Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Jy glo . . . of jy glo nié’

’n Debat oor geloof en ongeloof speel in die meningsblaaie af, onder meer in ’n gesprek tussen die teoloog Frits Gaum en die ateïs George Claassen. Maar, vra Leopold Scholtz, hoe kyk ’n mens uit ’n akademies-historiese oogpunt hierna?

Die aanloop tot Christus se kruisdood is ’n geskiedenis wat uit ’n akademiese perspektief verklaar kan word. Maar hoe gemaak met die opstanding op die derde dag? Foto: Istock

In die Christelike geloof is daar één gebeurtenis wat in belangrikheid kop en skouers bo alle ander uitstaan. Dit is die – beweerde – opwekking van Jesus van Nasaret uit die dood. Die apostel Paulus het geskryf dat geloof “waardeloos” is as Jesus nie opgewek is nie (1 Kor. 15:17).

Eeue lank het Christene redeloos geglo dat die Bybel perfek en in alle opsigte waar is, en dat ook die opwekking van Jesus ’n egte historiese gebeurtenis was. Sedert die 19de eeu het geleerdes egter toenemend interne teenstrydighede in die Bybelse geskrifte ontdek, en ook vraagtekens agter die bronne wat oor Jesus se opstanding berig, begin plaas.

Nietemin moet ’n mens versigtig wees om nie outomaties na die ander uiterste (ómdat nie álles in die Bybel perfek en waar is nie, is níks in die Bybel waar nie) te beweeg nie.

Die fokus in dié artikel is uiters smal: Wat is die waarheidsgehalte van die Bybelse verhale oor Jesus se opwekking? Die soeke na ’n antwoord word hier nie uit ’n gelowige oogpunt aangepak nie, maar uit die perspektief van ’n akademiese historikus.

Die Bybel as historiese geskrif

Kom ons bekyk die geskrifte wat oor Jesus se – beweerde – opwekking uit die dood getuig aan die hand van die vereistes wat die akademies-historiese wetenskap daaraan stel.

Historiese bronne (en ek benader die Bybelse geskrifte hier dus rasioneel as menslike historiese bronne) moet aan die hand van verskeie norme getoets word.

Ten eerste is dit belangrik hoe na die bronne aan die oorspronklike beweerde gebeurtenis staan. Hoe verder verwyder, des te onbetroubaarder is hulle.

Kritiese waarnemers plaas die vier evangelies liefs so ver moontlik van die gebeurtenisse, in elk geval ná die inname van Jerusalem deur die Romeine in 70 n.C. Maar daar is aanduidings dat hulle veel vroeër geskryf is.

(Daar is ook buitebybelse bronne wat melding van die kruisiging en/of opstanding maak – Romeinse en Joodse skrywers, asook van die heel vroegste kerkvaders wat nog met ooggetuies kon praat. Maar daardie bronne is vir die historikus van uiters beperkte waarde.)

Die datum van ’n gebeurtenis wat in Handelinge genoem word, die teregstelling van Jesus se broer, Jakobus, kan aan die hand van die geskrifte van die Joodse historikus Flavius Josefus op die jaar 62 n.C. gestel word. Die skrywer van Handelinge verwys egter glad nie na die dood van twee ander swaargewigte in die vroegste kerk, die apostels Petrus en Paulus nie, ondanks die feit dat hul dood ’n skokgolf deur die Christelike gemeenskappe moes gestuur het.

Waarom? Dis logies om aan te neem dat hulle nog nie dood was toe Handelinge voltooi is nie. Aangesien die twee waarskynlik in 64 en 67 n.C. oorlede is, moet die boek tussen 62 en 64 afgerond gewees het.

Oor die volgorde van die Nuwetestamentiese geskrifte is daar taamlik konsensus: Eers Markus, dan Matteus, Lukas, Handelinge en uiteindelik Johannes. As Handelinge tussen 62 en 64 voltooi is, moet die evangelies van Markus, Matteus en Lukas êrens tussen 20 tot 30 jaar ná die kruisiging geskryf gewees het.

Dink terug: 20 tot 30 jaar gelede was 1992 tot 2002. Sommer nou die dag. Ek was toe al klaar middeljarig.

Maar daar is meer: Paulus haal ’n uitspraak aan (1 Kor. 15:3-7) wat waarskynlik die heel oudste geloofsbelydenis in die geskiedenis is. Geleerdes meen dit dateer van mínstens die eerste dekade ná die kruisiging, wat dit van enorme historiese betekenis maak.

Daarin vertel Paulus dat Jesus gekruisig, begrawe en op die derde dag opgewek is, en vermeld van verskeie geleenthede waar hy aan dissipels verskyn het, onder meer “aan vyfhonderd broers tegelyk, van wie . . . die meeste nog lewe”. Dis baie na aan die gebeurtenis.

Uiteenlopende weergawes

’n Tweede akademiese benaderingswyse is om die sterk uiteenlopende weergawes in die Bybel met mekaar te vergelyk.

Ter illustrasie: In twee van my boeke behandel ek die Slag van die Lomba (3 Oktober 1987), toe ’n eenheid van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) ’n Angolese brigade aangeval en byna uitgewis het. In die voetnote tel ek meer as 40 ooggetuieverslae, wat betreffende die detail taamlik erg verskil.

Dit kan toegeskryf word aan die feit dat sommige afkomstig is van manskappe wat net weet wat 20 m tot 30 m van hul eie posisie gebeur het, en ander van offisiere wat ’n oorkoepelende weergawe van die geveg kan gee. Maar álmal stem saam: Dit was ’n yslike SAW-oorwinning.

Ook in die Bybelse weergawes is daar groot en op die oog af onversoenlike weergawes wat die detail betref.

Maar almal is dit hiéroor eens: Jesus het aan die kruis gesterf en is begrawe, op die derde dag was die graf leeg, en verskeie getuies het ervarings gehad wat hulle toegeskryf het aan die opgestane Jesus wat aan hulle verskyn het.

As alle bronne volkome en in alle opsigte ooreenstem, kan jy maar weet: Met dié weergawes is gepeuter. Hulle is waardeloos. Dis hier nie die geval nie.

Dat daar verskille is, verhoog dus op sigself die geloofwaardigheid van die bronne.

Geloofwaardige getuies

In die derde plek kan ’n mens kyk na die geloofwaardigheid van die getuies self. Dis naamlik opvallend dat al die weergawes juis vroue bring as die heel eerste getuies van die leë graf en ’n figuur daarby (wat hulle as die opgestane Jesus identifiseer).

Dis belangrik om te weet dat vroue in die antieke Joodse samelewing beskou is as mense wat nie in staat was om die waarheid te praat nie. Enigiets wat ’n vrou getuig, moes deur ’n man bevestig word.

Dat vroue desondanks hier as die eerste en belangrikste getuies geroep word, sê dus iets. Vroue is in die antieke Joodse konteks min of meer die swakste denkbare getuies waaraan jy kan dink.

As hier sprake van bronvervalsing was, sou die skrywers waarskynlik bekende en geloofwaardige mans aangehaal het, nie vroue wat as minderwaardig en van nature leuenagtig beskou is nie.

Juis die óngeloofwaardigheid van die getuies verhoog dus die geloofwaardigheid van hul getuienis.

Die wette van die natuur

Uiteindelik stuit ’n mens egter op ’n probleem. Dit is die wette van die natuur: Dis immers fisiek en biologies onmoontlik dat iemand wat gesterf het – en dit nogal ’n buitengewoon pynlike marteldood – spontaan weer tot lewe kan kom, en dit nogal eers op die derde dag.

Hoe hanteer die akademiese historikus dít?

Daar ís geen behoorlike antwoord nie. Die historikus is nie toegerus om só iets te hanteer nie.

Hy is toegerus om rasioneel ondersoek na die betroubaarheid van die historiese bronne te doen, nie om fisieke en biologiese moontlikhede en onmoontlikhede te weeg nie.

Hier sal die akademiese historikus dus vassteek: Die bronne wat vertel van iets wat volgens die fisika en biologie onmoontlik is, is volgens alle vereistes van die historiese wetenskap in hoofsaak betroubaar.

Dis hiér waar teoloë dan oorneem. Uiteindelik gaan dit hier om iets wat hom slegs gedeeltelik leen tot rasionele beskouings.

Jy glo of jy glo nié.

Dis elkeen se keuse.

Wat my betref, ek is geneig om op grond van bostaande ondersoek wel te glo, en dus neig ek na die standpunt van Frits Gaum, eerder as na dié van George Claassen.

Dr. Scholtz is ’n geskiedkundige en onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.

Meer oor:  Frits Gaum  |  Leopold Scholtz  |  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.