
Gerhard van Huyssteen
Varsgebek 2017 staan einde se kant toe.
En as jy jóú stem uitbring, kan jy weer groot pryse losslaan – net betyds vir die vakansie wat voorlê.
Nog nie gehoor van Varsgebek nie?
Dit is die inisiatief waar die HAT, Taalkommissie, VivA en WAT (met die ondersteuning van Afrikaans.com, die Atterbury Trust en CTexT) woorde, idiome en ander sêgoed wat nog nie in woordeboeke opgeteken is nie, insamel.
Sedert Varsgebek in 2016 in die lewe geroep is, het ons al meer as 1 500 inskrywings van oor die hele land heen ontvang.
Een van die hoogtepunte van dié jaar was die Gladgebek-inisiatief van die Kalaharisirkel van die Kaaplandse Vrouelandbouvereniging. Tannie Bessie Kriek (ja, ek mag haar maar “tannie” noem, want sy is 84 jaar oud en my ma het my goed grootgemaak) het die vroue daar in die Noord-Kaap aangevuur om streektaaluitdrukkings en -woorde in te samel.
Uit die meer as 200 inskrywings is die volgende my persoonlike gunstelinge:
- halfjan: vertaling van “half-jack”;
- koorsmooi: intensiewe vorm van “mooi”;
- hy het die ketel aan die tuit beet: hy pak ’n saak verkeerd aan;
- iemand is gekap, maar nie geskaaf nie: iemand het slegte maniere;
- ’n pondjie botter: ’n gesette persoon;
- lekker fluitvoet wees: dronk wees;
- jansmokkie: daai walgvelletjie op kookmelk of vla;
- papnekkie: pasgebore baba (ook genoem ’n “vars baba”);
- presentkind: stiefkind; en
- ostrein: span met osse.
En dís maar net ’n mondjie vol van my gunstelinge.
Die res van die inskrywings word ook aan woordeboekmakers gestuur wat dan kan oorweeg om hierdie woorde en segswyses in woordeboeke te verewig.
Boonop stap ta’ Bessie met ’n R5 000-kontantprys weg!
Maar daar is nóg prysgeld (ter waarde van R17 000) op die spel – ook vir jou as stemgeregtigde.
’n Paneel van kundiges het deur die loop van die jaar uit ál die inskrywings 20 finaliste vir ons jaareindkompetisie gekies.
Hier is die finaliste (om te sien wat hulle beteken, gaan na varsgebek.org):
Woorde
allekleurtjies
hommelmonitor
kophoedvol
kopwurm
pampoentyd
pawiljoenkar
pylvakparade
troosvoosheid
vinkkoors
voormerrie
zammaplan
Uitdrukkings
- sonder arms rondstaan;
- die bruid op elke troue en die lyk op elke begrafnis wil wees;
- so geduldig soos ’n dolos wees;
- iemand se donkie draf;
- tussen “gewond” en “gesond” verskil net een letter;
- selfs ’n klip kan dryf, selfs ’n engel kan sink;
- iemand wat reën ruik, al is daar nie wolke nie;
- so slim soos ’n boom vol uile wees; en
- jou gesig met ’n ander man se waslap was.
Om jou stem uit te bring en groot pryse los te slaan, gaan na varsgebek.org en stem voordat die stembus op Dinsdag 12 Desember 23:30 sluit.
Die wenners word op Vrydag 15 Desember op VivA se Facebook-blad aangekondig.