Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Shaleen laat almal in ’n beter plek

Net meer as 14 jaar gelede het ek en my fotograaf per motor na Kameelmond, buite Upington, gereis vir die opening van ’n leersentrum deur ’n bekende aktrise.

Vroeg die oggend by die River Ridge Resort het ek die effe vriendelike buurvrou op die chalet se veranda gesien, haar toe glad nie eens herken nie.

Eers toe ek 30 minute later weer daar verby stap en ’n “ander vrou” en stylvolle, selfversekerde dame op dieselfde plek sien, het ek die vermaarde aktrise herken; sy het intussen haar makeup opgesit. Sy was Shaleen Surtie-Richards, trotse uitvoerproduk van einste Kameelmond, eertydse ballerinatjie, kindertuinjuffrou aan Oranje-Oewer Primêre Skool, waar haar pa, Shagan, destyds die hoof, en haar ma, Ellen (beter bekend as Sakkie), ’n onderwyseres was.

Uit Kameelmond het groot name al gekom, sê Shaleen se jeugvriendin Kitty Zwartz. Sy sê die Kalahari steier nog van hul geliefde Shaleen se skielike dood.

Kitty, haar vyf sibbes en Shaleen was almal op Oranje-Oewer. Shaleen was in die dramagroep, later is sy Kaap toe en daar ontpop, nee, ontplóf sy as aktrise, sê Kitty.

Dié se niggie Margie Zwartz Prinsloo skryf op sosiale media oor haar enorme hartseer oor haar bestie se heengaan, oor die foto op die sideboard wat Shaleen haar gegee het.

“Jou foto sal op die sideboard bly. Rus in ewige vrede, Charls.”

“Ses jaar gelede, die wyn en die Rockets-CD op jou 60ste verjaardagparty in daai asemrowende rooi rok. ’n Maand gelede het ons oor TikTok gesels . . . en ons het mekaar belowe om ná die vaccine mekaar op te soek. Gister het ek myne gekry . . . en joune nog uitstaande . . . maar jy het huis toe gegaan na mamma en pappa. Ek kan eintlik vir ant Sakkie hoor: ‘Kom hier my kind.’ Hoe sal ons ooit weet in die lewe ná dood . . .

“Jou foto sal op die sideboard bly. Rus in ewige vrede, Charls.”

In April vanjaar is dit ’n moeë stem wat uit Witpoortjie, Krugersdorp, oor die foon met my praat. Die 66-jarige veteraanaktrise, haar twee honde en haar getroue huiswerker is feitlik kluisenaars in haar huis.

Armoede het haar hier toegesluit. Sy het feitlik nooit die huis verlaat nie en net die deur oopgemaak as die buurtwag of vriende vir haar ’n bordjie kos bring.

Sy was “bitterbloujare” (haar woord) laas op Kameelmond, sy verlang haar vrek na haar mense, het sy toe gesê.

“Op die verhoog en skerm het Shaleen Surtie-Richards ’n spieël gehou na ons onregverdige verlede en het ons hoop gegee vir ons toekoms as ’n nasie,” het president Cyril Ramaphosa in ’n verklaring gesê.

Zaid Omar, baas van die Kaapse sokkerklub FC Kapstadt, twiet Surtie-Richards was sy sub B-klasonderwyseres by Cecil Road Primêre Skool in Soutrivier. Dat sy hulle altyd aangemoedig het om hul drome na te jaag.

Terwyl ek hier aan die skryf was, hoor ek ’n paar huldeblyke op die TV-program Klop. Dit is van die warmste en treffendste kommentaar.

So sê die bloedjong akteur Roberto Kyle dat baie van hulle vandag baie lucky is om sitplek om ’n tafel te het, ’n tafel wat unapologetically vir hulle gebou is deur mense soos antie Shaleen. Dat sy aan baie die toestemming gee om hulself in ruimtes en wêrelde te sien waar hul bestaan en identiteit as bruin mense nie noodwendig raakgesien was nie. Dat sy ’n leemte agterlaat, maar die bedryf tog in ’n beter plek laat.

“Haar loopbaan was groot, maar haar hart was altyd groter,” sê Roberto.

Dan sê die aktrise Zenobia Kloppers dat Surtie-Richards vir hulle as aktrises en akteurs die pad oopgekloof het. “Dat ons ook kan droom, maak nie saak waarvandaan ons kom nie, maak nie saak wat die kleur van ons vel is nie, maak nie saak of ons so bietjie mollig of ’n bietjie maer is nie. Shaleen, dankie. Dankie vir wat jy vir ons beteken het.”

Damn, dis die roerendste quotes, dink ek toe en ek sien weer die onopgesmukte vrou met die kuiltjies in die wange voor die chalet sit en teen wie se boesem menige jong kunstenaar en seker al haar aanhangers vandag net hul harte sal wil uithuil.

Meer oor:  Julian Jansen  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.