Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
JZ bondgenoot vir die opposisie

Vyf jaar gelede met die vorige munisipale verkiesing het Suid-Afrikaanse opposisiepartye ’n baie belangrike bondgenoot in ANC-geledere gehad.

Sy naam was Jacob Zuma, toe nog leier van die ANC en president van die land.

Destyds het bewerings van staats­kaping reeds die nuus oorheers en tekens van wanbestuur en korrupsie was oral te sien.

Die ANC het swakker as wat verwag is in die munisipale verkiesing van 2016 gevaar en was onder meer die beheer kwyt in drie metropolitaanse gebiede – Nelson Mandelabaai, Johannesburg en Tshwane.

Die bestuur van dié metropolitaanse rade is ongelukkig vir kiesers en belastingbetalers deur onstabiele koalisies oorgeneem, met die gevolg dat die ANC in onder meer Johannesburg weer aan die bewind gekom het, met die gevolglike kommerwekkende agteruitgang van munisipale dienste.

Maar dit daar gelaat.

Gert van der Westhuizen

Ná die munisipale verkiesing van 2016 is in ANC-geledere besef dat Zuma een van die redes vir die swak vertoning by die stembus was.

Daar is ook gevrees dat die party op ’n rampspoedige vertoning in 2019 se algemene verkiesing afstuur as daar op die Zuma-trant voortgegaan word.

Dit was een van die redes waarom pres. Cyril Rampahosa Zuma in 2017 as leier van die ANC opgevolg het, skryf prof. Susan Booysen in haar nuutste boek, Precarious power: Compliance and discontent in Ramaphosa’s ANC.

Dié skuif het gewerk. Ramaphosa was gewilder as die ANC en sommige kiesers het in 2019 vir hom eerder as die party gestem en die ANC het byna 58% van kiesers se stemme getrek.

Baie kiesers moes gedink het die era van Jacob Zuma is eens en vir altyd verby.

Dit is nie.

Byna vier jaar nadat sy leierskap van die ANC tot ’n einde gekom het, word dié party steeds as gyselaar aangehou deur Zuma en sy ondersteuners. Dit lei tot uitmergelende binnegevegte wat die ANC by tye verlam.

Vir Suid-Afrikaners wat elke dag met die gevolge van swak regering te doen kry, lyk dit al hoe meer of die eenheid van die ANC vir hom veel belangriker is as die welstand van Suid-Afrika en sy mense, wat hy as regerende party veronderstel is om te dien.

Die minagting waarmee Zuma en sy ondersteuners die Grondwet en die regstelsel bejeën, lei tot verdere kommer.

Dit was naïef om te verwag dat Zuma se invloed onmiddellik sou taan as hy nie meer die leier van die ANC en die president van die land was nie – daarvoor beklee te veel van sy ondersteuners steeds invloedryke poste.

Boonop lyk dit of opposisiepartye en moedelose kiesers nie veel aan dié stand van sake kan doen nie.

Baie kiesers moes gedink het die era van Jacob Zuma is eens en vir altyd verby. Dit is nie

Vanjaar (hopelik in Augustus) sal hulle egter weer ’n kans kry om die ANC soos vyf jaar gelede by die stembus skrik te maak.

En soos in 2016 het opposisiepartye weer ’n belangrike bondgenoot in ANC-geledere.

Sy naam is Jacob Zuma, die man aan wie die ANC oënskynlik bereid is om meer tyd en energie as aan ordentlike regering te bestee.

Opposisiepartye behoort Zuma dus weer met vrug as bondgenoot in te span. Hulle sal in elk geval elke ’n bie­tjie hulp nodig hê om kiesers te oortuig dat politieke partye steeds ’n rol op plaaslike regeringsvlak te speel het.

Want teen die trant waarop mense deesdae self inspring om hul leefwêreld beter te maak, lyk dit of politieke partye op dié vlak van regering besig is om vinnig irrelevant te raak.

  •  Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.
Meer oor:  Gert Van Der Westhuizen  |  Anc  |  Opposisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.