Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dawie sê: JZ hou aan met vernietiging saai

Jacob Zuma se vertoning voor die Zondo-kommissie het Dawie gelaat met ’n diep verligting dat dié giggelende nar nie meer president is nie.

Die samesweringsteorieë, komplotte en selfopgelegde slagofferskap, verpak in ’n stotterende, eiegeregtige voordrag, is gepunktueer met die ou bekende en steeds onvanpaste gegiggel. ’n Ysingwekkende herinnering dat Suid-Afrika vir byna ’n dekade gelei is deur ’n man wat volledig onbevoeg was.

En die einste onverskilligheid waarmee Zuma die land in eiebelang geregeer het, was nogmaals te sien in sy getuienis, maar met een belangrike verskil. As president het hy nie gehuiwer om staatsinstellings in puin te lê as dit kom by die beskerming van eiebelang nie. Voor die kommissie was dit egter nie meer staatsinstellings wat Zuma in puin gelê het nie, maar die ANC self.

Dawie

En dít is presies die punt waarop baie, selfs in Zuma se eie binnekring, hulself lelik misreken het. Terwyl hulle dalk geweet het dat hy ’n uitgeslape kalant is wat in eiebelang optree, het hulle te laat besef dat hy bereid is om sy eie party in eiebelang te vernietig.

Zuma, tans ons voorste stoetmeester van sameswering, teel flink aan sy kuddetjie sondebokke. Die groeiende bundel insinuasies oor wie almal verskyn op daai effe verfrommelde papiertjie wat hy voor die Zondo-kommissie rondgeswaai het, lees al soos ’n Who’s Who van ANC-diknekke.

Intussen word feite en fiksie opgeklits in ’n mengsel waarin waarheid en waansin moeilik onderskeibaar is – een van die onderliggende kenmerke van alle klassieke samesweringsteorieë.

Ofskoon dit lagwekkend kan wees, is die moontlike effek daarvan uiters gevaarlik en potensieel vernietigend.

Dink maar terug aan die manier waarop die apartheidsregering feit en fiksie vermeng het om “die totale aanslag” aan die volk af te smeer as gesiglose vyand. En dienooreenkomstig ’n “totale strategie” geregverdig het om dié “vyand” hok te slaan.

Tóé ook, soos nou, was dit ’n bedreigde groep mense wat die blaam vir dit wat skeefloop, verskuif het na ’n “vyand” of ’n “sondebok” wat allerlei sinistere bedoelings het. Die agente van die gesiglose vyand is beskryf as buitestaanders, afvalliges, volksvreemdes; as die verraaiers en spioene. ’n Uiters komplekse toedrag is oorvereenvoudig tot ’n stryd tussen die slegte ouens en die goeie ouens.

In die proses is mense op elke terrein van die samelewing – akademici, sakemense, gemeenskapsleiers wat teen die owerheid gekant was – gebrandmerk as handpoppe wat wetend of onwetend in die totale aanslag gebruik word.

Soos in die geval van apartheid skep die vermenigvuldiging van Zuma se samesweringsteorieë en die daarmee gepaardgaande verwarring ’n politieke atmosfeer wat deurdrenk sal wees met wantroue, agterdog en paranoia waarin die demokrasie kwalik sal kan gedy.

Namate die onderlinge wantroue in ANC-geledere groei, word ’n vakuum van rasionele ontleding en kritiese ingesteldheid stelselmatig groter. En só skep Zuma-hulle self die soort teelaarde waarbinne hul eie duistere agendas algaande makliker bevorder kan word.

Dit alles laat Dawie terugdink aan daardie nat Desembernag in 2007 toe Zuma vir Thabo Mbeki by die Polokwane-konferensie uit die kussings gelig het as ANC-leier. Laatnag in die kroeg van die Holiday Inn, ironies genoeg op die hoek van Thabo Mbeki- en Paul Krugerstraat, was die bui somber onder die Mbeki-ondersteuners.

’n Verslae oudminister Kader Asmal het gestaar na die ys wat in sy Ierse dubbelwhiskey rinkel, opgekyk na twee kabinetskollegas en gesê: “Die ANC het vanaand vir altyd verander. Almal, selfs húlle wat Zuma help verkies het, gaan nog die prys betaal . . .”

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.