Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jy is op jou eie, Amerika

Pres. Donald Trump se pogings om ’n ‘alliansie teen China’ op die been te bring, sal nooit slaag nie omdat dié land ’n sleutelrol in die wêreldekonomie speel, skryf Gert Grobler.

Illustrasie: istock

Die kortsigtige aanslag van pres. Donald Trump van Amerika en sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, teen China, is veral op die “ontkoppeling” van ekonomiese en tegnologiese bande gemik. Dit sluit in vetes oor onder meer die Suid-Chinese See, Hongkong en Taiwan.

Dit woed onverpoosd voort. Hierdie teenproduktiewe benadering van Trump, wat verreikende implikasies vir wêreldvrede en stabiliteit kan inhou, het sy oorsprong in Amerika se bekommernis oor sy kwynende invloed op internasionale politieke, ekonomie en militêre gebied.

Verder is dit ook ’n poging van Trump om met die oog op die presidentsverkiesing in November sy onbeholpe optrede ter bekamping van Covid-19 asook die rasgedrewe oproer in ’n toenemend verdeelde Amerika te verdoesel.

Ondanks die eskalerende veldtog teen China, wat ’n ferm reaksie van laasgenoemde ontlok het ten einde sy kernbelange te beskerm, bevestig China gereeld by monde van sy minister van buitelandse sake, Wang Yi, dat die land te vinde is vir “versoening”. Boonop is China bereid “om ter enige tyd en plek” konstruktiewe dialoog te hervat wat op wedersydse respek en goedertrou gegrond is.

Pres. Xi Jinping van China het ook dikwels in die verlede gesê: “Net soos China nie in isolasie kan ontwikkel nie, kan die wêreld daar buite nie vrede en welvaart ervaar sonder China nie.”

Daar is egter geen teken dat Trump se pogings om China se ekonomiese en tegnologiese vooruitgang te probeer verhinder tot ’n einde gaan kom nie.

Bande met Afrika steeds sterk

As deel van hierdie teenproduktiewe aanvalle op China, plaas Trump en Pompeo toenemend druk op die internasionale gemeenskap, veral die Europese Unie (EU) en lande soos Kanada, Brittanje, Australië en Japan, om ’n “alliansie teen China” te vorm.

Gemeet aan internasionale verwikkelinge en reaksie op Trump se aanvalle teen China die afgelope tyd, wil dit lyk asof daar nie veel van sy voorgenome “alliansie teen China” gaan kom nie.

Die vernaamste rede hiervoor is die sleutelrol wat China in die wêreldekonomie speel asook die vinnige herstel van die Chinese ekonomie wat tans reeds beduidende momentum aan wêreldwye ekonomiese groei in die toekoms verleen. China se ekonomie het in die tweede kwartaal met 3,2% gegroei en tel steeds spoed op.

Gegewe die leierskapsvakuum in die Weste en elders sal daar ook toenemend op China staatgemaak moet word wat belangrike multilaterale kwessies soos handel, klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling betref.

China bly steeds een van die leidende ondersteuners van multilateralisme en ’n versterkte wêreldorde gegrond op reëls. Dit kry wye internasionale erkenning.

Afrika is erg bekommerd oor Trump se negatiewe benadering jeens China omdat dit ’n nadelige uitwerking op dié vasteland se vooruitgang, ontwikkeling en stabiliteit kan hê.

Afrika, wat reeds swaar gebuk gaan onder die gevolge van Covid-19, het geen groot aptyt om weer in ’n “Koue Oorlog”-situasie vasgevang te wees nie. Afrika, en veral Suid Afrika, wat sterk strategiese bande met China handhaaf, is ten gunste van ’n proses wat tot die herstel van “konstruktiewe dialoog en samewerking” tussen Amerika en China sal lei. Sodanige samewerking tussen die wêreld se twee grootste ekonomieë sal gewis ’n heilsame uitwerking hê op wêreldvrede, ekonomiese groei en stabiliteit – ’n mening wat ook deur die internasionale gemeenskap gedeel word.

Dit lyk of die internasionale gemeenskap oorwegend nie bereid is om deur Trump op sleeptou geneem te word nie omdat dit eenvoudig nie in hul eie belang sal wees nie.

‘Alliansie’ het nie veel steun

Of toenadering tussen Amerika en China op kort tot mediumtermyn haalbaar is, word betwyfel aangesien China nou ’n speelbal in Amerika se interne politieke aangeleenthede geword het.

Hoewel daar allerweë verwag word dat ’n groter mate van normaliteit en gesonder verstand na die Withuis sal terugkeer indien Joe Biden die president word, is dit geen waarborg nie.

Hoe dit ook al sy, blyk dit duidelik dat die pogings van Trump om ’n “alliansie teen China” te bou geen beduidende steun het nie, soos afgelei kan word uit die volgende betekenisvolle verwikkelinge:

  • Bande tussen China en Afrika sal normaalweg voortgesit word en selfs versterk word as ’n regstreekse uitvloeisel van die konstruktiewe China/Afrika-Covid-19-beraad wat op 17 Junie vanjaar gehou is.

Trouens, die Afrika-Unie en China is tans kliphard besig met voorbereidings vir die belangrike “Forum vir China-Afrika-samewerking”, ’n beraad wat aanstaande jaar in Senegal plaasvind.

Daar is ook ooreengekom om te besin oor Afrika se voortgesette betrokkenheid by die Chinese se massiewe “Gordel-en-pad-inisiatief” – ’n multimiljarddollar- ekonomiese projek waartoe reeds meer as 80 lande in onder meer Asië, die Midde-Ooste, Europa en Afrika verbind is.

Alles dui dus daarop dat die forum in Senegal ’n beduidende hupstoot aan toekomstige samewerking tussen Afrika en China sal verleen.

  • Op die EU en China se beraad op 14 Septembe vanjaar, wat onder die leiding van kanselier Angela Merkel van Duitsland en Jinping gehou is, is die “Omvattende Strategiese Vennootskap tussen die EU en China” herbevestig.

Dit maak vir samewerking oor vrede, vooruitgang, multilateralisme en volhoubare ontwikkeling en deurlopende dialoog oor geskilpunte voorsiening.

Daar is verder ooreengekom om voorrang aan ekonomiese samewerking te gee en om die finalisering van die omvattende beleggingsooreenkoms tussen China en die EU te bespoedig, wat ekonomiese bande aansienlik sal versterk.

  • Die Vereniging van die Suidoos-Asiatiese Nasies (Asean) het insgelyks op sy beraad op 26 Junie, ondanks verskille van sommige lidlande met China oor onder meer grens-geskille in die Suid-Chinese See, voorkeur aan ’n benadering van vrede, sekerheid en stabiliteit in die streek verleen.

Asean het sy “strategiese vennootskap” met China, wat 17 jaar gelede gevorm is, met ’n sterk klem op dialoog en ekonomiese samewerking herbevestig.

  • Selfs in Japan bestaan daar, gegewe die noue verweefdheid van die twee ekonomieë, ondanks groot druk van Trump geen oorweldigende bereidwilligheid om sy ekonomie van dié van China los te maak nie.

Trouens, die twee lande se regerings werk daaraan om die staatsbesoek van Jinping aan Tokio, wat aanvanklik vir Mei beplan was, weer op dreef te kry. Sjinzo Abe, die premier van Japan, het China in 2018 besoek.

  • Op die Chinees-Arabiese ministeriële beraad op 6 Julie, waar al die lede van die Arabiese Bond teenwoordig was, is gesamentlik besluit om die goeie bestaande strategiese samewerking en vriendskap verder te versterk.

Die Arabiese state het ook hul steun aan China oor laasgenoemde se beleid jeens onder meer Hongkong en Taiwan toegesê.

  • Gedagtig aan die noodsaaklikheid om vrede en stabiliteit in die streek te bewaar, het die Chinese en Indiese ministers van buitelandse sake onlangs besluit om die grensgeskil in die Himalajas deur middel van samesprekings te ontlont.

Dit is dus duidelik uit hierdie en baie ander verwikkelinge dat Amerika homself tot ’n groot mate oor China in isolasie bevind.

‘China is meer as ’n land . . .’

Dit lyk of die internasionale gemeenskap oorwegend nie bereid is om deur Trump op sleeptou geneem te word oor ’n “alliansie teen China” nie omdat dit eenvoudig nie in hul eie belang sal wees nie.

Talle kundiges wys steeds daarop dat dit ’n onbegonne taak sal wees om die twee ekonomieë, met ’n gesamentlike waarde van $35 duisend miljard, sonder ernstige implikasies vir albei lande se ekonomieë asook dié van die wêreld van mekaar te probeer losmaak.

China se ekonomie, wat dié van Amerika ongetwyfeld oor die volgende dekade of twee sal verbysteek, is op die oomblik in ’n baie stewiger posisie. En dan praat ’n mens nie eens van die feit dat China tans die grootse houer ter wêreld van Amerikaanse skuld ($1,1 duisend miljard) is nie.

Gegewe die feit dat          die internasionale gemeenskap baie duidelik eerder ten gunste van samesprekings met China as konfrontasie is, kan dus verwag word dat China steeds toenemend internasionale aanvaarding sal vind en sy verhoudinge sal uitbou. China sal danksy sy kenmerkende tradisionele filosofiese kulturele benadering van harde werk, innovering, harmonie en vrede Amerika se sinlose aanslag met al sy uitdagings oorleef.

Henry Kissinger het by geleentheid gesê: “China is meer as ’n land, dit is ’n beskawing!”

Dié merkwaardige land is goed geposisioneer om steeds ’n noodsaaklike en konstruktiewe rol in die wêreldgebeure te speel.

  • Grobler is ’n voormalige ambassadeur en tans besoekende lektor aan die Instituut vir Afrikastudies aan die Zhejiang Normaal-Universiteit in Jinhua, China.
Meer oor:  Wêreldekonomie  |  China  |  ‘Alliansie  |  Pres. Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.