Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julian Jansen: Wat anders as 10 mense in een huisie bly?

Dis vroeg in die 21 dae-inperking. Buurman is ligdag by sy hek, tuur na die verlate straat, swaai dan die arms en strek die bene moeisaam. Hy weet nie meer nie, sê hy, al die kaste is al uitgepak, al die ou foto’s in sy huis is al herrangskik.

Toe ek antwoord daar’s nog 17 dae om te gaan, sug hy diep, sê dit raak nou eerder ’n kopsaak. Sy vrou het gesê hy moet die masker sommer in die huis ook dra, want hy gaan nog al die kosvoorraad vroeër opvreet. Ook dat almal ’n roetine volg en daarby hou – om by jou volle verstand te bly. Hulle kwalifiseer in elk geval nie vir Covid-19 nie, want die meeste slagoffers is ouer mense, het vroeër gereis, of was tussen ’n klomp mense, sê hy.

Suid-Afrikaners volg die maatreëls teen die koronavirus tot die letter. Groot stede en dorpe het oornag spookdorpe geword. In my tuisdorp, die Strand, is selfs die bendegeteisterde buurte stil. Hier en daar loop iemand met ’n masker. Daar’s ’n ingeburgerde bewustheid in die oorgrote meerderheid townships en munisipale buurte, maar nie oral nie. Op De Doorns word seisoenwerkers nog in stampvol trokke rondkarwei, met geen maskers en sigbare sanitasie nie. In Delft, langs die Kaapstad-lughawe, lyk dit asof niemand van die aansteeklike virus gehoor het nie. Inwoners pak die sypaadjies vol, vergader in groepies. Só moes die polisie ’n groep klante verlede Vrydag buite ’n winkelsentrum met ’n waterkanon uitmekaarjaag.

Is diegene net argeloos arrogant, traak-my-nie-agtig?

Dink jou egter eers in: Jy woon in ’n sinkhok in die agterplaas van ’n munisipale huis, met ses tot tien mense. Hoe behou jy fisieke afstand in dié beknopte spasie en gee nog ag op die noodmaatreëls ook? Jy’s daarby nog bekommerd of jou geld sal hou om genoeg proviand te koop. Jy moet dan ver stap, oorvol taxi’s vat en by die naaste groot winkel nog in lang rye gaan staan.

Alle Suid-Afrikaners het 12 dae om ’n groot verskil te maak.

Op straat is daar vir huismense en bure meer ruimte vir arms en bene strek.

Die bekendmaking van ’n positiewe Covid-19-geval in Khayelitsha is met groot bedenkinge ontvang: Wat as daardie besmette persoon in kontak was met groot groepe mense en uit die genoemde haglike woonplekke kom?

Kenners sê in veral sulke gemeenskappe laat die ingrypende maatreëls die wantrouerigheid jeens die polisie en wetstoepassing na vore kom weens die historiese konflik.

Die ontstellende nuus tans is die beweerde magsvergrype van soldate, polisie en munisipale wetstoepassers. Soldate laat beweerde oortreders paddaspronge doen, of vir ente in die straat rol. By sjebiens konfiskeer soldate in tipiese RoboCop-styl bottels drank en breek van dit voor die “geskokte” inwoners. Die beweerde oortreders word ten aanskoue van hul gemeenskap verneder.

Ek het ’n video op sosiale media gedeel van wetstoepassers wat per motor ’n man in ’n nou straat verjaag en hom dan deur die motorvensters in kru taal aansê om dadelik by sy huis uit te kom. Iemand neem vanuit die agtersitplek die jaagtog op ’n selfoon op. Wanneer hulle uiteindelik die verbouereerde man vaskeer, bestook hulle hom verder met eksplosiewe klinkerwoorde, van f** jou, ma se p*** en jou n***.

“Da pis die n*** hom nou,” merk een wetstoepasser onder ’n gelag op.

Facebook-gebruikers was erg verdeeld oor dié video. Waar baie die optrede van die wetstoepassers veroordeel, het ’n beduidende groep hul taalgebruik verwelkom en opgemerk dat die betrokke man, soos baie ander, nie wil luister nie en net dié taal verstaan, dat hy dié verbale kartetse verdien.

Ons is in die tweede week van die 21 dae-inperking. Dit gaan maak of breek wees, want daar móét ’n afname in die getal positiewe infeksies kom. In die verte is geluide van ’n moontlike verlenging.

Alle Suid-Afrikaners het 12 dae om ’n groot verskil te maak. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag genoem dat die infeksiesyfer 1 353 was, ver onder die verwagte 4 000.

In die stikdonker tonnel blink ’n skerfie lig.

“Kom, die bodies moet fiks raak, die kop oop!” kom dit vanaf buurman se stoep. Hy en sy twee dogters doen paddaspronge.


Meer oor:  Julian Jansen  |  Covid-19  |  Strandloper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.