Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jy gaan jou ’n papie lag as jou lagsakkie bars
Jana Luther

Hoe lag ’n mens in Afrikaans? Of liewer: “Hoe moet ek in skriftelike Afrikaans korrek lag: Haha, Hahaha, Ha-ha, Ha-ha-ha, Ha ha, Ha ha ha, Bwahahaha . . .?” So vra Hennie dié week op Facebook.

Lol. Die klem op korrektheid laat my glimlag en ek wil nog . . . Maar ywerige raadgewers het Hennie klaar na reël 12.14 van die AWS verwys: “Reduplikasies waarvan die dele identies is, asook afleidings en fleksievorme daarvan, word met ’n koppelteken geskryf”: “fluit-fluit”, “plek-plek”, “staan-staan”, “ ’n-’n”, “t-t-t” . . . Ook “ha-ha-ha”, dus. Soos Huisgenoot skryf. “Ook so geleer – met ’n uitroepteken,” beaam Bloemfontein se Skrywersvereniging.

Ha-ha-ha! Vir hoeveel soorte lag (beleefd, boos, kinderagtig, sarkasties, slu, spottend, stout, verveeld, verleë. . .), wonder ek, deug dié “bo-opse lag”, soos Langenhoven sou sê? Sou hy ook in sy vuis gelag het (in sy mou sou glo anglisisties wees), want lag kom nie altyd uit die maag nie?

Iemand kan daar staan en jou dom-verleë aangrinnik terwyl nóg hy nóg jy lus het vir grappies. ’n Mens kan grinnik van pret, maar ook van senuagtigheid of spot. Boosaardigheid maak van ’n grinnik ’n grynslag, ’n hoonlag: spottend, satiries.

Jy kan jou teleurstelling oor iets verberg deur dit af te lag. ’n Mens kán deur jou trane lag.

Jy kan jou teleurstelling oor iets verberg deur dit af te lag. ’n Mens kán deur jou trane lag.

’n Lag kan wissel van ’n ingetoë glimlag tot ’n beheerste, ironiese, meerderwaardige grimlag. ’n Flou laggie kan aangroei tot ’n breë lag van oor tot oor. Lag kan vrolik, sorgvry wees, of ’n onderdrukte geproes, ’n kinderagtige gegiggel, ’n geklike geggellag, kekkellag, koggellag.

Soms is ’n mens dik van die lag, soms sukkel jy om jou lag te bedwing. As jy jou lag nie kan hou nie, proes jy. Iemand wat uitbars van die lag, lag bulderend uit die keel. Ander word oorval deur skielike lagbuie wat in lagstuipe kan oorgaan wat mense laat skrik.

Net so kan storiekarakters brul, gier, lag of hulle betaal word, dermate dat hulle nie kan praat nie. Hiklag. Hoeslag. Huillag. Skater.

Ek lag my ’n apie, ’n boggeltjie . . . ’n boggeltjie met ’n stompstertjie, ’n ertjie, ’n papie. Ek lag my gedaan, krom, siek, slap . . . ’n Mens kan stik, kruip, rol, krul, lê van die lag. Iemand wat só onbedaarlik lag, kan ’n mens maar sê, se lagsakkie het gebars. ’n Duisendpoot het hom gebyt, word gesê – na die ou volksgeloof dat as jy deur ’n duisendpoot gebyt word, jy lag tot jy daarvan sterf.

Om laggeluide te beskryf, bied die WAT die tussenwerpsels “ha”, “hè” en “hi” wat twee of drie maal herhaal of in reekse verbind word. “Hè” vir ’n huil-lag, “hi” vir ’n hoë laggeluid, “ha” vir lag uit die maag: Ha-ha-ha! Hè-hè! Hi-hi-hi! Hi! Vir ’n harde keellag is daar “ka” en “kê”.

In korpusse van geskrewe taal vind ek by vernuftige skrywers ook nog “hie” en “gie” en ander klanknabootsende vorme. Soms gekoppel, soms vas aanmekaar.

Daar is natuurlik ook die pruimmonde wat selde ’n lagspier trek, wat lag of hulle kiespyn het. Van so iemand het Eugène Marais geskryf: “Elke keer dat hy glimlag, skeur sy broek.”

  • Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.
Meer oor:  Jana Luther  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.