Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
JZ se tentakels strek te wyd

Die skreiende arrogansie van die ANC en sy über-alles-leier, Jacob Zuma, irriteer ’n mens grensloos. Hulle het ’n roofdier-party geword wie se aptyt vir patronaatskap en korrupsie net nie ophou nie. Geen wonder nie dat mense al begin te dink die ANC het nou meer soos ’n hiëna-familie geword.

ANC-kaders se kernmotief is groot geld, tenders, toegang tot die staatskas en swart ekonomiese bemagtigingtransaksies.

Wanneer ’n mens die ANC-elite voor die bors gryp oor tenderpreneurskap, selfverryking en korrupsie, kry hulle die ritteltits, maar pleks om te luister gaan hulle remmeloos voort om die staatskas te plunder.

Die ANC se morele kern is so van binne verrot weens korrupsie, magswellus, tweespalt en selfverryking dat die beteuterde president van hierdie land sy hart en siel verkoop oor ’n bord kerrie aan die Gupta-familie, maar hieroor swyg die ANC in duisend tale.

Nou en dan is daar darem ’n piepgeluid, maar ook daardie stemme word gesmoor.

Die ANC kry stil stuipe as hulle beskuldig word dat hulle nie kan regeer nie, maar net kan opponeer, maar dit is die reine waarheid. Dié wat in die ANC is wat kan en wil regeer, word eerder uit die ANC-huis uitgedryf. Soos wat met Pravin Gordhan gebeur het. Hy het dapper uitgepraat teen korrupsie en selfverryking. Maar hy is stilgemaak. Die interne vervolging wat die Afrika-nasionaliste in die ANC teen hom begin het, was soos ’n geval waar die bloedhonde losgemaak is om die hase in die gate te gaan soek.

Toe Zuma vandeesweek in die parlement weer gegiggel het toe die opposisie hom gelooi het oor die resessie het hy nogal verwaand geantwoord hy dink hy bestuur hierdie land goed.

Presies wat die peiling aangetoon het dat dit ’n resep is vir maatskaplike en politieke chaos.

Gedorie, in watter land leef hierdie man!

Het iemand nie die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) se jongste peiling, wat wys meer mense in Suid-Afrika ontvang welsynstoelae as wat daar mense is wat werk het, onder sy neus gestoot nie?

Kortom het die peiling uitgewys dat Suid-Afrika ’n welsynstaat is en dis ’n resep vir gewelddadige betogings.

Hoe bly jy immers tevrede as jy weet jy gaan die res van jou lewe afhanklik wees van ’n karige maatskaplike toelaag?

Die peiling se ink was nog nie eens behoorlik droog op papier nie en stakende werkers het die Bloemfonteinse stadsaal in vlamme laat opgaan.

Presies wat die peiling aangetoon het dat dit ’n resep is vir maatskaplike en politieke chaos.

Dis eintlik hartseer dat ’n gebou met soveel historiese betekenis in vlamme moes opgaan, bloot omdat ’n ANC-kader nie sy werk ordentlik gedoen het nie. Maar daar is ook ’n les in vir hierdie ontevredenes. As jy die regerende party wil straf, hoef jy nie ’n gebou af te brand nie. Jy hoef net ’n kruisie te trek vir ’n ander party as die een vir wie jy kwaad is.

’n Mens kan verstaan hoekom hulle so voel, maar dit verander nie die logika of die geldigheid van die argument dat jy nie geboue in puin hoef te lê om jou punt te maak nie.

Sonder om oneerbiedig teenoor die president te wees het hy geen greintjie integriteit meer in hom nie. Die ANC het toegelaat dat ’n man soos Zuma hulle kontamineer en vergiftig. Hulle het toegelaat dat hy sy eie mandaryne in strategiese posisies geplaas het om sy pantser in alle regeringsfere te wees.

En dis hoekom dit so moeilik is om van hom ontslae te raak, want sy tentakels strek wyd. Baie wyd.

  • Maarman is adjunkredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Menings  |  Johann Maarman  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.