandering te maak en permanente gelyke toegang vir alle studente te verseker – net soos in Suid-Afrika. Húlle is die baken van lig en hoop.

Mentor se seuns wil onderskeidelik in internasionale mediasie en psigiatrie spesialiseer.

Sy sê New York het ook ’n soort frenetisme (alles gebeur vinnig) en dit voed haar siel op maniere wat sy nie verwag het nie. Tog is daar heimwee oor haar “komvandaan”: die mense, kos en die bruin kultuur, in die suurstof wat sy inasem.

Sy mis ’n eg Suid-Afrikaanse braai, Grabouw-wors en Valsbaai se strande. En wanneer oud-Suid-Afrikaners kom kuier, is dit “loud and proud”, praat hulle Afrikaans en maak huiskos.

Sy sal altyd daai coloured girl van Ray-straat, Macassar, wees, sê Mentor. Mens kan en moet nooit vergeet waar mens vandaan kom nie – hoe anders kan jy stewig elders staan?

Jou opvoeding sal altyd jou paspoort na nuwe wêrelde wees, en deure vir jou oopmaak, asook onafhanklikheid bring in sy suiwerste vorm.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.