Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Kaaps is sterk gemerk’

Kaaps is nie ’n kombuistaal nie. Dis nie ’n taal wat toegesmeer moet word nie. En dit is nie iets wat nié gepraat moet word “omdat dit nie mooi of reg klink nie”.

So sê prof. Charlyn Dyers, verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se departement linguistiek.

Dyers het onlangs deelgeneem aan ’n virtuele gesprek oor Kaaps wat aangebied is deur die Afrikaanse Taalraad (ATR), LitNet en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

Volgens Dyers het nuwe respek vir Kaaps ontstaan danksy verskeie simposiums wat sedert 2012 oor dié variëteit aangebied is.

Al hoe meer werk word boonop in Kaaps gepubliseer en op verskillende terreine is daar aanduidings van ’n oplewing.

Dyers is saam met prof. Frank Hendricks van die UWK se departement Afrikaans en Nederlands mederedakteurs van die boek Kaaps in fokus wat in 2016 verskyn het.

Hendricks, wat ook aan die geleentheid deelgeneem het, sê danksy taalkundige insette is daar konsensus oor die variasie, taalkundige status en talige karakter van Kaaps.

“Kaaps is nie ’n taal naas Afrikaans nie, maar word beskou as ’n variëteit van Afrikaans. Kaaps is sterk gemerk.”

Volgens Gerda Odendaal, mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, word te maklik gesê Kaaps is ’n gesproke taal wat nie kan deel vorm van die geskrewe standaard nie. Oor die jare het verskeie akademici daarop gewys dat Kaaps sy eie grammatika het.

“Kaaps is net so waardig as enige variëteit van Afrikaans,” meen Odendaal.

Volgens haar is daar die laaste jare heelwat gedoen om Kaaps sigbaarder te maak in die gedrukte en digitale media, oor die radio, op televisie en in ander publikasies.

Méér moet egter gedoen word vir Kaaps – in Kaaps.

In die klaskamer

Die stryd om Kaaps in die klaskamer toe te laat kom al ’n lang pad. Dis ’n kwessie wat tydens die gesprek ook weer belig is deur Dyers en deur Monn-Lee Geduld, ’n onderwyser van Kaapstad.

Volgens Dyers en Geduld word kinders gemarginaliseer as hulle skielik hul skoolwerk in ’n ander Afrikaans, wat as die “norm” aanvaar word, as hul moedertaal moet doen.

Geduld is oortuig daarvan dat kinders se punte sal verbeter indien hulle hul omgangstaal in die klaskamer vrylik kan praat.

Hy gebruik ’n leerling met die naam Amy as voorbeeld.

“Wanneer Amy met haar familie praat word woorde soos ‘koep’, ‘loep’ en ‘lekke’ gebruik. In die Afrikaanse klaskamer moet sy skielik ’n kopskuif na Standaardafrikaans maak. So word woorde soos ‘koep’ nou koop, ‘loep’ word loop en ‘lekke’ lekker. Dit gooi vir Amy omver.”

Dyers meen om vir kinders te sê om hul huistaal, Kaaps, by die skoolhek te los, “dra by tot ’n kultuur van stilte in die klaskamer”.

Geduld belig op sy beurt ook die ander voordele vir leerlinge om Kaaps in die klaskamer te gebruik.

“Hulle is gemaklik om te kommunikeer in hul taalklas en sal nie huiwer om mondelings te praat voor die klas nie, want dit val in hul gemaksone.

“Baie kinders sien Afrikaans as net nog ’n vak omdat hulle nie kan aanklank vind by hierdie ‘huistaal’ nie”, sê Geduld, wat oorwegend Kaaps in sy klaskamer praat.

Genl.maj. Jeremy Vearey, skrywer van Jeremy vannie Elsies, sê daar moet erkenning gegee word aan Kaaps as geldige taalvorm in skole, op tersiêre vlak, in die akademie en die uitgewerswese.

Om dít reg te kry, meen Odendaal, moet daar in gesprek getree word met beleidmakers en onderwyskundiges wat leerplanne saamstel oor die insluiting van Kaaps in die klaskamer.

Daar is ook ’n pleidooi gelewer dat kinders nie in die klaskamer benadeel mag word as hulle hulself in Kaaps uitdruk nie.

Amptelike taal?

Die sprekers kon egter nie konsensus bereik oor die kwessie of Kaaps as amptelike taal op sy eie moet staan nie.

Vearey beskou Kaaps as die stamtaal van Afrikaans en die standaardvariëteit van Afrikaans. Vir hom is Kaaps sy eerste taal, Afrikaans sy tweede en Engels sy derde taal. “Dit moet Suid-Afrika se 12de amptelike taal word as ’n waardige taalvorm,” sê Vearey.

Hy het onlangs geskiedenis gemaak toe hy die jaarlikse N.P. van Wyk Louw-gedenklesing vir die eerste keer tot nog toe in Kaaps aangebied het.

Hendricks verskil egter met Vearey oor die erkenning van Kaaps as ’n taal op sy eie en sê eenvoudig “Kaaps is deel van die Afrikaanse familie”.

Volgens Hendricks sal hy hom nooit kan vereenselwig met enige poging of beweging wat Kaaps van Afrikaans wil ontkoppel en op ’n eie spoor wil stuur nie.

“Myns insiens maak dit nie veel sin om Kaaps teenoor Standaardafrikaans op te stel nie.”

Nuwe stemme

“Kaaps word deur mense lewendig gehou,” sê Geduld.

“Mense is die hartklop van ’n taal. Hulle gee asem aan ’n taal. Mense soos Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer wat skryf in hierdie variant, hou Kaaps lewend. Dit is ook mense op die Kaapse Vlaktes en op die platteland wat dié variant aan die lewe hou omdat dit hul daaglikse omgangstaal is.”

Vearey sê hy word gereeld gevra watter voordele dit vir sprekers van Kaaps en die taalvorm self sou inhou indien méér skrywers in Kaaps sou skryf.

“Dit sal egte uiting gee aan die geskrewe stem van diegene in lewensruimtes waar Kaaps gebesig word,” verduidelik hy.

“Die belang van Kaaps se skryf of praat lê in dit wat uiting gee aan ’n gemarginaliseerde stem, wie se eie lewenswêreld verwoord en verbeeld moet word.”

Dié opmerking van Vearey sluit aan by dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, se opmerkings ter inleiding tot dié gesprek: “Kaaps en sy sprekers is histories gemarginaliseer en gestigmatiseer. Die toekoms oor Kaaps gaan in wese oor die waardigheid daarvan as die moedertaal van miljoene,” sê Steenkamp.

Dyers glo sterk die toekoms van Kaaps is blink.

“Kaaps is so dinamies en dis byna onmoontlik om te praat van die moontlike uitsterf van hierdie variant. Hy groei. Elke dag kom nuwe woorde en nuwe praktyke by.

“Dit duik op in nuwe domeine, waar jy dit nie vroeër gesien het nie. Dit is wonderlik om te sien hoe mense hul koppe oplig en sê ‘Dit is my huistaal’ en trots is daarop.”

Die barakat wat van die webinaar weggeneem kan word, is dat die toekoms van Kaaps belowend is met miljoene van sy sprekers wat nie meer huiwer om in hul moedertaal te dala nie.

Raymond Willemse
  • Willemse is hoof van Beeld se metroprojekte.
Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.