Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
JZ vas: Wat nou vir SA?

Dit is ongetwyfeld ’n groot en historiese dag vir die land en die versterking van die grondwetlike demokrasie. Daaroor is daar konsensus by van die VF Plus tot die Defend Our Democracy-veldtog.

Oudpres. Jacob Zuma stap in November verlede jaar uit ’n sitting van die Zondo-kommissie. Sy weiering om weer voor die kommissie te verskyn, het hom nou 15 maande tronkstraf op die hals gehaal. Foto: GALLO

Uiteraard sal die spul om die nou veroordeelde misdadiger Jacob Zuma gal braak. En dan is daar ook die alewige ou doemprofete met hul “dit-sal-tog-nooit-gebeur-nie”-gesanik oor verskeie dinge wat ook vandag met ’n voet in die mond sit.

Dit versterk vorige uitsprake, byvoorbeeld oor Nkandla, en is ’n bevestiging van die grondwetlike oppergesag wat die konstitusionele hof handhaaf.

In die grondwetgewende vergadering van die 1994-parlement waar die finale grondwet geskryf is, was daar by heelwat ANC-politici ongemak oor die oppergesag van ’n hof. Hulle het aangevoer ’n konstitusionele hof is welkom, maar die parlement moet as afsonderlike gesag tog die laaste sê oor bepaalde sake behou.

Maar konstitusionaliste soos Pravin Gordhan en Cyril Ramaphosa het dit anders gesien en die roete na die huidige stand van sake is gevolg. Dit is ironies dat juis ’n voormalige ANC-president die eerste burger sou word wat die hof strafregtelik skuldig bevind en tot 15 maande tronkstraf vonnis.

Maar dit is geen verrassing nie dat nog ’n vals noot in gister se reaksie ook van die ANC kom. Die klomp wil die uitspraak nou eers bestudeer voordat hulle reageer, maar is minstens eerlik daaroor dat dit ’n moeilike tyd vir die ANC is. Weer ontbreek die ruggraat. Die uitspraak is ’n harde hou in die maag vir die bankrotspul. Want op kritieke oomblikke gedurende Zuma se plunderbewind het die ANC voortgegaan om hom, waar die geskiedenis in ’n ander rigting gestuur kon word, te ondersteun.

Volgens Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, is destyds gedink die toenemende berigte oor die Gupta-vergrype is “rassisties”.

Die Guptas se onbehoorlike invloed op landsake is in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) geopper, die organisasie se integriteitskommissie het sy afdanking vergeefs bepleit en ’n mosie van wantroue teen hom – geheime stemming en al – in die parlement is afgestem. Volgens Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, is destyds gedink die toenemende berigte oor die Gupta-vergrype is “rassisties”. Dis mos die verskoning vir alles wat skeefloop nadat die ANC dit self opgefoeter het.

Ook die afgelope twee jaar in Zuma se minagtende dans met die Zondo-kommissie is hy steeds met handskoene behandel, op NUK-vergaderings toegelaat en in die organisasie se binnegevegte verduur.

Die gevolge

Die uitspraak is maar net die begin van Zuma se welverdiende ellende. Hy is nou gevonnis op verreweg die mindere van sy vermeende oortredings. Die saak oor die wapenskandaal het nou eers begin en strafregtelike vervolging weens staatska­ping wag in die toekoms.

In die ANC het die meer rasionele Ramaphosa-dampkring duidelik die oorhand begin kry. Hoewel gans te stadig en sukkel-sukkel, is daar tog belangrike gevolge:

  • Die howe en ook die nasionale vervolgingsgesag is op ’n trajek wat die ANC nie meer kan beheer nie. Soos gister is die kamerade nou meermale ook maar net toeskouers.
  • Ace Magashule en kie se ontmagtiging vorder en selfverrykers loop hulle toenemend vas, maar veral ook oor wat buite die ANC gebeur weens die optrede van fluitjieblasers, die media, die burgerlike samelewing en organisasies, ander belangegroepe en regslui, van wie dapper regters nie die minste is nie.
  • Uiteindelik broodnodige ekonomiese ingryping in energieverskaffing en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) – hoe slordig ook al – om in ’n rigting te beweeg.

Maar vir Suid-Afrikaners om dit nou as rede te sien om al hul eiers in die “nuwe” ANC-mandjie te plaas, sal ’n fout wees. Positiewe ontwikkelings ten spyt is die ANC nie met die toekoms te vertrou nie.

Die historikus R.W. Johnson se naderende mislukte staat, wat nie noodwendig hier voorsien word nie, kan wel ’n werklikheid word indien die ANC se mislukte regering en basiese gebrek aan dienslewering voortduur. Die eerste simptome is daar.

In Israel het ’n koalisie van uiteenlopende partye – van linkse Palestyne tot regse Jode – in ’n regering saamgekom in die groter belang teen korrupsie.

Heelwat lesers kla reeds oor die doel daarvan om te gaan stem as die land vasgevang bly met ’n ANC-regering en opposisiepartye wat klaarblyklik sukkel om deur hul plafon te breek. Volstrekte meerderhede is wel voorheen in drie groot metro’s by die stembus verbreek en in Gauteng het die ANC net-net gewen.

Twee interessante modelle is dalk ’n uitweg. In Israel het ’n koalisie van uiteenlopende partye – van linkse Palestyne tot regse Jode – in ’n regering saamgekom in die groter belang teen korrupsie. Oorweeg vir ’n oomblik dat hier genoeg samebindende faktore vir so ’n koalisie is: die handhawing van die oppergesag van die reg, uitroei van korrupsie, kundiges en alle sektore se betrokkenheid om dienslewering te herstel, die skep van ’n kleiner, doeltreffende staatsdiens, ingryping in staatsondernemings en sterker optrede teen geweldsmisdaad.

Of die Franse model, waar beroepspolitici uitgeskop en polities onafhanklikes tot die presidentskap en parlement verkies is. Ons Kieswet laat dit ook nou toe.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Korrupsie  |  Koalisie  |  Sa  |  Demokrasie  |  Zuma-Vonnis  |  Partypolitiek  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.