Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Vandág soek ’n ma juis haar kind se stem

Die sirenes loei douvoordag. Almal hardloop koorsagtig rond. Tronksel 247 is leeg. Hoe kon hy ontsnap het?

Teen laatmiddag, iewers in ’n Kaapse voorstad, hou die bewaarders vanuit ’n motor ’n huis stip dop. Dan sien hulle hom met ’n baadjie bo-oor die oranje klere, fier en regop. Net toe die lede wil opspring, hou die hoofbewaarder hulle ferm terug.

Nou kyk hulle hoedat die man by die hekkie ingaan, met die tuinpaadjie afstap en aan die voordeur klop. Iemand loer deur die geblomde gordyn. Oomblikke hierna gaan die voordeur oop. ’n Bejaarde vrou staar in sigbare ongeloof betraand na die man voor haar. Van agter sy rug bring hy drie steelblomme. Ma en seun gryp mekaar hartstogtelik vas.

Dan trek sy hom na binne en maak die deur agter hulle toe.

Die bewaarder kyk na sy kollegas. Oor die afgelope agt jaar het hy diep gesprekke met Ivan gehad. Dit was die veroordeelde motorkaper se hartsbegeerte om eendag vir sy ma ’n bos blomme te vat, maar nooit het hy gedink dat Ivan tot hierdie uiterste sou gaan nie. Ná ’n goeie halfuur gaan die voordeur weer oop. Die man stap na buite, omarm en soengroet dan sy ma. Dan sonder omhaal wink hy die insittendes in die motor nader.

Moedersdag is ’n dag van handeling, maar ook van bepeinsing en mymering.

Nie alle moeders is Moedersdag tuis nie, meestal vir die ekstreme rede dat hulle reeds hul geliefdes ontval het.

Ons weet ook dat hierdie emosie-gedrewe kalenderdag eintlik tot groot voordeel deur ondernemings uitgebuit word, wanneer die wêreld in ’n soort samespanning die bydrae van ’n ma vier.

Elke moeder het ’n unieke verhaal, elke huis ook, met menige juis vandag ’n somber ruimte waarin haar fisieke afwesigheid akuut is, haar “teenwoordigheid” geëvokeer in geraamde foto’s, haar gunstelingkospotte, die plante in die tuin, die talmende reuk in die hangkas en soms die geur van die geelbruin blare in die herfslug.

Vandag is ’n knaende pyn die gemene deler in die hart van diegene wie se anker weg is.

Moedersdag is ’n dag van handeling, maar ook van bepeinsing en mymering. In my werk as verslaggewer het ek op stories tot aangesig gekom met moederskap in alle fasette en diepte.

Daar was die ma wat haar tikseun met ’n tou verwurg het, die ma wat 38 kinders gebaar het en toe deur haar man versaak is. Daar is moeders wat hul gangster-kinders in die howe en tronke ondersteun, die ma wat met twee soetkyste besittings gaan werk – oor haar tikkind dit wil gaan verkwansel. Die ma wat haar vermoorde kind se kinders met haar pensioen moet grootmaak. Ook die ma wat 30 jaar op die behuisingswaglys is en haar kinders in ’n sinkhuis ’n tuiste moet gee. Of, bloot die moeder vasgevang in die kake van armoede. So kan ons aangaan.

Soms onbesonge moeders is hulle wie se skoot stom is, maar tog ma speel vir ’n ander se kind.

Ons moet egter gebruik maak van Moedersdag – maar meer, van elke dag van die jaar om vir ma te demonstreer wat sy alles in ons lewens beteken.

Veral die swartskape in die gesin, diegene wie se draaiboek deur gure karakters geskryf word, diegene wat vol kunsmatige adrenalien vir die lang arm van die gereg en soms vir hulself weghardloop.

Ook kinders wat bloot maar net vir een of ander twak rede hul ma kwansuis vergeet het en haar nie bel.

’n Ma se oë is altyd op haar voordeur, die oor gespits vir die klank van ’n voertuig wat buite stop, en die hart wagtend op die klank van ’n langverwagte stem. ’n Ma sal haar gesin, hóé gebroke en wie ook al oorbly, altyd na aan haar wil hê.

Daar sal teen sonsondergang steeds moeders wees wat nog wag op ’n oproep van ’n kind. Maar die hoop beskaam ook nie dat swartskape, soos Ivan, eers ’n Damaskus-ervaring, ’n gesindheidsverandering, ondergaan voor ’n terugkeer na hul ouerhuis en opgeneemde lewenswaardes.

Is dit hoekom so baie moeders steeds voor die venster staan?

Meer oor:  Julian Jansen  |  Moedersdag  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.