Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
JZ is ’n misleide ANC-projektiel

In die skemeroggend het ’n Amerikaanse vlootsoldaat ’n ketting om die standbeeld van Saddam Hoesein op die Firdaus-plein in Bagdad gespan en dit onseremonieel omgetrek.

Johann Maarman

Die kop het met die inploffing ’n entjie van die res van die standbeeld af gerol. Woedende, verdrukte Irakiërs het op die diktator se gevalle standbeeld geklim, hul skoene uitgetrek en die beeld daarmee gemoker. Om iemand met jou skoene te slaan is die ergste vorm van dis­respek in ’n Moslem-beheerde land.

In Brittanje het betogers op die begrafnisroete hul rûe op die stoet van Margaret Thatcher, die eertydse Britse premier, gedraai.

Die Ystervrou het haar soveel argwaan van politieke opponente op die hals gehaal toe sy in haar 11 jaar as Britse premier staatsentiteite geprivatiseer het, die ekonomie gede­reguleer en vakbonde se angel getrek het.

Dan was daar ook die Falkland-eiland-oorlog wat ’n kontensieuse kwessie onder die Britte was.

Dit is teen dié agtergrond dat ek sidder oor wat met Jacob Zuma kan gebeur as hy die dag nie meer president is nie.

Op Thatcher se begrafnis is plakkate met die woord “scum” rondgeswaai. Wat moontlik op protesplakkate teen Zuma kan staan, is soos die Engelse sal sê too ghastly to contemplate.

Enigiets is moontlik, want Zuma is beslis nie die gewildste en mees geliefde politikus in Suid-Afrika nie.

Gaan die standbeeld van hom daar in Groot Marico ook met kettings omgetrek word of gaan mense ook hul rûe op Zuma begin draai as hy met sy bloulig-kavalkade na sy aftreehuis in Nkandla koers kies?

Zuma is eintlik nie ’n staatsman nie, maar ’n opperste huigelaar. Nie so lank gelede nie, toe broederleier Zuma by die wapenskandaal betrek is, het hy gesê dat hy sy dag in die hof wil hê. Hy het wyd verkondig dat hy sy naam in die hof sal skoonvee. Hy wil net ’n hofdatum hê.

Maar wat gebeur toe hy sien dinge neuk maar aan sy kant om sy onskuld te bewys? Hy hardloop van hof tot hof om te keer dat hy sy dag in die hof kry. Dit het die belastingbetalers – my en jou – al R30 miljoen gekos net om te keer dat hy sy dag kry.

Nadat Zuma se appèl om die korrupsie-aanklagte teen hom te laat vaar Vrydag in die appèlhof in Bloemfontein geweier is, moet hy weet dis vyf voor 12. Die horlosie tik. Maar lyk Zuma vir jou bekommerd? Waarskynlik nie, want hy sit met ’n vervolgingsbaas wat hy self aangestel het om sy rug te krap. Zuma het die taktiese spel goed nog altyd goed gespeel. Hy plaas vir hom ’n klompie handperde in strategiese poste en hul joppie is om die wolwe van hom af weg te hou.

Zuma is – om die minste te sê – ’n misleide projektiel met ’n kragtige politieke kernplofkop. Die lesse van politieke oorlewing wat talle ander nog moet leer, het hy lankal vergeet. En 
as die ANC eerlik is, kan hy dit nie bekostig om die 2019-verkiesing met só ’n misleide projektiel tegemoet te gaan nie.

Te midde van dit alles lag die opposisie heelpad bank toe. Hulle sal altyd dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tjap met die merk dat sy Zuma se eksvrou is. En enigiets wat net na Zuma ruik, beteken punte op die telbord vir die opposisie. Iets soos dieselfde kool, dieselfde sous.

Zuma moet weet sy tyd en dié van sy juigbende is vinnig besig om ten einde te loop. Mense in die boesem van die ANC is bereid om die Zuma-pilare om te trek en dalk ook hul rûe te draai op ’n man vir wie hulle nou die dag nog bereid was om te sterf.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.