Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jy is meer as jou manlikheid

Dis belangrik dat ons as Suid-Afrikaners mekaar in gesprekke moet herinner dat ons beter kan wees; meer kan wees as wat ons nou is, skryf Leslie van Rooi.

Leslie van Rooi

Oor die afgelope paar weke is Suid-Afrikaners besig om Vrouemaand te herdenk.

Dit het sy oorsprong te danke aan die optog van 9 Augustus 1956 toe vroue van verskeie agtergronde deelgeneem het aan een van die grootste optogte in ons land se geskiedenis om kapsie te maak teen die dra van pasboeke.

Hierdie gebeurtenis spoor Suid-Afrikaners steeds aan om te dink oor die regte, belewenisse en die plek van vroue in ’n oop samelewing.

In debatte oor vroueregte en vroue se ervaringe blyk dit dat mans soms voel dat ons nie mag deelneem aan dié soort gesprekke nie.

Tog word ons telkens weer nader geroep om wel ons stem te laat hoor juis omdat mans ’n rol het om te speel in wat verskeie vroue beleef as ’n bevrydingstryd – veral as dit kom by aspekte soos hoë vlakke van geweld teen vroue.

Maar as die gesprek ons insluit, hoe neem ons daaraan deel?

Tydens ’n onlangse geleentheid waar pa’s en hul seuns by een van ons universiteitskoshuise in Stellenbosch ’n naweek saam deurgebring het, het ek spesifiek hieroor gewonder.

By dié geleentheid kry pa’s en hul seuns (tussen die ouderdom van 18 en 22 jaar) die kans om mekaar in ’n lewensfase te “ontmoet” waar daaglikse interaksie dalk nie iets is wat so gereeld gebeur nie. In hierdie fase gebeur dit veral dat studente en hul ouers soms beleef dat hul leefwêrelde begin skei en dat hulle dan sukkel om mekaar “te vind”.

Daarom was die interaksie oor die naweek nogal iets spesiaals. Die behoefte vir mans en hul seuns om mekaar in ’n ander ruimte en fase te ontmoet help ons dalk ook om onder mekaar te dink oor hoe ons beter kan wees en sinvol by kan bydra tot die samelewing van ons kinders en kleinkinders.

Kom ons praat oor manlikheid

Maar vir ons om deel te neem aan groter gesprekke is dit, wat my betref, nodig vir ons as mans om oor ons manlikheid te gesels. Wat is dit nou eintlik en hoe verstaan ons dit?

Ons moet ook met mekaar gesels oor ons waardes, verstane en raamwerke en hoe ons dit na mekaar oordra (ook tussen geslagte). Dis ook belangrik dat ons mekaar moet herinner dat ons beter kan wees; meer kan wees as wat ons nou is.

Maar meer nog: As ons in die gesprekke deelneem moet ons verstaan dat ons meer as een identiteit dra. Ons is mans, maar ook meer as dit.

Ons het ’n spesifieke kulturele agtergrond, maar ons is nie vasgevang daarin nie. Ons het ’n manier van dink, doen en verstaan, maar ons kan ook aanpas, meer leer en deur ander beïnvloed word om selfs meer te wees as wat ons tans is.

Die wêreld verander gewoonlik vinniger as wat ons dink. As die geskiedenis ons een les leer, is dit om nie onkant gevang te word deur hierdie veranderinge nie. Dit is veral belangrik vir mans om die tekens van die tye te lees.

Ons kan ten beste deelneem aan gesprekke tussen mans onder mekaar en tussen vroue en mans onder omstandighede waar ons mekaar vertrou, waar ons gehoor kan word en waar ons besef dat ons kan leer.

Die naweek met die pa’s en hul seuns saam het my gehelp om te verstaan dat ons stories tog meer verweef is as wat ons dink. Ons het mekaar dus meer nodig as wat ons dink.

Ons is nie net só of net dít nie. Ons is meer as dit. En om grense oor te steek is nie tot ons nadeel nie. Dit kan ons dalk ook help om meer te wees as wat ons tans is.

Die wêreld verander gewoonlik vinniger as wat ons dink. As die geskiedenis ons een les leer, is dit om nie onkant gevang te word deur hierdie veranderinge nie. Dit is veral belangrik vir mans om die tekens van die tye te lees.

Die optog van 9 Augustus 1956 het rimpelings in ons samelewing tot gevolg gehad. Maar dit het nie onmiddellik daartoe gelei dat die paswette verander is nie.

Die geskiedenis was egter aan die kant van die protesterendes en mettertyd was daar wel ’n einde aan dié dom idee.

Suid-Afrikaners leer dus steeds die les dat ons moet bly glo dat dinge beter kan wees. As ons hierdie ideaal laat vaar, dan verloor ons die moontlikheid om ’n ander alternatief daar te stel. Daarom moet ons bly saamgesels.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Suid-Afrika  |  Geskiedenis  |  Vrouemaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.