Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jy is dié inligting aan jou nageslag verskuldig
Prof. Fransjohan Pretorius
Prof. Fransjohan Pretorius vroeër vanjaar afgeneem. Foto: DEAAN VIVIER

In die loop van die 20ste eeu het fotografie dramaties ontwikkel. Ook tot voordeel van die gewone geesdriftige fotograaf.

Voor die koms van die selfoon met sy kamerafasiliteit het baie mense kameras besit. Foto’s is van alles en nog wat geneem.

Vandag is dit natuurlik ’n algemene verskynsel en die selfie van jou en jou geliefde of jou en jou kleinkinders is kosbaar.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het van die Britse offisiere Kodak-kameratjies besit.

Veral die Brownie-kamera was gewild. Die resultate was nie te wonderlik nie, maar dit was darem foto’s wat herinneringe kon terugbring.

In die guerrillafase het burger J.F. Naudé die Brownie van ’n Britse offisier bekom. Daarmee het hy in die laaste maande van die oorlog waardevolle foto’s geneem, onder meer van genl. Koos de la Rey en van tant Nonnie en die kinders. Ook van die gewonde lord Methuen by Tweebosch in Maart 1902.

Dit is in sy herinneringe opgeneem, wat in 1903 as Vechten en vluchten van Beyers en Kemp “bôkant” De Wet gepubliseer is.

Ons groot afwagting is geblus toe die eerste filmpie wys dat die telefotolens wat Pa aangeskroef het, gemaak het dat al die diere se koppe afgesny was.

Treffend is ook die foto van ’n eensame De la Rey, hoog teen die rant by Doornkom, waar sy kommando’s ses dae ná die vrede hul wapens moes neerlê.

My pa was ’n roerend-geesdriftige maar hopelose fotograaf.

Voor ons wildtuinvakansie in Julie 1962 het hy opgewonde by die huis aangekom met ’n cine-kamera – ’n 8 mm (of was dit ’n 16 mm?) Revere-rolprentkamera.

Nóú gaan hy daai leeu-vangs opneem! En ons hét toe gesien hoe ’n leeuwyfie ’n spul blouwildebeeste jaag, sonder om haar prooi te vang.

Toe die films afgelewer word, kon hy nie wag om die wit skerm op te stel nie.

Ons groot afwagting is geblus toe die eerste filmpie wys dat die telefotolens wat Pa aangeskroef het, gemaak het dat al die diere se koppe afgesny was. Toe die tweede film. Pikswart.

“Ek het al gehoor hulle steel die beste films en verkoop dit oorsee”, het hy met gebelgde sekerheid verklaar.

Ma het niks gesê nie, want sy het geweet sy dom vingers haak nie altyd die film stewig aan die spoel van die kamera vas nie.

Maar nou kom die angel.

In u stoorkamer of in ’n laai is daar honderde pakkies foto’s. Sommige selfs netjies in albums ingeskuif.

Ook foto’s van voorgeslagte, die patriarg op ’n vaderstoel, sy vrou langs hom, hand op die leuning, met ’n halfdosyn kinders wat vir ’n oomblik stil gekry is.

Maar geen aanduiding van ’n naam van enige van daardie gesigte wat grootoog na die fotograaf staar nie.

“Dit moet oupa- en oumagrootjie wees, maar wanneer dit geneem is, weet ek nie,” sal iemand voorstel. Wat nog te sê van al die ander mense op die foto?

Skande.

Dus: Doen vandág nog die moeite, en kry die inligting voor een wat weet, nie meer daar is nie.

En skrýf die name, geleentheid, datum (minstens die jaartal) behoorlik agterop neer. U is dit aan u nageslag verskuldig. Naudé het dit met sý foto’s van die oorlog gedoen.

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
Meer oor:  Fotografie  |  Kamer  |  Foto's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.