Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jy is mos nou bevry van enige kritiese denke

Jy sê jy is bly koerante se sirkulasiesyfer daal al hoe meer. Jy sê dis hoog tyd dat koerante sluit, dat die land en die wêreld ’n beter plek sonder ons sal wees.

Jammer, ek is voorbarig, ek praat met jou, ja. Jy wat koerante en joernaliste op Facebook en ander plekke verdoem. Ons is ’n klomp oneerbare liberaliste, sê jy. Morele agtergeblewenes. Ons is glo deel van ’n komplot om ’n nuwe wêreldorde vestig.

Dana Snyman

Jy sê koerante soek net sensasie. Dit is ’n ou-ou beskuldiging, en dit kan dalk so wees, maar ek neem aan jy kyk weg wanneer jy by ’n motorongeluk verbyry. Verneuk jou buurman sy vrou, bly jy tjoepstil. En oor ons gewese president se vyf vroue het jy nog nooit ooit iets gesê nie.

“Julle is polities korrek,” sê jy ook, sonder om ooit te sê wat jy daarmee bedoel.

Politieke korrektheid het ’n soort tirannie geword, maar dikwels is jy die eerste een wat kla wanneer polities onkorrek oor jou of jou mense geskryf word. Jy wat so graag sê hierdie een of daardie een maak Afrikaners kommin. Bedoel jy met politieke korrektheid nie jy wil eintlik net hê ’n koerant moet al jou vooroordele bevestig nie? Jy wil hê ons moet net so vol vooroordele teenoor mense en groepe as jy wees: Swart mense, Chinese, gays . . .

Natuurlik doen joernaliste nie altyd alles reg nie en is die verhouding tussen ’n koerant en die politici van altyd af ’n probleem. Maar ’n koerant is verbind tot die Perskode en jy kan ’n joernalis hof toe sleep.

Jy kyk joernaliste se eerbaarheid en toewyding mis: Hoe dit gaan oor die waarheid en slegs die waarheid wanneer ’n joernalis aan ’n groot storie werk.

Jy kyk joernaliste se eerbaarheid en toewyding mis: Hoe dit gaan oor die waarheid en slegs die waarheid wanneer ’n joernalis aan ’n groot storie werk. Hoe joernaliste soms saamdra aan ander mense se sukkel en dat ons te rebels is om deur die Illuminati of wie ook al beheer te word.

PG du Plessis, wat ook koerantredakteur was, stel dit mooi. “Dit is die grootste vertroue wat jy kan hê – om iemand met jou persoonlike magteloosheid, wanneer dit kom, te kan vertrou. Dit glo ek van joernaliste,” skryf hy kort voor sy dood. “Ek sal ’n joernalis met my lewe vertrou, maar verdomp nie met môre se soberheid nie.”

Jy sê jy kry jou nuus op webwerwe en ander virtuele plekke. Ek doen dit ook, maar koop steeds die koerant. Daardie bakkieprofeet na wie se selfoonvideo’s jy graag kyk, sal nooit onthullings maak oor ANC-korrupsie en ander skandale nie, dinge wat joernaliste doen. Satire is vir hom die waarheid. Verontwaardiging sy forte. Jy vra brood en hy gee vir jou net meer klippe om ander mee te gooi, nes berigte op fopnuus-gedrewe webwerwe waar jy so graag lees.

Jy is nou vry van die kritiese denke en debat wat ’n goeie koerant aanmoedig.

En jy weet natuurlik wat het Van Wyk Louw gesê gebeur met ’n volk wat ophou om homself te bevraagteken? Jy gaan hierdie rubriek nie lees nie. Sterkte vorentoe, nietemin.

Ns: Die Jacques Pauw-debakel is hartseer. Hy het ’n fout gemaak en daarvoor om verskoning gevra. Ek is jammer vir hom en dink aan hom.

Meer oor:  Jacques Pauw-  |  Dana Snyman  |  Joernaliste  |  Persvryheid  |  Kritiese Denke  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.