Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dana Snyman: ‘Jy maak liewe Jesus se hart ook baie seer ...'
Die skrywer Dana Snyman.Foto: DENVOR DE WEE

Wat hoor ek? Ek en jy moet ’n bietjie gesels. Mamma sê vir my hulle het jou fiets by die kafee gesteel . . . Nee, ek wil nie nou sulke stories hoor nie.

Hoeveel keer het Pappa nou al vir jou gesê: Jy sluit jou fiets as jy hom iewers los? Kom hier. Kom . . . Het jy nie ore nie? Ek sê: Staan op van daai bed af en kom hier. Kom . . . Moenie vir my soek nie, mannetjie. O, moenie vir jou pa vandag soek nie. Jy soek mos nou vir my. Ek sê: Kom hier . . . Nee, dit gaan nie nou help om te begin tjank nie . . .

Pappa sloof hom af by die werk om vir jou ’n nuwe fiets te koop, en jy maak nes jy wil. Dink jy geld groei op my rug, hê? Ek sê nou al vir jou: Jy kan maar vergeet van sakgeld hierdie week, en jy kry nie ’n nuwe fiets nie. Jy kan nou maar stap waar jy wil wees, want jy het mos nie ore nie. Pappa kan nie net koop en koop en koop nie. Jy smyt als weg. Het jy al daai sweetpakbaadjie gekry wat jy by die rugby vergeet het? Smyt net weg. Smyt als weg. Pappa sal mos ’n nuwe een koop.

Dis omdat jy heeldag hier op die bed lê en lees. Help nie vir Mamma in die huis nie. Wil net lê en lees. Het jy al die braaier skoongemaak soos Pappa gevra het? Nie? Hoeveel keer moet ’n mens vir jou ’n ding vra, hê? Is daai goed daar langs jou kop blompotte? Kom hier . . . Kom . . . Probeer jy jou losruk? Wat? Wat sê jy daar? Raak jy parmantig met my, hê, raak jy parmantig? Jy raak te groot vir jou skoene, mannetjie.

Buk sommer net hier. Laat ek net hierdie skoen van my . . . Ek sê: Buk. Buk!

Buk sommer net hier. Laat ek net hierdie skoen van my . . . Ek sê: Buk. Buk! Wat moet jy in die toekoms onthou? Ek sê: Wat moet jy onthou? Buk. Nee, laer. Nog . . . Ek! Moet! Onthou! . . . Buk. Ek sê buk! . . . Onthou! Om! Vir! . . . Jy kom regop. Buk! . . . Vir Pappa! Te . . . Buk! . . . Om vir Pappa te luister. Te luister! Te luister! Te luister! . . . Buk! Jy kom weer regop. Buk! . . . Luister! Luister! Luister! Luisterluisterluister! So, ja, is jy nou tevrede? Moet ’n mens altyd eers jou humeur verloor voor jy luister? Hê, my kind?

Dis nie vir jou pa lekker nie. Hier’s vir jou ’n sakdoek. Hier . . . Kom ons sit ’n bietjie hier op die bed dan gesels ons, ek en jy. Kom . . . Jy kan nou maar ophou huil, Pappa is nie meer kwaad nie. Kom sit hier by my. Nee, man, dis nie so erg nie. Ja, kom sit hier by my.

Pappa wil jou nie slaan nie, maar Pappa kan nie toelaat dat jy net maak wat jy wil nie. Jy maak Pappa en Mamma se harte baie seer as jy nie luister nie. Liewe Jesus hou ook nie daarvan as jy nie vir Pappa en Mamma luister nie. Jy maak liewe Jesus se hart ook seer . . . Kom, gee daai sakdoek hier dat Pappa daai trane afvee. Jy is mos ’n grootman, jong. Moenie huil nie . . . So, ja . . . Ja, ja, Pappa weet jy is jammer. Pappa weet jy sal nie weer nie.

Pappa is baie lief vir jou. En Mamma . . . Mamma is ook baie lief vir jou. Jy moet dit altyd weet. As Pappa nie lief was vir jou nie, sou hy jou nie geslaan het nie. Dit maak Pappa net so seer as vir jou wanneer hy jou slaan.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Herinneringe  |  Lyfstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.