Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaaps vorder van Gamtaal tot akademie
Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Onlangs lees ek in Mail & Guardian ’n artikel deur Quentin Williams, medeprofessor in linguistiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland. As sosiolinguis ondersoek hy hoe taal in die samelewing funksioneer. Hy stel veral belang in die rol wat Kaaps, of Afrikaaps, in die gemeenskappe van die Kaapse Vlakte speel.

Dié variëteit van Afrikaans word veral onder die werkersklasmense van dié woonbuurte gepraat. Geslagte lank is dit verkleineer en bespot as ’n koddige mengelmoes, ’n substandaardtaal. Op sy ergste is dit afgemaak as Gamtaal.

Ek onthou nog die dag toe ek as laerskoollaaitie vertel het ons het geleer waar die volke van die wêreld vandaan kom. Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet, was glo die voorvaders van onderskeidelik die Asiërs, Afrikane en Europeërs, aldus Genesis 9 en 10. Meer nog, Gam se nakomelinge is vervloek om vir ewig diensknegte van sy broers se nakomelinge te wees – die berugte houtkappers en waterdraers, volgens Josua 9. My pa was ontstoke om te verneem ons word steeds sulke uitgediende, rassistiese idees in die kop geprop. Toentertyd is dit as Bybelse gronde vir apartheid beskou. Helaas ’n stigma wat lank gekleef het, onder meer in die term “Gamtaal”.

Williams se roeping is om hierdie minderwaardigheidskompleks op die Flats oor wat vir baie hul moedertaal is, te oorkom. Saam met ’n span hiphop-kunstenaars besoek hy skole om leerlinge oor Kaaps te inspireer. As linguis gaan dit vir hom oor die dekolonisering van Kaaps en die bemagtiging wat dit kan lewer.

Dié kunstenaars gebruik almal Kaaps en vermeng uiteenlopende style soos kletsrym, reggae, ghoema en selfs sakkie-sakkie.

Dié kunstenaars gebruik almal Kaaps en vermeng uiteenlopende style soos kletsrym, reggae, ghoema en selfs sakkie-sakkie. Luister na Bliksemstraal se “Kom saggies deur” en “Naby”, en Moenier Adams se “Virrie manne wat kan” en “Kaalvoetmeisie” op SoundCloud. Emile YX? vertel hoe die Khoi in 1501 ’n groep Portugese besoekers aan die Kaap op hul herrie gegee het. Die animasievideo is op sy Facebook-blad.

Blaq Pearl se aangrypende liedjie “ ’n Plekkie in die son” is op YouTube. Lees Jitsvinger se gereelde rubriek “Jitskunde” op LitNet. Met sy kletsrymvideo “Frack Attack” protesteer hy teen hidrobreking in die Karoo. Ook op YouTube.

Kenmerkend van Jitsvinger se rubrieke is dat hy Standaardafrikaans én Kaaps gebruik, na gelang van die onderwerp of doel. Dit word kodewisseling genoem. By implikasie het dié twee Afrikaanse variëteite gelyke bestaansreg, neffens mekaar.

In ’n vorige rubriek het ek oor Nathan Tran­traal se bundel Oolog geskryf. Hy sit hiermee ’n tradisie van Kaapse digkuns voort waarmee Adam Small en S.V. Petersen dekades gelede begin het. Trantraal se jongste prestasie is die vestiging van ’n meestersgraadkursus in Kaapse skryfkuns by die Rhodes-Universiteit.

Kaaps is besig om sy weggooistatus te oorkom. Sy dinamiese skeppingskrag gaan die hele Afrikaanse taalgemeenskap baat.

  • Pheiffer is mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Fred Pheiffer  |  Taal  |  Akademie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.