Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Julle speel mooi, maar waar kom julle vandaan?
Bun Booyens

Onlangs kyk ek premierliga-hokkie op TV, maar kan nie uitpluis vir watter span om te skree nie.

Waar is die WP? Of die Boland en OP? Die spanne wat deelneem, is die Gladiators, Dragons, Gazelles, Elephants, Mambas en Cavemen.

Watter provinsies of streke verteenwoordig hulle? Jy kan niks uit die name aflei nie.

By die vroue is daar die Rangers, Lakers, Rafters, Daisies, Wings en Bunters. Kom hulle uit dieselfde provinsies as die mans? Hoekom dan ander spanname?

Sportbemarking is ’n spesialisveld. Ek is oortuig daar is iewers ’n gesaghebbende handleiding met ’n hele hoofstuk waarin beklemtoon word hoe belangrik dit is dat ’n span ’n setel moet hê – ’n duidelike tuiste.

Gaan kyk maar na enige sportsoort op enige plek in die wêreld, die meeste spanne se naam bestaan uit twee dele: ’n pleknaam en simbool.

In Amerikaanse bofbal is daar byvoorbeeld die New York Yankees en Boston Red Sox.

In basketbal is daar die Detroit Pistons en Los Angeles Lakers, en Amerikaanse voetbal het die Chicago Bears, Atlanta Falcons en Baltimore Ravens (na aanleiding van Edgar Allan Poe se gedig, wil jy glo).

Sokker het amper nie ’n span sonder ’n pleknaam nie. By die Engelse premierligaspanne is die stad of dorp die ankerwoord: Liverpool, Manchester, Sheffield. So ook in die res van Europa, soos Barcelona, Real Madrid, Napoli, noem maar op.

Die Indiese IPL-krieketspanne bestaan uit huursoldaatspelers van die uithoeke van die aarde, maar die span se naam plaas dit ondubbelsinnig op ’n plek.

Die Indiese IPL-krieketspanne bestaan uit huursoldaatspelers van die uithoeke van die aarde, maar die span se naam plaas dit ondubbelsinnig op ’n plek: Royal Challengers Bangalore, Mumbai Indians, Chennai Super Kings en dies meer – ’n duidelike bemarkingsbesluit.

Selfs in boks, voordat die aankondiger in die aandpak “Let’s get ready to ru-u-umble!” skree, stel hy die vegters voor as verteenwoordigers van hul tuisdorp: “Fighting out of Sacramento, California . . . Tony The Tiger Lo-o-opez!”

’n Bokser kry ook dikwels sy krytnaam van sy tuisdorp, soos die “Manassa Mauler” (Jack Dempsey), “Louisville Lip” (Muhammad Ali) en “Bayonne Bleeder” (die moedige Chuck Wepner, met sy kwesbare oogbanke).

En in Suid-Afrika? In sokker is daar pragtige ou name soos Orlando Pirates en Arcadia Shepherds (Nelspruit se Dangerous Darkies is genadiglik in die 1990’s ontbind).

In krieket moet ek egter eers ’n bietjie dink wie die Titans of die Strikers nou eintlik is voordat ek kant kies.

Rugby s’n is beter, maar party van die name wil net nie kleef nie. Southern Kings klink of daar iewers ’n noordelike koning ook is. En Stormers resoneer nie so lekker soos Province nie.

Terug na hokkie. Dit is ’n sportsoort wat vinnig veld wen. Die spel is vinnig, met min onderbrekings en die spelers is puik atlete. Die spanne kort net duideliker name.

My gunsteling-spannaam? Loshande die Overbergse rugbyspan Hawston Skrik vir Niks.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Hokkie  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.