Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jy bepaal die maatstaf van jou sukses
Erik Holm.
Erik Holm

So met die begin van ’n nuwe jaar is die algemeenste ding wat mense mekaar toewens, sukses. Ons bedoel in die algemeen dat dit goed sal gaan met wat jy ook al doen, maar die woord sukses is ’n interessante een.

Wyle Bertie van Zyl van die ZZ2-boerdery het sy bankbestuurder gaan vra vir ’n lening vir een van sy vele ambisieuse projekte. Seker maar om te probeer skat hoeveel sulke versoeke hy nog te wagte kan wees, vra die bestuurder hom wat hy as sukses beskou. Bertie se pragmatiese boere-antwoord was: “Sukses is nie ’n mislukking nie.”

Die woord sukses is in die Europese tale relatief jonk en stam uit die laat 16de eeu. Letterlik beteken dit om jou huidige self te verander in iets wat aan jou drome en ambisies voldoen – jou huidige self te oortref met ’n (volgens jou) beter model. (’n Mens sien die verwantskap met “suksessie”, soos in troonopvolging en opvolging van spesies in die ekologie.)

Dit is dus baie individueel en persoonlik. En sekerlik is dit nie toevallig dat dit in die tyd van die Reformasie opduik nie. Die Reformasie plaas die verhouding tussen ’n individu en sy God vierkantig op die individu, waar die kerk voorheen dié verhouding bestuur en gemonopoliseer het. Die idee dat ’n mens self jou heil bepaal en bestuur, was destyds ’n baie nuwe een wat later vele vrugte sou dra in die verskillende uitings van humanisme en individualisme.

Sukses is nie noodwendig dieselfde as slaag, bo uitkom, wen of presteer nie.

Sukses is nie noodwendig dieselfde as slaag, bo uitkom, wen of presteer nie. Dié woorde beskryf die positiewe uitkoms van iemand se pogings, maar ander mense beoordeel jou volgens hul maatstawwe. Dan kom geluk en ongeluk ook by. Sukses, daarenteen, is hoe jy jouself in jou eie oë oortref het.

Sukses maak mense gelukkig. Ek sien gereeld mense wat volgens almal om hulle uitnemend vaar (met geld, aansien, prestasies), maar wat tog diep ongelukkig is. Hul eie maatstaf van sukses lê heel elders. Hulle wil hulself juis verander en oortref op terreine waaraan die publiek geen waarde heg nie, maar wat vir hulself lewensbelangrik is. Mense wat sukses soek op terreine waarvoor hulle die minste talent en vermoë het, is nogal algemeen. Dit maak hulle te midde van uiterlike “sukses” tragies en ongelukkige mense. Dié dat gestremde atlete ons so ontroer.

Andersyds is daar ook mense wat vir ons lyk na suurstofdiewe wat geen van hul talente ontwikkel nie en tog ooglopend uiters gelukkig is, byvoorbeeld beach bums en kluisenaars.

Is daar ’n objektiewe maatstaf van sukses en die gelukkigheid wat daarmee saamgaan? Miskien in die heel abstrakte wel. Lewe is ’n geveg teen wanorde en verval, die entropie van die dooie fisika. As jou ambisies pro-orde, pro-lewe en anti-entropie is, is jou sukses ook in harmonie met alle lewe. As jou ambisies destruktief is, is jou suksesse vir alle lewe verliese. Soos by suksesvolle misdadigers.

My Nuwejaarsraad aan lesers is: Hou jul ambisies gerig op die voordeel van alles wat leef, insluitend jouself. En as jy daarby nog gelukkig wil wees, waardeer en gebruik jou beste talente vir jou nuwe self.

  • Alle sukses in 2019! Holm is ’n voormalige hoof van entomologie aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Erik Holm  |  Sielsgoed  |  Talent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.