Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Soos halwe waarhede in ’n halfleë Paaseier

Sy het nie saamgeloop toe hulle Hom na die heuwel geneem het nie, want in die donker vertrek het sy alleen geween. Die skemerte was haar smart se skuiling en die skerfie lig ’n veraf sprankie hoop.

Buite in die steeg het hulle en Hy verbygekom, soldate, en gepeupel. Op die keistene se stof het sweet- en bloeddruppels geval. Gille, ’n skreeuery en rou snikke het saamgesmelt in die stroom lywe wat bult op gebeur het na waar die drie kruise teen die grou hemel afgeëts was.

Al het sy gehoor van die Man wat gekom het vir die verlossing van sonde vir alle mense, ween sy nie oor sonde nie, maar oor ’n geliefde dood is, gemartel oor hy uit ’n ander stam was. Sy het hom weggesteek in die donkerte van haar huis, maar hy is deur die koning se soldate hier ontdek, weggesleep en soos ’n sak in ’n kelder gesmyt. Toe is hy doodgemartel en sy liggaam buite die stadspoorte vir wilde diere gegooi. Toe die tempelvoorhangsel ure later skeur en ’n duisternis oor die aarde sak, het sy haar klere aan repe geskeur.

Toe Hy opvaar na die hemel, het sy bly lê, sonder hoop en redding, met net haar smart.

Sy het hom liefgehad, die slaafman van Batavia. Vanaf die dag toe hy uit die roeiboot op die sandstrand by die kasteel uitgespring het, het sy okkerneutbruin oë en soepel lyf in heuningbruin haar na haar asem laat snak. Later het hy op haar ouers se landgoed kom werk, die perde versorg. Vele tye sou hulle verbode liefde deel in die skadu van die akkerbome. Weke later het die kompanjie se soldate hom uit die kwartiere kom ruk oor ’n beweerde rebellie. Toe het die seilskip hom na Java weggevat en haar en ’n seuntjie met sy okkerneut-oë agtergelaat.

So huil jy oor jou eie Via Dolorosa?.?.?.

Hulle het mekaar liefgehad, tien jaar lank al en wou eers Athlone en daarna die wye wêreld verower. Hy, die toneelspeler, en sy, die sangeres. Die onlustepolisie se rubberkoeëls het daardie droomwêreld aan flarde geskiet, die dag toe hy vir sy kunsklasse moes gaan, toe hy saam met die hordes paniekbevange deur die traanrookwolke moes vlug. Sy het hom nie weer gesien nie. Hy het in die niet verdwyn, so sê die polisie op haar eindelose navrae, ander sou hom glo in Umkhonto se kampe êrens in Afrika gesien het. En sy, sy het ophou lewe.

Hy het gesê hy gaan groceries koop en sal lekkers vir hul dogtertjie bring. Nou vra die kind daagliks waar haar pa dan is. Jy het nooit antwoorde vir haar gehad nie, want jy het saam gewag, ’n leeftyd lank, deur tiener-, grootmeisie- en graadvang-jare. Vandag is sy ook vrou en sien jy haar ingeburgerde agterdog en ongeduld wankel in die groen oë.

Sy het hom ontmoet op duine van sand en hy het haar kaalvoet gevolg in nog ’n ry spore, soos Adam en Eva van ouds, asof net hulle twee daar was.

Die souterige Weskuslug het suurstof in die siel en hongerte in liggame gewaai, terwyl die wolke in die blou van die hemel stapels beloftes was. Hier op die strand wou sy pienk sjokolade vir hom strooi, sy glas met vonkelwyn vul, repies hoender op sy tong plaas en sy gesig met ’n veertjie kielie.

Maar hy moes teruggaan na sy huis toe, terug deur die slierte mis. Sy kon hom nie hou nie, hul verbode liefde keer.

’n Nag van passie het ’n onwelkome besoeker gebaar. ’n Geluid êrens vanuit die donker huis het ’n sig-sag-pad gevind na die kamer, waar die paartjie in louwarm sweet na asem soek. Die bisarre einde van ’n aand saam was die onverwagte knal van ’n skoot en bloed druppend in ’n groterwordende poel.

So huil jy, mens, vir eeue oor jou eie Via Dolorosa, so gereeld dat jy soms nie trane oor het vir Hom wat op ’n kruispad moes strompel vir vergifnis van sonde nie. En, anders as Hy, sal jy jou noodlot nooit kan bepaal nie, sal die soeke na handgemaakte geluk wees: ’n Hoop onvervulde verwagtinge in ’n Paaseier.

Meer oor:  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.